In Sy Krag Vandag – Monika se Verhaal

Verlede jaar was moontlik een van die moeilikste jare, en tog die mooiste jaar van my lewe tot dusver. Ek het baie gehuil en ek het net so baie gelag. Ek was gesond, maar ek was ook met tye siek. Ek was gelukkig, maar meer as dit, ek was ook hartseer. Ek het moeilike dae gehad, eintlik so moeilik dat ek met tye gedink het ek gaan dit nie maak nie.

Januarie het begin met my bedanking by my werk. Ek het vir ‘n lang tyd daaroor gedink en dit was ‘n goeie besluit. Ek het geweet dat dit moeilik sou wees, maar ek geen ander uitweg gesien as om te bedank nie. Terwyl ek alleen by die huis was, het verskeie dinge in my gedagtes opgekom. Ek was opgewonde om my vrye tyd te kon geniet en ek het ook vrees ervaar oor hoe ek gaan oorleef. Ek het angs, vrees en gevoelens van wanhoop oor wat die toekoms inhou, ervaar.

Ek het my tyd gevul met ‘n nuwe uitdaging – die skryf van ‘n blog. Uiteindelik het ek iets kreatief gehad om te doen, iets wat my kon vul en iets wat ek kon gebruik om hierdie wêreld ‘n beter plek te maak. Ek het uit my hart geskryf oor myself, oor wat ek deurgegaan het, wat ek ervaar het en oor dinge wat ek beplan. Maar binne in my, was ek steeds nie tevrede nie. Iets het steeds ontbreek.

Ek het gesmag na nog ‘n kind. Ek het elke dag tot God gebid: Here, U weet waarna ek werklik smag, wat ek die meeste nodig het. U weet hoe ek al vir jare smag na ‘n tweede kind, maar ek het net nie swanger geraak nie. Dankie vir die seun wat ek het. Ek weet dat ek so baie het om voor dankbaar te wees, en ek ís dankbaar, maar die leegheid in my hart kan soms so ondraagbaar wees.

Terwyl ek sit en bid, het ek die stemme van die kinders in die dagsorg langs ons huis gehoor. Vir die volgende paar maande kon ek nie die gedagte aan daardie kinders uit my kop uitkry nie. Ek wou nog altyd omsien na kinders, maar dit het so onmoontlik gelyk om ‘n kleuterskoolonderwyseres te word. In plaas van om die droom wat God in my hart geplaas het na te jaag, het ek vir werk in my veld, as sekretaresse, aansoek gedoen. Ek het verskeie onderhoude gehad, maar niks het gerealiseer nie. Ek was verslae, maar ek het steeds op God vertrou.

Uiteindelik, na baie maande, het God die deur vir my oopgemaak om terug te gaan universiteit toe om te studeer vir ‘n graad as ‘n onderwyseres. Na 20 jaar uit universiteit, was dit baie moeilik om weer te studeer. Ek het al my werk in verskillende kleure gemerk. Ek het alles woord vir woord gememoriseer, en tog het dit gevoel of ek niks geweet het nie. Ek het elke aand getrou klasse bygewoon, en nader en nader aan my doel beweeg. My vrees was egter steeds teenwoordig en die idee om aan die einde van my studies my prakties te doen, het by my gespook.

Toe die tyd uiteindelik aanbreek, het God my geplaas in die dagsorg langs my huis. Nou is die stemme van die kinders werklik en elkeen het ‘n naam wat ek ken. Hulle is elkeen ongelooflik. Op my eerste dag het ‘n dierbare klein dogtertjie in pienk my ‘n drukkie gegee. Na ‘n paar dae het sy my “Mamma” genoem. Mamma. Ek was so gelukkig. Ek het gevoel dat die Here my oorvloedig meer gee as wat ek voor kon gevra het.

Soos die einde van my prakties nader gekom het, het ek begin om my eindeksamens te vrees en ek was bang dat ek nie ‘n werk sal kan kry sodra ek my program voltooi het nie. Een dag het ek ‘n kennisgewing gesien vir ‘n nuwe dagsorg. Ek het hulle onmiddelik geskakel. Alhoewel ek bang was dat dit nie sou uitwerk nie. het ek ‘n stap van geloof geneem. Die dame op die foon het my gevra om die volgende dag in te kom. Ek het nog nie eers my eindeksamens geskryf nie, maar sy het my die werk aangebied. Ek het gedink ek droom; ek kon nie glo dit was werklik nie.

Ek het so baie geleer gedurende daardie maande van wag, van werk en van kyk hoe God om my onthalwe agter die skerms gewerk het. Ek het geleer om Hom te vertrou vir meer as wat ek myself kan indink. Ek het geleer om God te vertrou om vir my te sorg en te voorsien aan my diepste begeertes. Ek het geleer om te glo dat God die diepste smagtinge van my hart raaksien en hulle wil vervul. Hy het soveel meer gegee as wat ek ooit kon droom, soveel meer as wat ek ooit voor kon vra. Ek het gesmag na nog ‘n kind, Hy het vir my baie kinders gegee. Ek het gesmag na ‘n nuwe, vervullende werk, Hy het my my droomwerk met ‘n baas waarvoor ek baie lief is, gegee.

Liewe vriende, moenie bang wees vir môre nie. Wanneer ons ons sorge voor die Here neerlê, kan ons verseker wees dat Hy ons gebede sal verhoor. Glo dat Hy vir jou sal sorg. Wat dit ookal is wat God op ons pad mag bring, ons kan vertrou dat dit die beste vir ons sal wees.

Met liefde,

Monika

Slovakia

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse