In Sy Krag Vandag – Gloria se Verhaal

Ek was vir baie lank op my eie.

Ek het in 2015 begin om Love God Greatly Bybelstudies in Italiaans te vertaal. Aan die begin het ons span bestaan uit myself en ‘n ander dame en ons het saam gewerk om die studies te vertaal. In 2017 het ek my eerste Leierskap Opleiding in Dallas, Texas bygewoon, waar ek geseën is deur die ongelooflike Love God Greatly gemeenskap. Dit was so bemoedigend en opbouend om tyd saam met ons ongelooflike span deur te bring. Toe ek huis toe gegaan het was ek bemoedig en opgewonde om voort te gaan om die Love God Greatly studies in my moedertaal te vertaal.

‘n Paar maande later was dit nie meer vir die ander dame in my span moontlik om voort te gaan met die vertaling nie. Ek het met ‘n skok besef dat ek die enigste lid van die Italiaanse Vertalingspan was. Ek sou die enigste een wees wat die studies van Engels na Italiaans sou vertaal, en dit sou baie werk wees.

Ek het doelgerig gebid vir hulp met die vertalingswerk. Ek het so ‘n begeerte om te sien dat vroue God se Woord ken en verstaan en Love God Greatly was vir my so ‘n wonderlike hulpbron. Ek wou dít wat ek gevind het, deel met almal wat ek geken het. Ek het ons studies in Italiaans vertaal, maar die werk was met tye uitputtend en oorweldigend. Vir twee jaar was die enigste hulp wat ek gehad het, van my dierbare moeder, wat al die vertaalde materiaal geproeflees het.

Ongeveer ‘n jaar later het ‘n vrou my genader om die Bybelstudies te help vertaal. Ek was verheug! God het uiteindelik iemand voorsien om my te help en die bediening saam met my te behartig! ‘n Paar weke later is ek gevra om ‘n spreker by ‘n konferensie te wees. Alhoewel ek senuweeagtig en geïntimideerd gevoel het, was dit ‘n stap van geloof wat God my gevra het om te neem. Deur op Hom te steun, was ek in staat om die ongelooflike wyses te sien hoe Hy alreeds vir ‘n lang tyd gewerk het. Ek het by die konferensie gepraat oor die bediening van Love God Greatly, oor hoe God getrou was en hoe Hy besig was om in ons bediening te werk.

Na hierdie konferensie het nog vier vroue my genader om by die Love God Greatly Italiaanse span aan te sluit! Vier! In net ‘n paar weke se tyd het ons span drie maal groter geword! Dit is nie al nie. God het presies wat ons nodig gehad het, voorsien: meer vertalers en iemand om die grafiese werk vir ons span te behartig! Is dit nie presies wat God doen nie – om iets wat ons dink jare sal neem, te doen in net ‘n paar dae?

Soos ons span begin groei het, het ek ‘n jong vriendin (net 18 jaar oud) genader om deel van ons Love God Greatly span te word. Ek was huiwerig om haar vir hulp te vra, uitsluitlik as gevolg van haar ouderdom. Sy het my egter onlangs vertel dat sy al vir ‘n lang tyd gebid het dat God haar sal gebruik om sy kerk op een of ander manier te dien. God het ‘n diepe begeerte in haar hart geplant om sy koninkryk te bevorder en Hom te dien. My uitnodiging aan haar om by ons span aan te sluit het op presies die regte tyd gekom. Dit was nog ‘n herinnering van hoe God se tydsberekening perfek is. Soos ons op Hom wag, vorm Hy ons om ons voor te berei vir dít waartoe Hy ons geroep het.

Deur ‘n geloofstap te neem om oor die Love God Greatly bediening te praat, het God meer as wat ek ooit kon vra, gedoen. Vandag lei ek ‘n span van nege vrouens (wat ook met sy eie uitdagings kom!). In daardie tye van alleenheid en uitputting, is ek verseker dat God my geloof vir hierdie nuwe seisoen gebou het. Hy gebruik moeilike situasies in ons lewens om ons nader aan Hom te bring en om sy doel te bewerkstellig. Hy is altyd aan die werk.

Ek het geleer dat bedieningswerk nie ‘n wedloop is nie. Alhoewel daar ander bedienings is wat groter is of meer mense bereik, is dit nie ‘n kompetisie nie. Ons is almal op dieselfde span met dieselfde doel: om Jesus se naam bekend te maak reg oor die wêreld. Ek voel nederig oor die nuwe rol wat God my as ‘n spanleier gegee het. Ek het geleer dat dit gaan oor wat Hy doen. Ek hoef nooit op myself of my eie agenda staat te maak nie, maar ek kan Syne volkome vertrou. Selfs wanneer dit voel asof Hy my op ‘n moeilike pad neem, Hy is getrou en Hy het ‘n doel vir al die seisoene van die lewe.

Leierskap bring my tot gebed. Wanneer ek nie konstant op my knieë is in gebed as ‘n leier nie, probeer ek om goed vir God op my eie krag te doen. Om ‘n leier te wees maak mens nederig, maar na jare van op my eie wees in die bediening, het ek geleer dat ek nooit waarlik alleen is nie. God was met my toe en Hy is met my nou, en Hy help my om my span te lei en elke dag eer aan sy naam te bring.

Gloria

Italië

Jy kan aansluit by die bediening van Love God Greatly Italiaans deur vir Gloria en haar span te bid! Hul grootste gebedsversoeke is vir ‘n toegewyde bemarking spanlid en vir ‘n naweek wegbreekgeleentheid vir al nege van haar spanlede!

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse