Groot Lydensweek Dag 8: Hy het opgestaan! Hy het waarlik opgestaan!

Vandag lees ons Matteus 28. Hierdie gedeelte verduidelik, volgens Matteus, wat plaasgevind het na Jesus se opstanding.

Die gekose Skrifgedeelte vir vandag is Matteus 28 met Matteus 28:20 as ons SOAP-vers.

 

“En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.”

 

Vandag is die begin van veertig dae waarin ons die Paastyd, die opstanding van Christus, herdenk. Paasfees is nie slegs een dag nie; dit is ‘n seisoen wat strek oor die veertig dae tussen Paasfees en Pinkster. Ons herdenk hierdie veertig dae die feit dat Christus sonde en die dood oorwin het en só vir ons die ewige lewe in Hom verseker het!

Elke seisoen het ‘n ondertoon van spanning, afwagting, verwagting en werklikheid. Maak nie saak waar ek en jy onsself vandag binne hierdie spektrum bevind nie, die onderliggende stroom staan vas: totdat Jesus terugkom, sal ons almal hier ‘n bietjie onrustig wees.

Van die vreugde om Jesus te sien wonderwerke verrig tot die afgryse van sy dood deur die Romeine, was die dissipels op die emosionele mallemeule van hulle lewens.

‘n Paar dae later is hulle weer oorval deur ‘n vlaag van emosies toe hulle op die leë graf afgekom het. Sommige het geglo terwyl ander bewyse nodig gehad het, maar vreugde het hulle oorval toe hulle besef dat die dood oorwin is.

Jesus het telkens gewys wie Hy was. Sy opstanding moes geen verrassing gewees het nie; Hy het telkemale vir sy volgelinge vertel wat met Hom sou gebeur. Jesus het met sy lewe en dood getoon dat Hy inderdaad die Seun van God is.

Jesus het aangehou om sorg en medelye met sy volk te betoon. Hy het die vroue vertroos deur ‘n engel te stuur om sy opstanding aan hulle te verkondig. Hy het al sy dissipels weer na Hom getrek, die manne wat Jesus verlaat het tydens sy inhegtenisneming, ook vir Petrus wat Hom verloën het. Hy het ook seker gemaak dat die boodskap en waarheid oor sy opstanding die wêreld bereik, ook vir jou en my vandag. Ons het die voorreg om die grootste boodskap in die geskiedenis voort te dra: Jesus het waarlik opgestaan!

Veertig dae na sy opstanding het Jesus sy dissipels op ‘n bergtop versamel, sy afskeidswoorde gedeel en na die hemel opgevaar. Sommige is in aanbidding gewees terwyl ander getwyfel het. Voordat Jesus na sy regmatige plek langs die Vader teruggekeer het, het Hy vir sy dissipels ‘n belangrike opdrag gegee, een wat waarskynlik onmoontlik geklink het vir hierdie vermoeide mense. Hy het sy volgelinge beveel om die evangelie te verkondig aan ‘n wêreld wat Hom verwerp het.

“En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.” (Matteus 28:20).

Sy woorde het beslis spanning geskep by die gedagte aan die vreugdes en die komende beproewings. Gelukkig het sy teenwoordigheid deur alles bly staan. Sy teenwoordigheid is vandag steeds by ons. Hy is inderdaad met ons, ongeag wat ons in die gesig staar. In elke seisoen is Jesus by ons.

Hoe vertroos Jesus se afskeidswoorde aan sy dissipels jou vandag? Wat kan jy gedurende hierdie Paastyd doen om die opstanding van Christus te onthou en te vier?

*Uittreksels uit hierdie inhoud is oorspronklik gepubliseer in die NET ‘Love God Greatly Bible’, geskryf deur Whitney Daugherty.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

Geen Bybelstudie is gevind nie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse