Hou Niks Terug Nie

Hou Niks Terug Nie

Emily Hope

Dit lyk of een van die eerste woorde wat ‘n kind sê “myne” is. Die meeste van die tyd word dit nie vir hulle geleer nie, maar hulle leer dit blykbaar baie vinnig aan. Hoekom? Ons almal word geteister deur sonde, soos duidelik is vanaf ons vroegste dae op aarde. Ons is selfsugtige wesens. Ons wil ons goed, ons eie koninkryk, behou en opbou. Dit word nie vir ons geleer nie, maar is diepgewortel in ons menslike, sondige natuur.

Bewus van dié waarheid oor ons aard, lees ons van hierdie vrou vir wie dit klaarblyklik nie ‘n probleem was om nie net een klein dingetjie wat sy gehad het weg te gee nie, maar alles wat sy besit het. Haar offer sou haar heel waarskynlik behoeftig gelaat het, maar sy het dit nogtans gegee.

Hierdie verhaal mag ons skok. Ons mag onmiddellik aan redes dink waarom ons dit nie kan doen nie.

“Ek het ‘n motorpaaiement.”

“Ek is besig om skuld af te betaal.”

“Ons probeer spaar vir ‘n groot aankoop.”

“Ek sukkel reeds met geld. Ek kan niks anders prysgee nie. God sal dit nie van my verwag nie. Ek moet verstandig wees.”

Hoe kan ons alles weggee wat ons het? Hoe kan ons niks van God terughou nie? Dit begin met ‘n begrip van hoe diep en ver Christus gegaan het om ons vryheid van sonde te verseker sodat ons lewe in Hom kan hê. Christus het alles prysgegee wat Hy gehad het. Jesus het sy plek aan die regterhand van die Vader prysgegee om aarde toe te kom en een van ons te word. Hy het vlees geword en het al die gebrokenheid van hierdie wêreld ervaar. Hy het die lewe gelei waartoe ons nie staat is nie sodat Hy die prys kon betaal wat ons verdien om te betaal. Hy het die grootste uitruiling gedoen – sy lewe vir ons s’n.

Hierdie opoffering is nie bedoel om ons skuldig te laat voel nie, maar om ons nader aan Hom te trek. Alles wat ons het, is deur God geskenk. Niks wat ons besit is eintlik ons s’n nie. Ons kan die dinge geniet wat God vir ons gegee het vanweë Jesus se opoffering. Die oproep aan gelowiges nou is om in nederige gehoorsaamheid te leef met die wete dat ons nie vorentoe kan beweeg of enigiets kan vermag sonder Jesus nie.

Let op wat in hierdie vers gebeur. Jesus se opmerking gaan nie oor óf ‘n mens gee of nie. Die aanname is dat ons almal sal gee. Waaroor Jesus praat is die toestand van die gewer se hart. God gee die meeste om oor ons harte.

Hierdie oproep om niks terug te hou nie en in afhanklikheid van God te lewe, lê my baie na aan die hart. Terwyl ek op kweekskool was, het ek vier verskillende werke gehad om net genoeg te verdien sodat ek kon eet en vir my studies betaal. Volgens die wêreld, het ek al die reg gehad om styf vas te hou aan die geld wat ek gehad het. God het egter hierdie Skrifgedeelte gebruik om my hart te oortuig. Hier was ek op universiteit om meer oor die Skrif te leer, maar ek wou nie die eintlike opdragte nakom nie. Dus sê ek toe vir God dat ek sou weggee wat ek gehad het. Ek sou meer as die minimum gee en vertrou dat Hy sou voorsien.

Ek vertel nie hierdie verhaal om te sê, “Kyk na my” nie. Inteendeel, ek deel dit met jou om vir jou te wys dat alles wat ons het God s’n is. Hy is die een wat uiteindelik in beheer van my dae is. Ek kan op Hom vertrou om alles vir my te gee wat ek nodig het. Ek het geleer dat Hy by sy Woord hou. Het ek op ‘n wonderbaarlike wyse ‘n oorvloed geld gehad omdat ek meer gegee het? Nee, maar God het vir my presies gegee wat ek nodig gehad het, soms tot op die sent. Wat ek geleer het, is dat ek baie van die goed waaraan ek so styf vasgehou het, nie eintlik nodig gehad het nie. Solank ek ‘n verhouding met Jesus, sy Woord en sy mense het, lewe ek in oorvloed.

Waaraan hou jy vas? Miskien is dit nie geld nie, maar dalk klou jy aan jou kinders of status by mense, of jou tyd. Hoe kan ek en jy begin om ons hande oop te maak vir die Een wat alles in sy hand hou? Kom ons ondersoek ons harte gedurende hierdie Lydenstyd om te sien wat ons terughou vanaf ons Redder en dit dan gewillig vir Hom gee, nie uit verpligting nie, maar uit gehoorsaamheid en oorgawe.

 

 

Emily

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse