Ek onthou hoe ek as ‘n jong meisie Romeine 6:23 gememoriseer het. Ek het liedjies daaroor gesing, dit in ‘n handewerk omskep en dit op ‘n kleef-nota geskryf en op my muur geplak. Ek het dit nooit vergeet nie; dit het my nog altyd bygebly. Namate ek egter verstandelik en liggaamlik gegroei het, lees en memoriseer ek nie bloot meer hierdie vers nie. Dit dryf my tot ‘n opregte houding van aanbidding. Ek waardeer nou die merkwaardige skoonheid wat vervat is in hierdie Skrifgedeelte, aangetref in ‘n brief van Paulus aan die Romeinse kerk. Romeine 6:23 deel die verhaal van die Evangelie in een sin. Dit begin met die mensdom se groot behoefte en eindig met Jesus se groot opoffering, wat alle mense van oorvloedige hoop voorsien.
Eenvoudig gestel, Romeine 6:23 dra hierdie belangrike waarheid oor aan my:
Jesus het my getuienis herskryf.
Die Woord sê duidelik dat ek weens my sonde die dood verdien. Sonde – my wilsbesluit om ongehoorsaam te wees aan die God wat my geskape het – hou my gevange. Ek is magteloos daarteen. Dit op sigself is ‘n hopelose waarheid. God het my egter so lief dat Hy ‘n ander weg gevind het deur sy Seun, Jesus, te stuur om die prys vir sonde vir my te betaal. In plaas daarvan om die ewige dood vir my sonde in die gesig te staar, kan ek my geloof in Jesus plaas en vergifnis en ‘n nuwe lewe ontvang, en die ewige lewe saam met Hom tot in alle ewigheid beleef. Verder gee Jesus vir my sy krag om sonde elke dag te oorwin. Dieselfde kan waar wees vir jou – en vir elkeen wat in die naam van Jesus glo. ‘n Getuienis wat herskryf is.
Ek bely die oomblikke wat ek nie God se genadetroon genader het met volkome dankbaarheid vir sy genadige gawe van verlossing deur Jesus Christus nie. Mag ons nooit moeg word om die Here te loof vir sy verlossingswerk in ons lewens nie. Mag dit nooit iets van die verlede, oud of verouderd nie, wees nie, want Hy verdien al ons lofprysing.
My man bepeins die afgelope tyd die waarheid wat ons in Johannes 14:6 vind. Die terugkeer na die eenvoud van hierdie woorde het my hart bemoedig, want dit is so wonderlik bevrydend. Jesus sê vir ons Hy is die weg, die waarheid en die lewe. Deur Hom en Hom alleenlik kan ons na God die Vader toe gaan ten spyte van ons sonde, want Jesus bedek dit alles.
Jesus is en was nog altyd genoeg. Jesus, God as mens, het neergedaal uit die hemel na die sondige wêreld. Hy het ons plek ingeneem. Hy het die volle sondelas gedra – ons sondes en die sondes van die hele wêreld vir alle tye. Soos my predikant dit gestel het, Hy het gedoen wat ons nie kon doen nie sodat ons rein, regverdig en in ‘n regte verhouding met God kan staan.”
Danksy Jesus, is hierdie my getuienis:
Sonde het my van God geskei, maar Jesus het my gered. Ek word nie meer aan die mag van sonde onderwerp nie, maar dieselfde krag wat Jesus uit die dood opgewek het, leef binne my. Ek is regverdig, skoon en rein verklaar danksy die bloed van Jesus wat my bedek. Ek oorwin sonde daagliks omdat ek in die oorvloedige lewe en liefde van Christus staan.
Vriendin, as jy jou geloof in Jesus geplaas het, is hierdie ook jou getuienis, een van oorvloedige genade, totale verlossing en volkome oorwinning. As jy nog nie Jesus as jou Here en Verlosser ken nie, wil Hy jou op hierdie oomblik red. Sê eenvoudig vir Hom dat jy in Hom glo, bely jou sondes teenoor Hom, vra vir sy vergifnis, nooi Hom om in jou hart te kom woon en jou Here te wees, en jy sal gered word (Romeine 10:9-10).
Van dood tot lewe.
Van duisternis na lig.
Danksy Jesus, is hierdie jou getuienis.
Week 2 Uitdaging:
Identifiseer een huidige sonde waarmee jy worstel. Verbind jou daaraan toe om daagliks te bid en vra dat God jou genade en krag sal gee. Vra die Heilige Gees om jou te help om teen versoeking en sonde te veg. Reik ook uit na ‘n vertroude vriend of mentor, deel jou stryd en vra vir hul gebede en bemoediging.
Week 2 Leesplan:
Week 2 Memoriseervers: