Herken Valsheid
Mary Leslie Racine
Ek het gehoor dat die beste manier om ‘n vervalsing raak te sien, is om die regte dinge te bestudeer. Neem byvoorbeeld ‘n tien rand noot. Om te weet of ‘n tien rand noot vervals is, moet jy ‘n regte tien rand noot bestudeer. En wanneer ek sê bestudeer, bedoel ek nie dat jy net ‘n paar keer daarna moet kyk of dat iemand anders vir jou vertel hoe dit lyk nie. Ek bedoel dat jy, jy persóónlik, alles daarvan ken, die details daarvan. Dit sal jou baie tyd neem. Dan, wanneer jy goed bekend daarmee is, sal jy, wanneer jy ‘n vervalsing sien, dit dadelik kan herken, omdat jy baie duidelik weet hoe ‘n ware noot lyk.
Dieselfde konsep is van toepassing op die Woord van God. Ons moet die ware ding ken. Ons moet weet wat die Bybel sê, sodat ons enige vals inligting wat ons hoor of lees of sien, kan raaksien. Ons moet enige iets wat ons weglei van die waarheid van God se Woord en die waarheid van wie God is, kan raaksien. Net soos met die bestudering van die tien rand noot, moet dit ‘n persoonlike studie en ‘n persoonlike kennis van God se Woord wees. Dit gaan tyd neem. Ons kan nie net hier en daar ‘n paar keer daarna kyk nie, of dat iemand anders vir ons vertel wat dit sê nie, of ietwat bekend wees daarmee nie. Ons moet persoonlik weet wat dit sê sodat, wanneer valse woorde of gedagtes na ons kant toe kom, ons dit kan herken as leuens en by die waarheid bly.
Wanneer ek hieraan dink, dan lei dit daartoe dat ek myself ‘n paar vrae vra. Hoe goed ken ek die Woord van God? Hoe bekend is ek met wat die Woord van God sê? Hoe goed is ek voorberei om ‘n valsheid raak te sien? Wat is een klein stappie wat ek vandag kan neem om God se Woord beter te ken? Vir sommige kan dit wees om elke dag ‘n paar ekstra minute te neem om die Bybel te lees. Vir ander mag dit beteken om Bybelsverse te memoriseer. Ek weet nie hoe dit vir jou lyk nie, maar ek weet dat ons ons almal daaraan moet toewy om die ware ding te ken, sodat ons in staat is om enige iets vals wat na ons kant toe kom, te identifiseer.
Dit is nie ‘n kwessie dat daar valsheid daar buite is nie. Dit is in die boeke wat ons lees, die sosiale media waarna ons kyk, in podsendings waarna ons luister. Dit is orals. Die vraag is, is ek in staat om die valsheid te herken omdat ek die ware ding ken?