Herinner jouself aan wat God gedoen het
Grace Ann Hopkins
Ons weet dat daar is ‘n stryd rondom ons aan die gang is wat realiteit is, hoewel dit nie met die oog gesien kan word nie. Ons het die afgelope paar weke daaroor gelees en God gevra om ons te help om sy volle wapenrusting aan te trek sodat ons die planne van die bose kan weerstaan. Daar is ‘n stryd wat gevoer word vir ons siele en die vyand teiken ons gedagtes. Dit is waarom Romeine 12 sê dat ons verander word deur die vernuwing van ons denke. Die gedagtes van God se kinders is die gebied wat die bose van God probeer steel om ons op die pad te neem wat na die dood lei.
Ons word aangesê om nugter en wakker te wees, want die vyand van God loop rond soos ‘n brullende leeu op soek na iemand wat hy kan verslind (1 Petrus 5:8). Ons kan nie langer die waarheid ignoreer nie: die vyand se doel is om ons te vernietig (Johannes 10:10). Hy doen hom voor as ‘n engel van die lig en probeer om ons te mislei (2 Korintiërs 11:14). Dit is maklik om vasgevang te word in sy misleiding as ons nie aktief die aangesig van God soek en ons gedagtes in sy teenwoordigheid en in sy Woord vernuwe nie. Dit is so maklik om ons gedagtes van die waarheid te laat wegdwaal as ons dit nie ‘n prioriteit maak om die waarheid te ken en dit as ons eie te eis nie. Dit is waarom ons die helm van verlossing moet opsit.
Om die helm van verlossing op te sit, behels gebed. Ons moet bid vir waaksaamheid, wysheid en onderskeidingsvermoë. God is die genadige gewer van hierdie dinge wanneer ons vra en Hy word geëer deur hierdie versoeke (Jakobus 1:5). Ons moet bid dat alles van die Heilige Gees oorvloedig sal word, en dat alles wat nie van die Heilige Gees is nie, vernietig word. Ons moet in kommunikasie met God leef. Voordat Jesus na die hemel opgevaar het, het Hy vir sy dissipels gesê dat Hy sy Gees aan hulle sou gee (Johannes 14:26). Die Gees van God woon in gelowiges en dit is wat ons onderskei. Ons het Jesus in ons as ‘n konstante metgesel. Toe die duiwel in Matteus 4 Jesus versoek het, het hy die Woord van God geken net soos Jesus, maar Jesus het die Heilige Gees gehad. Ons het die Gees nodig om ons deur hierdie lewe te lei. Ons moet voortdurend met Hom kommunikeer en nooit ophou om op Hom te vertrou nie (Efesiërs 6:18).
Om die helm van verlossing op te sit, behels kennis van God en geloof in sy Woord. Ons moet voortdurend oor sy Woord peins, dit ken en dit glo. Ons moet onsself voortdurend herinner aan die verlossing wat God aan ons gegee het deur die bloed van Jesus en ons nuwe en finale identiteit as kinders van God. Ons moet in die Woord lewe. Ons word nie geroep om bloot positiewe dinge uit te dink om vir onsself te sê om “goed te voel” nie, maar om die Woord van God oor elke situasie te verkondig. Die Woord is waarheid, en waarheid bring vryheid (Johannes 8:32). Die Woord vertoon al die hemelse eienskappe waarop ons gedagtes moet rig wat in Filippense 4 genoem word. Dit is waar, edel, reg, rein, mooi, prysenswaardig, voortreflik en lofwaardig. Dit is lewend en aktief (Hebreërs 4:12). Dit word uit die mond van God gebore (2 Timoteus 3:16).
Om prakties oorwinning oor die vyand te eis, lyk so: Wanneer die vyand jou deur jou sonde probeer definieer, herinner jouself aan wat God gedoen het. Hy het jou deur sy bloed gered en jou sondes van jou verwyder (Psalm 103:12). Wanneer jy heeltemal alleen voel, herinner jouself aan wat God gedoen het. Hy het sy Seun gestuur om vir jou ‘n pad te maak om naby Hom te wees en Hy het sy Gees aan jou gegee (Johannes 14:26). Wanneer jy in nood is, herinner jouself aan wat God gedoen het. Hy het vir sy mense voorsien en sal nie ophou nie, en niks is vir Hom onmoontlik nie (Matteus 19:26). Dit is wat dit beteken om die helm van verlossing op te sit—om leuens met die waarheid van God se Woord te verslaan.
Al is daar vlammende pyle wat ons van alle kante teiken, selfs plekke wat ons nie kan sien nie, hoef ons nie te vrees nie, want die Woord sê vir ons dat Jesus die wêreld oorwin het (Johannes 16:33). Die Woord sê vir ons dat ons as gelowiges die wêreld oorwin het deur ons geloof in Jesus (1 Johannes 5:4). Die Woord sê vir ons dat God ons van alle kante omsluit (Psalm 139:5). Die Woord sê vir ons dat, aangesien ons die evangelie van verlossing ontvang het, die Heilige Gees ons verseël (Efesiërs 1:3). Ons moet in pas met die Gees loop sodat ons op die lewenspad kan stap. Ons moet Hom in alle oomblikke soek. Ons moet die kragtige Woord van God ken en dit sonder ophou oor onsself uitspreek.
Vriendin, in elke oomblik, herinner jouself wat God gedoen het. Hy het jou gered en het jou as oorwinnaar verklaar.