Gooi die Skande van Jou Af

Gooi die Skande van Jou Af

Deur Andrea / 25 Januarie 2021 / Verlos van Skande

Dawid se vroeë lewe is met soveel salwing en krag gekenmerk. Die verhale wat ons van Dawid in die Bybel lees, is legendaries – om ‘n beer en ‘n leeu met sy kaal hande dood te maak, Goliat met net ‘n klip en ‘n slinger te verslaan, om as ‘n jong herder seun tot koning van Israel gesalf te word – dit is net enkele van die hoogtepunte.

Maar toe doen David die ondenkbare. Hy het owerspel gepleeg. Daarna moord in ‘n poging om dit te verbloem. As daar ooit iemand was wat skaam moes voel, was dit Dawid. Hy het van die hoogste hoogtepunt tot die laagste laagtepunt gegaan.

Miskien kan jy jou in ’n mate hiermee vereenselwig. Wat jou verhaal ook al is, of jy nou dinge gedoen het wat soortgelyk is aan wat Dawid gedoen het, miskien dinge waarvan niemand anders weet nie, jy het die skande geken van ‘n besluit wat tot jou grootste fout gelei het.

Dawid het sy sonde probeer toesmeer, en ons doen dikwels dieselfde. God gee té veel vir ons om om ons te laat voortgaan in ‘n siklus van toesmeer, sonder om ons ‘n uitweg te gee. Skande probeer ons oortuig dat ons alleen in die put van sonde is en dat daar geen uitweg is nie. God verlos ons uit die graf en bekroon ons met liefde en ontferming (Psalm 103: 4). Wat Dawid probeer bedek het, het God in sy genade ontbloot, met die doel om Dawid met waarheid en genade te bedek.

Hy handel met ons nie volgens ons sondes nie,

vergeld ons nie vir ons ongeregtighede nie,

want so groot as die afstand tussen hemel en aarde is,

so groot is sy liefde vir dié wat Hom dien.

-Psalm 103:10-11

God hanteer ons nie volgens wat ons sondes verdien nie. Dawid het dit nie verdien om “‘n man na God se hart” genoem te word ná wat hy gedoen het nie. Ons weet daar is geen bedrog, moord, oneerlikheid of manipulasie in God se hart nie. Waarom sou God toelaat dat daar van ‘n man, wat duidelik en doelbewus op hierdie manier gesondig het, nog steeds só iets pragtigs gesê word?

Selfs ons ergste sondes kan ons nie van sy liefde skei nie. God se liefde is soos ‘n vaandel oor die hemel wat sê: “Ek het jou lief. Jy is nog steeds Myne. Wat jy gedoen het, definieër jou nie. As jy My volg, as jy met ‘n nederige en berouvolle hart kom, sal jy sien dat Ek jou nie sal verwerp nie.”

Wat Dawid ‘n man na God se hart gemaak het, was die besluit om nie meer onder die slawerny en onderdrukking van skande te bly nie, maar om weg te breek met ‘n nederige en berouvolle hart.

Die offer wat U wil hê, o God, is verootmoediging:

U sal ‘n hart vol ootmoed en berou nie gering ag nie, o God

-Psalm 51:19

Die vyand wil in die donker hoeke van ons mislukkings fluister, ‘skaam jou’, maar God se getroue liefde en genade troon in die volle daglig oor jou, terwyl Hy sê: ‘Gooi die skande van jou af.’

Weet dit: selfs uit jou grootste fout, jou donkerste geheim, die ding wat jy gedink het jou lewe met soveel skande omskryf, is God besig om jou skande af te breek en Hy het nog steeds ‘n pragtige, wonderlike doel en plan vir jou lewe. Jy is nie die skande van jou verlede nie. Gooi die skande van jou af in die naam van Jesus en wandel in die vryheid van sy vergifnis en getroue liefde vir jou.

Andrea

Week 3 Uitdaging:

Bid hierdie week en vra God om jou te help om enige iets uit jou verlede te bely en neem die genade wat Hy liefdevol uitdeel, met ope arms aan. Vra Hom om jou te help om die goeie te sien wat Hy uit jou pyn kan bring en hoe dit vir ‘n groter doel gebruik kan word. Skryf die gebed in jou joernaal neer en teken aan hoe God jou gebed verhoor.

Week 3 Leesplan:

Week 3 Memoriseervers:

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse