Goeie en Volmaakte Geskenke

Goeie en Volmaakte Geskenke

Krista Taylor

Met vyf kleintjies is ons huis omtrent vandat die wekker soggens afgaan tot slaaptyd ‘n orkaan van chaos. Daar is altyd ‘n ete om te berei, ‘n storieboek om te lees, ‘n gemors om skoon te maak, voorrade wat bestel moet word, ‘n kind om te vermaan, ‘n bakleiery om te ontlont. Dit was jare lank my droom om ‘n man en kinders te hê, en elf jaar later bevind ons onsself diep in die wel en wee van ouerskap en kinders grootmaak. Dis soos om 24/7 ‘n partytjie om ons aan die gang te hê!

Hierdie kleintjies is van die grootste geskenke wat God nog vir my gegee het. Soos die geskenke wat my seuntjie by sy verjaarsdagpartytjie oopmaak, maak hulle my baie bly! Van hulle eerste treetjies af, om te hoor “ek is lief vir jou”, om te sien hoe hulle die unieke wyse waarop God hulle gemaak het, verstaan, tot om te sien hoe hulle ander dien en goeie keuses maak wat maatjies betref – kinders is ‘n geskenk van die Here af. En geskenke is regtig goeie goed.

In Psalm 16 word ons herinner dat God die Gewer van goeie geskenke is: “U is my Here! Alle goeie dinge kry ek van U alleen” (NLV). Jakobus herhaal hierdie waarheid en stel dit só in sy Nuwe Testamentiese brief: “Elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk kom van Bo. Dit kom van die Vader wat die hemelligte geskep het” (Jakobus 1:17).

Jy het dalk nie ‘n Bybel nodig om jou te oortuig dat geskenke goed is nie. Wie hou nie daarvan om ‘n geskenk te ontvang nie? Het jy egter al ooit ‘n geskenk ontvang maar vergeet van die gewer? Gestel nou my seuntjie sou al sy maatjies se geskenke oopmaak maar dan vergeet dat sy maatjies eers na sy partytjie toe gekom het? Of as al die mense geheimsinnig verdwyn sodra hy sy geskenke oopgemaak het en hy bly alleen agter met al die blink, nuwe speelgoed om mee te speel maar daar is niemand anders by hom nie.

Jy sien, die geskenke wat ons vir mekaar gee, was nooit bedoel om ons vreugde volkome te maak nie. Dit is vervlietend, dit is vir ons gegee om ‘n rukkie te geniet. Maar dit moenie ons grootste bron van vreugde wees nie!

Waar kan ons dan diepe, blywende vreugde vind?

“U leer my hoe om te lewe. By U is daar oorvloedige blydskap. Uit u hand kom net wat mooi is” –Psalm 16:11.

Net in God se teenwoordigheid is daar oorvloedige blydskap! Teologies stem my kop en selfs my hart saam, maar om eerlik te wees, is dit nie so maklik vir ‘n ma met jong kindertjies by die huis om in te sien nie. Die praktiese aspekte van die lewe met vyf kinders wil-wil my soms oorweldig terwyl ek van een taak na die volgende skarrel, seker maak dat daar na almal se behoeftes omgesien word en langs die pad net bolangs oppervlakkige vreugde beleef.

Tog fluister God vir my, “Bedaar en erken dat Ek God is” (Psalm 46:10).

Ek moet onthou dat ek nie net “mamma” is nie, ek is ook ‘n kind. Dit is uiters noodsaaklik vir my om in ‘n posisie te wees waar ek van die Vader kan ontvang.

Watter geraas in jou lewe weerhou jou daarvan om God te hoor? Het jy iewers toegelaat dat die oppervlakkige vreugde van ‘n aardse geskenk die plek inneem van die diepe vreugde wat net die Gewer alleen kan verskaf? 

Sal jy hierdie week saam met my daardie stil plek opsoek?

In hierdie fase van die lewe leer ek weer van voor af om net in God se teenwoordigheid te wees sodat ek Hom kan hoor. Daardie stil stemmetjie; die een wat ek eenvoudig nie bokant die chaos kan hoor nie; die een wat die pad van die lewe aan my bekend maak, die Een wat my raad gee en onderrig.

As jy die laaste ruk daarmee sukkel, bid ek dat jy ook sal herontdek wat dit beteken om in die teenwoordigheid van die Here te kom. Want in sy teenwoordigheid alleen kan ons diep en blywende vreugde vind.

Week 5 Uitdaging:

Dink hierdie week oor Jakobus 1:2–4. Waarom is dit belangrik dat jy bly is wanneer jy beproewings ervaar? Is beproewings altyd bedoel om jou geloof te toets? Waarom het ons volharding nodig in ons geloofswandel?

Week 5 Leesplan:

Week 5 Memoriseervers:

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse