God se Plan In Lyding

God se Plan in Lyding

Jenna Rea

Volhard tot die Einde

Voel jy ooit dat die goddeloses voorspoedig is, terwyl die regverdiges ly? Getroue Christene wat God ken en vertrou, wat getrou aan sy opdragte wandel en wat die evangelie uitleef, ervaar steeds allerlei lyding, onreg en verlies hierdie kant van die hemel. Om die goddeloses se voorspoed en die regverdiges se lyding te sien, kan werklik ontmoedigend wees. Daniël 11:31-36 sê egter vir ons dat God nie die lyding van sy volk verspil nie. Trouens, Hy gebruik dit om in hulle ‘n groter verlange en gereedheid vir die Ewige Heerlikheid te skep.

Daniël 11-12 roep gelowiges op om geduldig te lewe en met wysheid te volhard, in die wete dat hulle eendag opgewek sal word tot die ewige lewe (Daniël 12:2). Kom ons staan vir ‘n oomblik stil by Daniël se visioen. Die meeste kommentators glo dat die koning waarvan daar in verse 31-36 gepraat word, Antiochus Epifanes (175-164 vC) is: hy wat die Jode onderdruk het; die tempel ontheilig het (Daniël 11:31); en probeer het om homself as ‘n god te verhef (Daniël 11:36). Sy tirannie en vleiery het die volk verdeel tussen diegene wat “aan die verbond ontrou is” en diegene wat “God ken” (Daniël 11:32) en vasstaan te midde van vervolging. Daar is ‘n pragtige belofte in ‘n skynbare hopelose situasie. God sal diegene wat wys is en volhard tot die einde toe louter, suiwer en rein maak!

Saam met ons in die beproewings

Die afgelope paar jaar het ek ‘n pad saam met twee vriendinne gestap; vriendinne wat met onvrugbaarheid sukkel. Sekerlik sien hulle dat die goddeloses voorspoedig is – aangesien goddelose mense kinders het, soms sonder dat hulle die kind enigsins wil hê, terwyl hierdie getroue vriendinne wag. Ek dink nie daar is ‘n meer isolerende of stille lyding as onvrugbaarheid nie. Alhoewel beide van hierdie vriendinne nie weet of die “einde” van hulle lyding hierdie kant van die hemel sal wees of eers wanneer hulle die hemel se poorte bereik nie, het ek steeds gesien hoe hulle voortbeur in getroue volharding.

Hulle getroue volharding beteken nie dat hulle altyd vir God glimlag en Hom bedank vir hoe die lyding hulle meer soos Christus laat lyk nie. Eerlikwaar, ek het al saam met hulle gesit en huil; daar is baie dae wat so swaar is en so hopeloos voel dat hulle nie seker is of hulle dit verder kan verduur nie. Terwyl ek daagliks bid dat God die lyding van my vriendinne sal verlig en vir hulle kinders sal gee, sien ek ook hoe die Here daagliks sy dogters onderhou. Ek sien hoe Hy hulle vertroos in hul hartseer en hulle hernieude hoop gee in hul toekomstige glorie. Om te sien hoe hierdie getroue susters met geduld en wysheid ly, het my geloof versterk. Daarteenoor, hoe die nie-Christen vrede maak met lyding in hierdie lewe, weet ek werklik nie.

Vir diegene wat in Christus is, ons beur vorentoe na die ewige koninkryk en ons opstanding, met die wete dat God nie die beproewinge van sy kinders ongesiens laat verby gaan nie. Nie net sien God ons beproewinge raak nie, maar Hy is saam met ons daarin.

Stabiliteit Gevind in God

Ek is gaande oor hoe Asaf in Psalm 73 worstel met die voorspoed van die goddeloses rondom hom en sê: “Want ek het die hooghartige goddeloses met afguns bejeën toe ek hulle voorspoed sien” (vers 3). Eers wanneer Asaf in die teenwoordigheid van God beweeg, is dit vir hom moontlik om die einde van die goddeloses te onderskei, naamlik dat hulle sal omkom. Dan verkondig hy sy hoop: “Al is ek afgetakel na liggaam en gees, God is my sterkte; aan Hom behoort ek vir altyd. Dié wat ver van U af is, gaan verlore, U vernietig dié wat aan U ontrou is. Maar wat my aangaan, dit is vir my goed om naby God te wees. Ek het die Here my God gekies as my toevlug! Ek sal van al u werke bly vertel” (26-28).

Here, dankie dat ons weer opgewek sal word in die ewige lewe. Dankie vir Christus wat ons hoop op opstanding is. Sal U by ons wees wanneer ons swaarkry? Sal U ons getrou hou, ons help om met wysheid en geduld te volhard? Ons verlang na die dag wanneer ons gereinig word en Christus kan aanskou. Amen.

Week 6 Uitdaging:

God roep alle gelowiges om by Hom aan te sluit op sy missie om sy koninkryk te laat groei. Bid oor maniere waarop God jou vra om ‘n stap van getrouheid te neem in jou wandel met Hom. Wees dapper en neem daardie stap! God sal jou al langs die pad bemagtig.

Week 6 Leesplan:

Week 6 Memoriseervers:

Jenna Rea

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

Word in Kennis Gestel Wanneer Nuwe Blogs Verskyn

Mees Onlangse Blogs