God se Goddelike Geskenk

Unieke Geboorteverhale

God met ons. Immanuel. Het jy al ooit diep nagedink oor die Verlosser se geboorte? Wat ‘n vreemde manier wat God gekies het om die wêreld te red.

Deur God se genade het my man en ek vyf kinders. Elke kind het ’n unieke geboorteverhaal. Party van hulle is in vreemde lande gebore. Party het vinniger as verwag gekom. Een van hulle was amper by die huis gebore! Party het ons laat skrik. Maar elke geboorteverhaal is uniek. Ek dink miskien het Jesus die mees ongelooflike geboorteverhaal van alle tye. Sy bevrugting en geboorte was ’n hemelse wonderwerk, die werk van ’n Almagtige God! Hy het nie deur menslike middele gekom om onder ons te woon nie. Dit was ’n Goddelike handeling.

Buitengewone Geloof

Vanuit ’n menslike perspektief het sy geboorte na ‘n skande gelyk. Kan jy jou indink as Maria en Josef sosiale media gehad het in daardie tyd? Hulle kondig hul verlowing aan, en almal is opgewonde vir hulle. Baie harte, “likes,” en positiewe kommentaar. Dan, uit die bloute, is Maria swanger. Op daardie punt sou sy dalk stilgebly het, geen plasings word meer gemaak nie, geen foto’s opgelaai nie. Ek kan my indink hoe Josef gevoel het; verraai en verpletter, besig om die troue in sy kop te kanselleer. Die vrou met wie hy sy lewe sou spandeer, het skielik haar beloftes aan hom verbreek en sou nou buite die huwelik ’n kind hê, en beslis nie syne nie! In die kultuur in daardie tyd was dit ‘n ongelooflik skande.

Maar God.

God het Homself aan Maria openbaar, en toe aan Josef. Die profesie wat hulle van kindsbeen af geken het, was besig om voor hul oë waar te word. Maria WAS die maagd waarvan Jesaja honderde jare tevore geprofeteer het: Die maagd sal swanger word en n seun in die wêreld bring, en sy sal Hom Immanuel noem.”

Die geloof van hierdie jong verloofde paartjie verbaas my. Hulle het God vertrou bo wat hulle oë kon sien en bo wat hulle verstand kon begryp. Hulle het geglo dat sy woorde aan hulle waar was, dat die profesie in hul lewens vervul word! Josef het geglo dat Maria se swangerskap ’n wonderwerk was, dat die kind wat sy sou baar, deur die Heilige Gees verwek is. Wat ’n buitengewone geloof!

Goddelike Verlosser

Die naam Jesus, Yeshua in Hebreeus, beteken “om te verlos, om te red.” Sy goddelike intrede in die wêreld was net ’n voorspel tot sy goddelike doel om mense van hul sondes te kom red. Deur sy rein en volmaakte lewe het Hy die grootste offer geword, die perfekte lam, om ons van die vloek van dood en sonde te red.

God werk werklik op wonderbaarlike maniere, dikwels bo wat ons verstand kan begryp. Mag ons die oë van geloof hê, soos Maria en Josef, om te vertrou dat wat Hy sê, waar is. Mag ons aan Hom vashou deur die storms van die lewe, wanneer alles onseker voel en verwarring heers. Mag ons sy beloftes glo en so naby aan Hom leef dat ons sy sagte, stil stem ken – die stem van waarheid, selfs in die storms.

Jesus, dankie dat U na ons toe gekom het om ons van ons sondes te red, dat U Immanuel, God met ons, geword het. Dankie dat U ’n sondelose lewe geleef en aan die kruis gesterf het om die prys vir ons sonde te betaal. U is werklik Yeshua, die Een wat ons van die bose verlos en ons red van ewige dood en vernietiging. Amen.

 

 

 

Krista

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

Word in Kennis Gestel Wanneer Nuwe Blogs Verskyn

Mees Onlangse Blogs