God se Getrouheid Bly
Kelli Trontel
Getrou in die Swaarkry
Ek hou van hierdie aanhaling van C.S. Lewis: “Ons kan selfs genot ignoreer. Maar pyn wil gehoor word. God fluister vir ons in ons genot, praat in ons gewete, maar skreeu in ons pyn: dit is sy megafoon om ‘n dowe wêreld wakker te maak.”
God laat ons nooit alleen in ons pyn en swaarkry nie. Ons kan vertrou dat die Almagtige God aan die werk is al kan ons dit nie sien nie, of al werk Hy op ‘n manier wat ons nooit sou verwag nie. Dit is ook waar van Daniël toe hy in die leeukuil gesit en geglo het dat God hom sou verlos. Daniël was getrou om op die Een Ware God te vertrou terwyl God getrou was aan Daniël.
Dit was nie die eerste keer dat Daniël getrou was nie. Hy het ‘n lewenswyse van getrouheid ontwikkel, wat gewortel was in sy geloof in God wat altyd getrou is. Hierdie daaglikse en oënskynlik klein oomblikke van getrouheid het Daniël voorberei op die groter oomblikke in sy lewe. Sy getrouheid was nie tevergeefs nie. Trouens, dit het die koning se aandag getrek. Ons sien hierdie nuuskierigheid selfs by koning Darius toe hy “die volgende môre vroeg toe dit lig word” opgestaan en na Daniël toe gegaan het (Daniël 6:19).
Getrou in Ons Getuienis
Ek glo dat daar selfs in die hardste harte van diegene wat die bestaan van God ontken of bevraagteken, ‘n nuuskierigheid bestaan, of hulle dit wil erken of nie. Dit is veral waar wanneer hulle die lewens van ware gelowiges sien wat blymoedig verduur en ly. Ons getrouheid is nie net belangrik in ons verhouding met Christus nie, maar ook in ons verhoudings met diegene in ons lewe. In ‘n kultuur wat van pyn wegvlug, geluk bo heiligheid verkies en gou is om die hasepad te kies as dinge moeilik raak, kan gelowiges uitstaan deur ons voorbeeld van getrouheid.
Ons is geroep om rentmeesters te wees van elke goeie en volmaakte gawe wat die Here aan ons gegee het. Ja, alles wat ek en jy besit, die klere aan ons lyf, die dak oor ons kop, kos op die tafel, geld in die bank, kinders om te liefkoos en groot te maak, vriendskappe, kerkgemeenskap, alles kom van die Here af. Hoe vaar jy met rentmeesterskap van hierdie dinge? As daar na jou lewe gekyk word, sal die wêreld van jou sê dat jy God vertrou om in al jou behoeftes te voorsien?
Getrou Deur Elke Dag
Dit is in die getrouheid van die klein, alledaagse dinge van die lewe dat ons leer hoe om getrou te wees wanneer die groot oomblikke van die lewe aanbreek. God verkwis nooit enige deel van ons lewe nie. Hy het ‘n doel met alles, en dit is sodat Hy uiteindelik verheerlik sal word.
Ek het keer op keer beleef hoe die Here Homself in my pyn en swaarkry openbaar. In hierdie seisoene moet ek vasklou aan die waarheid oor wie God is. Ek moet myself herinner aan sy getrouheid in die verlede deur my lewe: in die klein én die groot dinge. God se karakter verander nooit nie, en daarom kan ek vertrou dat Hy sal voorsien en by my sal wees, maak nie saak wat nie. Ek kan onthou dat:
Hy ons God van vrede is.
Ons trooster.
Ons hoop.
Hy kom tot sy volk se redding.
As jy oor die waarheid mediteer, kan dit jou help om uit en aan te hou. Solank jy nog asem in jou longe het, is Hy steeds besig om jou verhaal te skryf, en het jy ‘n verhaal om te vertel.
Getrou met Ons Verhale
Baiekeer smag ons na makliker of beter dae, of wag ons dat ‘n seisoen toegedraai en met ‘n mooi strik versier moet wees voordat ons getrou probeer wees. As jy dink jy sal God liewer hê, Hom meer dien, meer vir Hom gee as die lewe “beter” of “veiliger” is …. verrassing! Dit gaan nie gebeur nie. As ons Hom nie nou kan liefhê of met die min of swaar kan dien nie, waarborg ek jou dat dit baie moeiliker gaan wees as jy ‘n oorvloed het (Lukas 16:10).
Ons het ‘n verantwoordelikheid om getrou te wees met ons verhaal. Toe ek deur ‘n egskeiding gegaan het, was daar soveel swaarkry en skaamte dat ek liewer wou stilbly. My verhaal het vir my soos ‘n mislukking gelyk, en dit het soms gevoel asof my lewe vir God ‘n teleurstelling was. Hoe kon Hy in die totale gemors van my lewe verheerlik word?
Daarom het ek besluit om my verhaal soos dit ontvou het, te vertel. Ek het nie gewag totdat ek die Here se getrouheid gesien het nie, maar ek het vertrou dat Hy getrou sou wees. God is wie Hy sê Hy is. Hy doen wat Hy sê Hy gaan doen. Ek het besluit om mense langs die pad in te laat terwyl Hy ‘n pragtige verhaal vanuit die stof geskryf het.
Ons het ‘n geleentheid, selfs in moeilike tye, om na die Getroue te wys en self getrou te wees. Ons weet dat die Heilige Gees in ons as gelowiges woon. Hy is die een wat ons die krag gee om elke dag te kies om getrou te bly. Daar is nou mense in jou lewe wat desperaat wil weet waar hulle hoop kan kry. Ons is almal hierdie afgelope paar jaar klappe toegedien en platgeslaan. Hierdie wêreld is nie ons tuiste nie en dit voel deesdae beslis al hoe minder soos ‘n tuiste. Jou getrouheid wys hulle na die enigste Een wat waardig is en wat lewe, vryheid en vreugde bied.
Pyn is ‘n mikrofoon, en die wêreld kyk of ons gaan vou of vashou aan wie ons Getrou noem. Kom ons help om ‘n dowe wêreld wakker te maak.