God is Ons Bron

God is Ons Bron

Andrea Howey

In Lukas 12:29-32 sê Jesus vir sy dissipels: “Julle moet julle ook nie gedurig afvra wat julle gaan eet of drink nie, en julle moenie besorg wees nie. Dit is alles dinge waaroor die ongelowiges in die wêreld begaan is, maar julle het ‘n Vader wat weet dat julle dit nodig het. Beywer julle vir sy koninkryk, dan sal Hy julle ook hierdie dinge gee. Moenie bang wees nie, klein kuddetjie, want dit was die wil van julle Vader om die koninkryk aan julle te gee.”

Net voor ek gaan sit het om hierdie blog te skryf, was ek besig om ‘n kruidenierslys te maak van ‘n paar items wat ek gaan nodig hê vir die week wat voorlê. Die belangrikste item op my lys? Dik room vir my koffie. Daardie heerlike skeppie room in my koffie is ‘n klein bederfie in my lewe waarna ek soggens regtig uitsien. Toe ek dit by my inkopiemandjie voeg, was ek geskok om te sien hoeveel die prys oor die afgelope paar maande opgegaan het. Vir ‘n oomblik het ek aan die dink geraak hoe die stygende pryse nie net my oggendkoffieroetine nie, maar my in baie ander opsigte gaan raak. Toe ek my kom kry, het ‘n groeiende onrus oor al my lewensbehoeftes met my op loop gegaan.   

Wanneer God vir ons sê ons moet ons nie kwel oor wat ons gaan eet of drink nie, en ons eerder beywer vir sy koninkryk, maak Hy nie die mees basiese en fundamentele behoeftes in ons lewens as onbenullig af of sê ons moet daardie behoeftes ignoreer nie. God wil hê ons moet op Hom konsentreer en leer om na Hom as ons Bron en Voorsiener te gaan. Diegene wat nie God se weë ken nie, kan nie anders as om met inspanning te probeer en kla oor die stand van hulle behoeftes nie. Maar ons wat weet wie God is en hoe Hy werk, weet dat ons Hom volkome kan vertrou met elke behoefte waarvoor ons te staan kom.

Terwyl die wêreld hulle inspan en dag vir dag angstiger raak, wil God hê ons moet weet dat Hy diep-diep vir ons, sy geliefde kinders, omgee. Die wêreld mag dalk al hoe meer gespanne raak oor die prys van brood en melk maar ons hoef nie net so paniekerig te raak nie. God weet ons het dieselfde behoeftes. En Hy het ons nie misgekyk of in die steek gelaat nie. Hy wil egter hê ons moet ons harte anders as die wêreld instel en koninkryksbeginsels toepas: om op die Here te vertrou, sy geregtigheid te soek, gehoorsaam te wees aan sy Woord, vrygewig te wees met ons lewens en hulpbronne, die evangelie te verkondig, en deur geloof te wandel. Wanneer ons dit doen, leer ons wie ons Bron is en sal ons weet Hy sal voorsien.

Ek onthou nog ‘n verhaal wat my ouma my vertel het van toe sy ‘n dogtertjie was. Haar pa was ‘n jong leraar op ‘n klein plattelandse dorpie in Oklahoma in die 1930’s. Hulle het baie min besit en die kerk se salaris was skaars genoeg om hulle rekeninge te betaal en elke week kos op die tafel te sit. Die meeste van die gesinne in hulle plattelandse gemeentetjie was waarskynlik tydens die Groot Depressie in dieselfde bootjie. Maar hulle het die Here vertrou en Hom getrou gedien.

My ouma het my van een spesifieke herinnering vertel. ‘n Fout het ingesluip en die diakens by die kerk, onder die indruk dat een van die ander kerkleiers dit hanteer het, het eenkeer vergeet om haar pa te betaal. Soos die dae aangestap het, het my ouma onthou, was daar uiteindelik niks kos oor om te eet nie en ook nie geld om kos te koop nie. Haar ouers het nie eintlik mooi geweet hoe om die situasie te hanteer nie en die beste ding wat hulle toe kon doen, was om te bid. Die gesin het in die woonkamer bymekaargekom en gebid dat God ‘n antwoord sou stuur en hulle het geglo dat Hy sou voorsien.    

Net ‘n paar uur later was daar ‘n klop aan hul deur. ‘n Boer, een van die diakens in hulle kerk, het op hulle stoep gestaan. Hy het my oupagrootjie vertel dat hy besig was om sy lande te ploeg toe die Heilige Gees hom aan my oupagrootjie laat dink het. Hy kon nie die gedagte aan hom afgeskud kry nie, los toe sy ploeg en gaan dorp toe na die leraar se huis. Hulle kon toe vertel van die nood en die kerk kon die saak regstel.

Daardie ervaring het my ouma so duidelik herinner en was vir ander ‘n getuienis dat God ‘n deernisvolle, goeie Vader is wat baie deeglik van ons daaglikse behoeftes bewus is. Psalm 37:3-5 herinner ons dat wanneer ons die dinge van God nastreef, wanneer ons ons in die Here verlustig en op Hom vertrou, sal Hy ons gebede verhoor en in ons belang optree. Verder aan in dieselfde hoofstuk, staan daar in Psalm 37:25: “Ek was jonk en ek het oud geword, maar nooit het ek ‘n regverdige verlate gesien of dat sy nageslag brood soek nie.”

Net soos God vir my ouma as dogtertjie voorsien het en vandag vir ons sorg as ons Hom vertrou, na Hom opsien en in sy weë wandel, sal Hy in ons behoeftes en meer voorsien. Hy is getrou aan sy Woord en sy beloftes. Hy is nie ‘n djin of towerfee aan wie ons kan voorskryf nie; Hy is ‘n soewereine God. Maar Hy is ook ‘n goeie Vader en as ons weet hoe om op sy Woord te staan, op sy beloftes te steun, Hom te vertrou en Hom in ons lewens na te volg, sal ons ontdek dat sy getrouheid nooit ophou nie. Wanneer ons vertrou dat God ons Bron en Voorsiener sal wees, put ons uit ‘n kragtige bron waarvan die wêreld geen begrip het nie.   

Vandag, in plaas daarvan om al hoe meer besorgd te raak oor die behoeftes wat ons in die gesig staar, laat ons eerder onthou van God se getrouheid oor die geslagte heen. As daar ‘n groot behoefte in jou lewe is, vertrou dat Hy sien, Hy ken en dat Hy omgee.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse