God is in Staat

God is in Staat

Katie Shott

God Alleen is Waardig

Ek wonder of jy, soos ek, ‘n gunsteling boek, fliek of plek het wat net ‘n bietjie meer betekenisvol vir jou is as enige ander? Wat die Ou Testament betref, is die storie van Sadrag, Mesag, Abednego en die vuuroond, wat ons lees in Daniël 3, my heel gunsteling Bybelse verhaal.

Ek is mal oor wat ons sien van wie God is soos die storie ontvou. Nie net is Hy die Almagtige Een wat sy volk red en verlos nie, maar Hy is ook die God wat alleen waardig is van ons aanbidding, vertroue en gehoorsaamheid, ongeag die omstandighede.

Dit maak nie saak hoeveel keer ek al hierdie gedeelte gelees het nie, God, deur sy Gees, praat altyd met my en bring moed, vertroosting en uitdaging. Ek vra Hom dus om uit genade dit opnuut vir ons vandag te doen soos ons saam hierdie dinge oordink.

God Alleen is God

Uit ons studies van die eerste twee hoofstukke van die boek Daniël, ken ons die agtergrond van die verhaal en die geografiese, kulturele en geestelike konteks waarin Daniël en sy drie vriende hulself bevind het – met ‘n lewe as balllinge in Babilon, wat nie hul tuiste was nie.

Die uitdagings wat hul beleef het, kan net so maklik nou, eeue later, op ons van toepassing wees, met die wêreld wat poog om ons in sy raamwerk te forseer en die versoeking wat ons harte en gedagtes belas om ander dinge te aanbid. Die onwrikbare vertroue, standvastige gehoorsaamheid en absolute oortuiging van die karakter en krag van God wat vir ons deur die lewens van Sadrag, Mesag en Abednego gedemonstreer word, mag dalk net die aanmoediging en uitdaging wees wat ons elkeen nodig het in welke situasie ons tans is.

Die negentig voet hoë, negentig voet wye goue beeld wat Koning Nebudkadnesar laat maak het, was ‘n treffende illustrasie en herinnering van die geweldige mag wat hy, menslik gesproke, in daardie tyd gehad het. Die druk om toe te gee en voor die beeld neer te buig en dit te aanbid, sou enorm wees. Maar ons drie vriende in hierdie verhaal het God se Woord geken, wat hul verbied het om enige ander gode as Hy te hê, en ook enige ander beeld of afbeelding te aanbid. (Eksodus 20).

Sadrag, Mesag en Abednego het geglo dat dit veel belangriker was om in gehoorsaamheid aan die Enigste Ware God te lewe, selfs al sou hul besluit om standvastig te bly hul laat uitstaan en dus hul lewens in gevaar stel.

God Alleen Onderhou

Dieselfde druk, bedreiging, gevaar en duur koste word deur meer as 365 miljoen van ons vervolgde broers en susters regoor die wêreld ervaar. Hul leef in lande waar dit tot gevangenskap, gruwelike geweld, verwerping deur familie en die samelewing of selfs die dood kan lei om Jesus te volg.

Ek het al die groot voorreg gehad om van die mees moedige gelowiges van aangesig tot aangesig te ontmoet wat verskriklike beproewinge verduur het omdat hulle geweier het om hul geloof prys te gee. Hulle innige liefde vir Jesus is aansteeklik en hul skyn helder met die getuienis van God se getrouheid aan hulle in hul donkerste tye. Hulle is getuies van die nabyheid van Jesus in die vuuroond van beproewing en lyding.

Kom ons word vir ‘n oomblik stil en dra almal op wat vandag vervolging in die gesig staar – dat hul die moed en deursettingsvermoë sal hê om vas te staan, die bemoedigende versekering sal ken van God met hulle en die oortuiging sal hê dat niks, absoluut niks, hul van die liefde van God in Christus Jesus kan skei nie.

Ook vir Sadrag, Mesag en Abednego was die gevaar ‘n werklikheid. Dit was geensins ‘n leë dreigement wat Koning Nebukadneser uitgereik het toe hy die doodsvonnis aangekondig het vir die verontagsaming van die bevel om neer te buig en die magtige goue standbeeld te aanbid wanneer die musiek gespeel het nie.

Die oond was vurig, en dit was dodelik. Let egter op die vasbeslote antwoord van hierdie goddelike mans van die Koning, toe hul geroep is en ondervra is oor hul verset teen die bevel:

“Ons het ons God vir wie ons dien. Hy het die mag om ons te red uit die brandende oond, en Hy sal ons ook red uit u mag. Selfs as Hy dit nie doen nie, moet u weet dat ons u god nie sal dien nie, die goue beeld wat u laat oprig het, nie sal aanbid nie.” Daniel 3:17-18

Hierdie onwrikbare geloof en vasberadenheid om nie toe te gee nie, het nie bloot na vore gekom toe hul gehoorsaamheid uitgedaag is nie! Inteendeel, dit is ontwikkel, getoets en het mettertyd gegroei in die daaglikse keuses en besluite wat hul reeds uitgeoefen het om God eerste te stel.

Wat ‘n les lê daar nie vir ons hierin nie. In ‘n wêreld wat nie ons tuiste is nie, bevind ons onsself in ‘n kultuur wat wil hê dat ons moet inpas en aanpas by sy standaarde en waardes, om onsself eerste te stel, waarde en identiteit in ons loopbaan, bankrekening of ons beeld te vind. Ons ervaar voortdurend druk van buite af sowel as ‘n innerlike stryd oor ons hartspassies, hoe ons ons tyd prioritiseer, waaraan ons ons lewens bestee.

God Alleen is Getrou

Miskien is dit vandag ‘n oproep om terug te keer na ons eerste liefde en begeerte om Hom alleenlik te aanbid, met ons hele lewe. Of dalk wil God se Gees jou versterk met die wete dat Hy oneindig meer kan doen was wat jy kan vra of dink. Dus, hou aan om te vertrou en te bid, selfs al het jy nog nie God se antwoord gesien nie, die deurbraak nog nie gekom nie of die las te groot lyk.

Glo dat die waarheid van God se karakter groter is as enigiets waardeur jy vandag mag gaan. Hy is Soewerein. Magtig. Wys. Goed. Liefdevol. Goedgesind.

Die grootste geloofsuitdaging vir my in hierdie Skrifgedeelte is nie wanneer Sadrag, Mesag en Abednego verklaar dat hulle glo dat God in staat is om hul te red en te verlos nie. Dit is eerder in die “indien nie.” Hul het steeds vertrou ongeag die uitkoms.

Daar is ‘n uitdaging vir elke gelowige. Ons moet besluit dat selfs as God nie antwoord soos ons hoop nie, die genesing bring waarvoor ons wens nie of die verhouding herstel wat so seer maak nie, Hy waardig bly van ons aanbidding en toewyding op grond van wie Hy is en nie vir wat Hy vir ons doen of nie doen nie.

Daar is al gesê dat wat ons glo bepaal hoe ons optree. Mag ons standvastige geloof in God se heerskappy, sy goedheid, sy perfekte tydsberekening en die vertroosting dat Hy saam met ons in elke beproewing staan, ons geloof versterk sodat ons Hom daagliks beter wil leer ken, en Hom meer sal vertrou en liefhê.

Om soos Jesus te wees – mag dit ons begeerte wees.

Week 3 Uitdaging:

Neem beplande tyd hierdie week om God te aanbid. Sit alle afleidings weg sodat jy op Hom alleen kan fokus. Jy kan gaan stap. Jy kon na aanbiddingsmusiek luister. Jy kan tyd spandeer om jou gebede uit te skryf. Wat dit ook al mag wees, vind stilte om God te loof vir wie Hy is en wat Hy in jou lewe en in die lewens van diegene rondom jou gedoen het.

Week 3 Leesplan:

Week 3 Memoriseervers:

Katie

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

Word in Kennis Gestel Wanneer Nuwe Blogs Verskyn

Mees Onlangse Blogs