Gewapen met die Waarheid
Julie McIlhatton
Toe ek jonger was, het ek en my sussie ‘n werkie gekry: ons moes in ‘n gaping in die heining staan. Maklik. Intussen het die res van die familie in die veld rond gehardloop terwyl hulle probeer het om ‘n baie groot, ongelooflike kwaai bul in ‘n hok te kry, sodat hy gespuit kon word. Die bul het die vorige dag ook ‘n inspuiting gekry, so hy het geweet wat op hom wag. Vir my en my sussie is gesê as die bul op ons afstorm, sal hy stop as ons nie beweeg nie. In die chaos wat gevolg het, het die bul reguit op ons afgestorm. Toe hy nader kom het ons albei weggespring en hom toegelaat om deur te hardloop na die volgende veld!
Gister se leesstuk het gehandel oor hoe werklik en kragtig ons vyand is. Ons word beveel om vas te staan teen sy aanvalle. Daar is drie verwysings na staan, en woorde wat herhaal word beklemtoon gewoonlik ‘n punt. God wil hê dat ons stabiele, standvastige Christene moet wees.
Maar hoe gemaak? Dit kan maklik oorweldigend lyk.
Een van die dinge wat ons liefdevolle hemelse Vader vir ons voorsien, is Sy wapenrusting om ons te beskerm, te verdedig en te help. Ons moet dit aantrek en gebruik. Die eerste deel van die wapenrusting is die gordel van Waarheid.
John Stott skryf oor ‘n Romeinse soldaat se wapenrusting: “die gordel is gewoonlik van leer gemaak, die soldaat se gordel het eerder deel gemaak van sy onderklere as sy wapenrusting. Tog was dit noodsaaklik. Dit het sy tuniek bymekaar gehou en ook sy swaard bo gehou. Dit het verseker dat hy sonder moeite kon marsjeer. Wanneer hy dit vas gegordel het, het dit hom ‘n gevoel van verborge krag en selfvertroue gegee.”
Dit is ‘n wonderlike en lewendige beskrywing. Dit help ons om te besef waarvan Paulus gepraat het toe hy beskryf het hoe die gordel van Waarheid om ons heupe gespan behoort te word. Dit is noodsaaklik om alles bymekaar te hou, sodat ons ongesteurd is in ons missie en ons die krag en vertroue het wat ons nodig het om vas te staan.
Hierdie stuk wapenrusting word beskryf as die gordel van Waarheid. Wat is waar? Waar kan ons die waarheid vind? Ons weet dit word in die Bybel gevind, wat ons leer om God te ken, wat heeltemal rein is. Vroeër in Efesiërs sê Paulus, “die waarheid is in Jesus” (Efesiërs 4:21) terwyl Hy God aan ons openbaar. In Johannes 14:6 sê Jesus: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe.”
Daarteenoor het Jesus van die duiwel gesê: “Hy was van die begin af ‘n moordenaar. En hy staan nie aan die kant van die waarheid nie, omdat daar geen waarheid in hom is nie. Wanneer hy leuentaal praat, is dit volgens sy aard, want hy is ‘n leuenaar en die vader van die leuen.” (Johannes 8:44).
Die duiwel is deur die waarheid verslaan. Lig oorwin duisternis.
Wanneer ons deur moeilike tye gaan, kan ons in die versoeking kom om te bevraagteken of God werklik vir ons is. Is Hy goed? Is Hy kragtig? Gee Hy om? Is dit die moeite werd?
Ons ken die antwoorde op hierdie vrae, maar in moeilike tye kan ons so vinnig vergeet. Neem tyd om eerlik te wees oor jou gevoelens en bring dit na God toe. Neem dan tyd om te onthou wie God is en alles wat Hy gedoen het, Sy getrouheid deur elke vorige situasie. Herinner jouself daaraan dat jy Hom in hierdie moeilike tye kan vertrou, en deur Hom versterk kan word.
Jesaja 11:5 bied hierdie beskrywing van die Messias: “En geregtigheid sal die gordel van sy lendene en trou die gordel van sy heupe wees.” Ons moet Christus se voorbeeld volg om opreg, eerlik, regverdig en mense van integriteit te wees wat onsself en vir God ken.
Dit kan moeilik wees om eerlik te wees oor ons foute en mislukkings. Dit verg nederigheid, krag en kwesbaarheid. Maar die waarheid is, ons is sondaars wat gered is deur God se wonderlike liefde en genade. Dit is nie my goedheid wat my red nie maar God se goedheid, liefde, barmhartigheid en genade. Ons eerlikheid beteken dat ander die waarheid kan weet oor hoe God red en herstel.
Die duiwel poog om te vernietig, af te breek, te verdeel en onenigheid en isolasie te bring. Hy sal enige leuens gebruik wat hy nodig het om dit te bewerkstellig. Maar die Here poog om op te bou, aan te moedig, geregtigheid, liefde en vrede te bring, mense met mekaar en Homself te verenig – en dit is die waarheid!
Die gordel van waarheid uit die wapenrusting van God help ons om “soos kinders van die lig te lewe – want die vrug van die lig bestaan uit alle goedheid, geregtigheid en waarheid” (Efesiërs 5:8–9).