Geneig Om Af Te Dwaal

Geneig om af te dwaal

Deur Brittany / 7 Oktober 2020 / Jesus, Ons Alles

Ek kan onthou hoe verbaas ek as kind was wanneer geliefde vriende die kerk verlaat of van hulle geloof afvallig raak. My lewe en familie was ‘n veilige hawe om in te groei en te floreer, en ek kon my dus nie voorstel hoe die lewe ‘n mens se geloof kon toets nie. My kinderlike geloof het nie swaarkry of lyding verduur nie, dit was dus vir my maklik om ‘vas te hou’ terwyl niks in my lewe my gedruk het om met alles binne my aan Jesus vas te klou nie. As volwassene is ek al te deeglik bewus van hoe die lewe ‘n mens se geloof kan aflei, versoek, verpletter, vernietig en toets.

Reeds van die begin van Genesis sien ons dat die mensdom in sy geheel geneig is om af te dwaal. Ons is geneig om afgode te maak en ons neig na ongehoorsaamheid. Omdat ons in ‘n gebroke wêreld leef, is ons self gewond en seergemaak en ervaar ons beide onuitspreeklike lyding en groot vreugde. Die lewe is kompleks, en die Hebreërs-skrywer het geweet dat ons geloof getoets sou word; hy het geweet dat ons in die versoeking sou kom om weg te dryf deur ‘n aantal dinge wat hierdie wêreld bied.

In gemaklike seisoene is dit maklik om op onsself en ons hulpbronne te vertrou in plaas daarvan om vas te hou aan ons geloof in ‘n goeie en heilige God. Gedurende moeilike seisoene is dit maklik om rond te kyk en te wonder waar God is te midde van die ruïnes. Hebreërs is ‘n brief wat telkens verkondig dat Jesus beter is en dat Hy in beheer is, ongeag ons seisoen.

In hoofstuk 1 van Hebreërs sien ons dat Jesus beter is as engele en dat Hy alles onderhou deur die krag van sy Woord. In die eerste paar verse van Hebreërs sien ons dat Hy alleen die een is wat ons van ons sonde gereinig het (Hebreërs 1:3)! In die lig hiervan moedig Hebreërs 2:1-4 ons aan om ‘fyner te let op wat ons gehoor het, sodat ons nie wegdryf nie’. As jy vrae vra wanneer jy die Skrif lees (wat ‘n goeie praktyk is as jy die Bybel bestudeer), sou een van jou vrae dalk gewees het: “Wat het ons presies gehoor?”

In hierdie gedeelte verwys “die boodskap wat deur engele gespreek word” na die Wet in die Ou Testament. Die skrywer van die gedeelte kontrasteer hoe God se volk op ‘n tyd onder die Wet was, en dat hulle ongehoorsaamheid aan die Wet gemeet en gestraf is. Maar nou het ons Jesus – die ware en beter Wet. Sy redding, ‘n groter redding, is hoe ons ons lewens meet. Omdat Christus vir ons sondes betaal het, is die boete vir ons ongehoorsaamheid aan die Kruis betaal.

Wanneer ons aangemoedig word om ‘fyn op te let’, is dit waarop ons moet let: ons groot redding in Jesus, wat beter is as die engele (Hebreërs 1:4), beter as Moses (Hebreërs 3:3- 4), beter as die Wet (Hebreërs 8:6), en beter as enigiets wat hierdie wêreld bied. Ons rig ons oë op Jesus, sodat niks in hierdie wêreld ons stadig (of vinnig) van Hom sal wegdryf nie.

Die waarheid is dat, soos in die beroemde Engelse loflied gesê word, ons almal is “prone to wander Lord, I feel it. Prone to leave the God I love.” Wanneer ons geloof swak voel, as ons onvermydelik in die versoeking kom om weg te dryf as gevolg van oorvloed of skaarste, deur aardse vreugdes of diepe smarte, moet ons goed let op wat ons gehoor het sodat ons nie toegee aan die versoeking om weg te swerf nie.

Hebreërs 10:23 sê dit so:

‘Laat ons styf vashou aan die hoop wat ons bely, want God is getrou: Hy doen wat Hy beloof het.’

Liewe vriendin, wat jy ook al vandag ervaar, laat my toe om jou aan te moedig om na Jesus te kyk. Let goed op wie Hy is en wat Hy vir jou gedoen het. Hou onwrikbaar vas aan die hoop wat ons bely, want ons Verlosser is goed, Hy is betroubaar en Hy is oneindig beter as enigiets wat hierdie wêreld bied.

Brittany

 

 

 

 

 

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse