Genade en Barmhartigheid in Volle Voorraad
Ebos Aifuobhokhan
Om Skuiling by God te Vind
Hebrews 4:14-16 is een van my gunsteling Bybelverse. Dit beeld God se hart vir ons en sy gedagtes oor ons so duidelik uit. Ek dien nie ‘n God wat nie vir my omgee of een wat my net nodig het vir sy persoonlike gewin en plesier nie. Nee! Ek dien ‘n God, trouens, ek is die dogter van die God wat goed weet hoe dit voel om onvoldoende en swak te wees en ook hoe om dit te oorkom. Ek dien ‘n God wat so baie vir my omgee dat Hy my meer na die beeld van sy Seun maak. Hy wag nie vir my om te misluk sodat Hy my kan straf nie. Hy is eerder intiem bekend met al my weë deur sy innige liefde vir my. Liewe vriendin, dit is die God onder wie se vlerke ons kom skuil het.
Die wonderlike geskenk van genade kan nie deur geld gekoop word nie. Nee, Jesus het dit met sy bloed gekoop. Wees bemoedig deur hierdie ongelooflike waarheid! Terwyl ek hierdie blogplasing op my skootrekenaar getik het, het die rekenaar uit die bloute probleme begin gee. Ek moes my foon gebruik om hierdie plasing te voltooi. Daarom is ek nou so seker in my hart dat God wil hê dat jy hierdie boodskap van genade moet lees om vooruit te gaan. Amen.
In daardie oomblikke wanneer ons deur die lewe platgeslaan word en dit voel of ons besig is om te verdrink, het ons toegang, wat vir ons deur Jesus geskep is, om God se troon van genade te nader. Op hierdie plek kan ons vol vertroue wees dat ons gehoor en versorg sal word. Ons sal nie bespot word as gevolg van siekte, swakheid of hulpeloosheid nie. Liewe vriendin, ons kan die troon van genade nader omdat ons barmhartigheid sal ontvang. Dit is die barmhartigheid wat ons elke dag nodig het, en genade wanneer ons dit nodig het.
God se Wonderlike Genade
Genade is onverdiende guns wat ons toelaat om die lewe te leef waarvoor Christus sy lewe gegee het. Genade sê: “Sy is nie waardig nie, maar sy kan kom.” Genade sê: “Ek het my lewe vir haar gegee.” Die genade van Jesus verstaan ons tekortkominge en swakhede. Genade wat in Jesus gevind word, is die rede waarom ons ‘n kans kan kry om in die aangesig van elke swakheid te staan en nie te sondig nie. Wat ‘n wonderlike geskenk!
My liewe vriendin, ‘n lewe van genade in Christus is waartoe ons geroep is. Dit is ‘n lewe waar Hy lei, en ons volg. Dit is ‘n lewe wat vloei met die toevoer van energie van die Heilige Gees om bo die sonde en die strikke van hierdie wêreld te leef. Dit is ‘n lewe om Hom en Hom alleen te eer. Wandel daagliks in daardie werklikheid. Moenie toelaat dat die duiwel vir jou sê dat jy sonder hulp is nie. Dit is ‘n leuen. Ons het ‘n oorvloed van hulp in Christus.
Nader die Troon van Genade
Het jy hulp nodig? Nader die troon van genade.
Sukkel jy? Nader die troon van genade.
Eenvoudig gestel: roep na God in gebed. Hy sal vir jou hulp stuur. In Hom sal jy barmhartigheid en genade vind in tye van nood. Moenie van God af wegbly nie. Moenie luister na die leuens van die vyand nie. Jy het meer as genoeg hulp in Christus omdat Hy verstaan waar jy nou is. Loof die HERE.
God seën jou.
Week 6 Uitdaging:
Maak dit ‘n gewoonte om ander Christene in jou lewe doelbewus aan te moedig. Ons het almal aanmoediging nodig en dit is belangrik om nie aanmoediging van mekaar te weerhou nie. Reik uit na jou pastore, vrouebedieningsleiers en Bybelstudieleiers. Dank hulle vir die diens aan jou en jou gemeenskap. Maak tyd om vir hulle te bid en vir hulle te vertel hoeveel hul werk vir jou beteken.
Week 6 Leesplan:
Week 6 Memoriseervers: