Geestelike Volwassenheid

Geestelike Volwassenheid

Deur Andrea / 16 Oktober 2020 / Jesus, Ons Alles

“Laat ons nie stilstaan by die eerste dinge wat aangaande Christus verkondig word nie, maar verder gaan na die volle inhoud van die boodskap. Ons wil nie opnuut die fondament lê deur te praat oor die bekering uit ‘n leefwyse wat tot die dood lei nie, of oor geloof in God”– Hebreërs 6:1

Daar is ‘n paar dinge wat baie oulik is om te sien. ‘n Kleuter wat vir die eerste keer spaghetti probeer eet, en dit beland meer op sy gesig (of op die vloer) as in sy mond. Of om te luister na ‘n jong kind wat die alfabet opsê. Maar as ons na dieselfde dinge kyk wat deur ‘n volwassene herhaal word, sou dit nie so oulik wees nie. In werklikheid raak dit ‘n bietjie ongemaklik.

Daar was ‘n tyd in ons lewens dat dit aanvaarbaar was vir ons om nie te weet hoe om sommige dinge te doen nie. Dit was te verstane en daar was ‘n genade vir ‘n seisoen om nuwe dinge te leer, om basiese lewensbegrippe te begryp, om ‘n bietjie te wankel soos ons dit baas begin raak.

Op ‘n sekere stadium word dit tyd vir ‘n verdieping, ‘n verantwoordelikheid om verby die elementêre dinge te beweeg en dieper dinge wat God vir ons het om ons te leer, aan te pak.

God wil hê dat ons moet volwasse word en groei as gelowiges in Christus verby die dinge wat ons geleer het toe ons die eerste keer Christene geword het, of dit nou was toe ons vyf jaar of vyftig jaar oud was.

God is nie bekommerd dat ons dinge nie altyd die eerste keer regkry nie. Hy is geduldig met ons en hy is bly en verheug hom as ons geestelik leer en groei. Hy weet dat ons dalk op ‘n ander tempo as ander leer, en Hy het die Heilige Gees gestuur wat ons in alle dinge sal leer en lei. Die Heilige Gees sal ons openbaring van sy Woord gee, en dit is wanneer geestelike volwassenheid in ons opbou en groei.

Daar is soveel wat God ons wil leer, soveel dinge waarin Hy met ons wil saamwerk om te doen, sy kerk te bou, die verlorenes te bereik, om in dieper verhouding met Hom te groei. Een ding waarteen ons moet waak, is die versoeking om gemaklik te bly en nie verder as die basiese dinge te groei nie.

Daar is ‘n geestelike dissipline waarby ons moet betrokke raak wat ons harte en gees lewendig en ontvanklik vir sy stem hou. Wanneer ons die basiese dinge wat Hy ons geleer het doen, laat dit Hom toe om gewigtiger dinge aan ons te openbaar – geestelike vaste voedsel, in plaas van net melk – wat ons van binne af versterk en toerus om te doen wat Hy ons geroep het om te doen.

Die waarheid is dat God soveel meer vir ons het om te doen. Ons leef in dae soos die aarde nog nooit gesien het nie, en dit sal ‘n onderskeidingsvermoë en wysheid verg wat ons nog nooit tevore gehad het nie. God is op soek na diegene wat geestelike krag het wat die Woord van God met vaardigheid, wysheid en liefde kan hanteer, maar dit verg oefening. Dit verg volwassenheid.

Kom ons word volwasse in ons begrip. Laat ons opgroei in die dinge van God en nie toelaat dat ons ore dof word om sy stem, sy waarheid te hoor nie. Die dae waarin ons leef, verg baie van ons. Dit is nie die tyd om ons geestelike krag te laat afneem nie.

God is op soek na sterk en gesonde gelowiges, soos ek en jy, “sodat julle tot eer van die Here sal lewe deur net te doen wat Hy verlang. Mag julle vrugte dra deur goeie werke en toeneem in die kennis van God.” (Kolossense 1:10)

Laat ons verby die elementêre stadium van ons geestelike volwassenheid groei en sterk, vrugbare gelowiges word. Nie net vir ons eie persoonlike voordeel en groei nie, maar ook vir die mense rondom ons wat op soek is na hoop en waarheid, wat net gevind kan word in Jesus en in die Woord van God.

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse