Fokus op Christus

Fokus op Christus

Deur Ebos / 9 Oktober 2020 / Jesus, Ons Alles

Maar Jesus is groter heerlikheid waardig geag as Moses, net soos die een wat ‘n huis bou, meer eer waardig is as die huis. Elke huis word deur iemand gebou, maar God is die Een wat alles gebou het.

 – Hebreërs 3:3-4

 Dié gedeelte van die eerste vers van hoofstuk 3 het my getref. Daar staan, “Daarom, heilige broeders, deelgenote van die hemelse roeping, let op die Apostel en Hoëpriester van ons belydenis, Christus Jesus” (1953-vertaling). Die skrywer van Hebreërs noem die ontvangers van hierdie brief ‘heilig’. Waarom noem hy hulle nie net broers (en susters) nie, waarom noem hy hulle ‘heilig’?

Heilig beteken om ‘afgesonder’ te wees. Met ander woorde, die boodskap waarop die skrywer hulle attent wou maak, was dat hulle nie mense was wat maar na willekeur kon leef, sonder om te besef wie hulle is nie. Die skrywer wou hulle herinner wie hulle is: heilig, afgesonder vir en tot God.

Ek word herinner hoe lief God ons het om afgesonder te wees. Maar waarvoor is ons afgesonder? Vers 1 sê vir ons dat ons deelgenote is van die hemelse roeping om mense van Jesus te vertel en hulle op die hemel voor te berei. Die vers sê verder “let op Jesus, die Apostel en Hoëpriester van die geloof wat ons bely”. Dit is ongelooflik!

Ons is deur God afgesonder om vir ander van Jesus en die werk wat Hy op die kruis gedoen het te vertel deur ingestel te wees op Jesus, nie sosiale media, televisie of vermaak wat nie ewigheidswaarde het nie. Ons is afgesonder om op Jesus te let. As ons op Hom ingestel is, kan ons ons lewens lei soos Hy wil hê en daardeur waarlik afgesonder wees. As ons Jesus bely, moet ons altyd let op hoe Hy geleef het, op sy woorde, tyd saam met Hom in gebed deurbring, sy Woord lees en sy koninkryk dien. As deelgenote van die hemel wat geroep is om te wandel soos Hy gewandel het, moet ons op Jesus let.

OP WIE IS JY GEFOKUS?

Vers 2 vertel vir ons van een manier om op Christus gefokus te wees.

Hy was getrou aan God wat Hom aangestel het om op aarde te kom leef en sterf vir ons sondes. Hy het gewandel soos sy Vader wou hê, Hy het geleef soos sy Vader wou hê, Hy het opgeoffer, Hy het liefgehad en het nog steeds lief, Hy het omgegee en gee steeds om. Hy het na die kruis gegaan soos ‘n skaap wat ter slagting gelei word, Hy het nie gestry of Hom teëgesit nie; in plaas daarvan het Hy vir hulle gebid en in stilte die prys betaal. Hy was getrou. Ek het myself afgevra: “Ebos, is ek getrou aan die werk en lewens wat God in my hande geplaas het, is ek getrou aan God se planne en doel vir my lewe of maak ek verskonings en hardloop weg?” Kan ek vandag vir jou vra, geliefde, is jy getrou?

In die Skrif is daar talle mans en vroue wat tot die dood toe aan God getrou was. Hierdie pandemie wat ons in 2020 beleef, saai oral verwoesting en dié tyd is vir my soos ‘n sif waardeur God ons harte toets en vir ons wys wie ons is.

Geliefdes, aangesien ons Christus bely is ons heilig, afgesonder vir en tot God. Christus behoort ons voorbeeld en rolmodel te wees, die een op wie ons gefokus moet wees en navolg. Sy woord moet ons standaard wees, ons moet aan Hom getrou wees. God wat elkeen van ons tot sy eer gebou het. Hy verdien veel meer eer en sê in ons lewens as enigiemand anders, as enige stelsel, enige regering of instelling.

Vader, ons is in verwondering oor hoe lief U ons het en hoe U ons geroep het om afgesonder te wees tot U eer. Vergewe ons asseblief elke ontrouheid. Reinig ons harte, draai ons fokus na Jesus, leer ons getrouheid, herinner ons aan U en die feit dat U ons vir u heerlikheid en welbehae geskep het. Jesus ons het U lief. Ons bid dit in Jesus se naam, amen.

Ebos

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse