Dogters Van Bemoediging

Dogters van Bemoediging

Katie Shott

Het jy ooit ‘n bynaam gehad of het jou familie of vriende jou ‘n troetelnaam gegee? Somtyds is dit ‘n verkorte weergawe van jou naam, of miskien is dit ‘n naam wat jou persoonlikheid of aspekte van jou karakter beskryf.

In Handelinge 4 lees ons van ‘n man met die naam Josef, wat ‘n bynaam gehad het. Die aspostels het hom Barnabas genoem. Dit beteken: “seun van bemoediging.” Hoe wonderlik sal dit wees as mense jou so goed ken vir jou bemoediging van ander, dat jy “Barnabas” genoem word?

Bemoediging is iets wat ons almal nodig het—en dit is soveel groter en dieper as net jou selfbeeld wat versterk word deur die goeie dinge wat ander mense oor jou sê. Dit is meer as die afrigter wat vir die rugbyspelers sê: “Jy kan dit doen.” Ek het eenmaal ‘n predikant hoor sê dat dit “suurstof vir ons siele” is. Dit is essensieel!

Die Bybelse idee van bemoediging is om te troos, te waarsku, aan te spoor en te versterk. Elkeen van ons benodig daardie diepe, blywende, geestelike aansporing; die krag wat gewin word wanneer ons woorde van waarheid en ondersteuning hoor, asook vertroue en hoop wat gebied word deur diegene wat saam met ons op ons geloofsreis wandel.

In die Apostel Paulus se brief aan die gelowes in Tessalonika, is die konteks waarin hy hulle roep om mekaar te bemoedig, die wederkoms van die Here, of die dag van die Here, soos hy dit hier noem. Dit is vir ons ook ‘n aktuele boodskap vir vandag, so ons moet luister na Paulus se waarskuwing en raad! Hy begin deur aan te kondig dat Jesus sal terugkeer en, alhoewel ons nie weet wanneer dit sal gebeur nie, hoef ons onsself nie te bekommer of gepreokkupeerd te wees met datums en tye nie, maar ons moet voorbereid en gereed wees.                                                                                                                                             Hoe kan ons mekaar bemoedig om met gereedheid te leef?

Paulus vertel ons van ons identiteit: ons is nie meer wat ons vroeër was nie, maar ons is tog almal “mense van die lig, mense van die dag.” Paulus het ook die gelowiges in Efese op dieselfde wyse vermaan toe hy geskryf het: “Vroeër was julle die ene duisternis, maar nou in die Here is julle lig. Leef dan as mense van die lig. Uit die lig kom alles voort wat goed en reg en waar is. Vra julle voortdurend af of iets vir die Here aanneemlik is,” (Efesiërs 5:8-10).

Ons wêreld is geestelik en moreel ‘n donker plek, maar ons word geroep om mekaar te bemoedig om anders te lewe, in die lig van God se goedheid en waarheid en om die lig van Christus te skyn soos ons die hoop wat ons in Hom het, deel.

In ons voorbereiding vir Jesus se wederkoms, moet ons wakker en waaksaam wees, verstandig en ernstig om lewens te leef wat ons komende Koning sal reflekteer. Hierdie wêreld kan ‘n moeilike plek wees om in te leef, en ons benodig dus beskerming teen die vyand. Daarom spoor Paulus ons aan om toegerus te wees met die wapenrusting wat God vir sy mense voorsien. In Efesiërs 6 beskryf Paulus die volle wapenrusting wat ons daagliks moet aantrek, maar vir nou verwys hy slegs na die borsharnas en die helm.

Die borsharnas bedek die belangrike organe—dit is ‘n herinnering dat ons ons harte moet beskerm, dat ons met geloof toegerus moet wees soos ons glo en vasstaan in die waarheid en die beloftes van God en sy liefde vir ons en vir diegene wat in die duisternis leef, wat Jesus nog nie as Verlosser en Here ken nie.

Ons moet ook die helm opsit wat ons hoop is vir verlossing, in die verlede, huidiglik en in die toekoms! Ons gedagtes word so aangeval deur die vurige pyle van Satan, die brullende leeu, die vader van leuens en die aanvaller van God se mense. Dit is belangrik om die helm van verlossing te dra om ons gedagtes te beskerm teen sulke werklike en persoonlike aanvalle.

Die konsep om wapenrusting te dra laat ons dink aan die beeld van ‘n soldaat wat deel is van ‘n weermag. Wanneer Paulus skryf van bemoedig en mekaar opbou, is dit in die konteks van ‘n gemeenskap. Is dit nie wonderlik om te weet dat wanneer ons deel is van God se familie, gee Hy vir ons susters en broers sodat ons nie die gevegte van hierdie wêreld alleen in die gesig hoef te staar nie. Daar is diepe bemoediging in die versekering dat God ons sy Gees en sy mense gee om saam deur hierdie lewe van geloof te wandel: deur opdraandes en afdraendes, vreugde en die hartseer, bergtop ervaringe en donker valleie van beproewing en lyding, reis ons met mekaar.

Vir wie is jy vandag dankbaar? Wie was vir jou in jou donkerste tye ‘n “Barnabas”? Wie het in die goeie tye saam met jou gejubel? Dank God vir hulle en stuur miskien selfs ‘n boodskap of ‘n kaartjie aan hulle om te sê watter seën hulle vir jou is.

Vra God jou reg nou om iemand te ondersteun, te vertroos, te bemoedig en sy lig en goedheid in hulle lewens te skyn?

Jesus kom weer en tot daardie dag, word ons geroep om:

  • Mekaar te bemoedig: Spreek hoop en waarheid!
  • Te leef as kinders van die lig in hierdie donker wêreld: Skyn!
  • Berskerm ons harte en gedagtes: Trek die wapenrusting aan!
  • Mekaar aan te moedig tot liefde en goeie dade: Bou mekaar op!
  • Aan te hou om op te kyk, met vertroue en hoop: Hou die oog gevestig op Jesus, Hy kom gou!

Amen. Kom, Here Jesus, kom.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse