Doelgerigte Onderwysers
Andrea Lopez
Leer Uit Ons Voorbeeld
Soos baie mammas, hou ek ‘n lys by op my foon van snaakse dinge wat my dogter sê. Dikwels is dit woorde of frases wat verkeerd uitgespreek word. Soms kom daar iets op die lys wat ek bemoedigend vind. ’n Paar weke gelede het sy in haar kamer gespeel toe ek verbystap en hoor: “Wat beteken dit om God te gehoorsaam, Tinkerbell?” Dit het so baie vir my beteken toe ek besef sy was besig om ‘n gesprek wat ons vroeër daardie dag tydens middagete gehad het, met haar pop te herhaal. Ek het dit dadelik by my lys op my foon gevoeg. Ek was aangemoedig om te hoor dat ons gesprek oor God en gehoorsaamheid nie net ‘n impak op haar gemaak het nie, maar dat sy ‘n hele paar van die punte waaroor ons gepraat het, onthou het. “Sy luister na my,” het ek gedink, “en sy leer by my.”
Daardie aand het ek egter uitgevind hoe waar dit was toe ek hoor hoe sy op haar broer skree. Ek was net van plan binne te loop en ‘n einde daaraan te maak toe ek hoor: “Verstaan jy my??” en ek het besef sy herhaal dieselfde geirriteerde stemtoon en kwaai woorde wat ek vroeër daardie week met haar gebruik het. Ja, sy luister inderdaad na my en leer altyd by my, ten goede of ten kwade.
Leeroomblik
In Deuteronomium 6:6-7 praat Moses oor die altyd aspek van om ons kinders te leer wie God is. Sy gebooie moes op hulle harte bly, vir hulle kinders geleer te word, oor gepraat te word wanneer hulle by die huis sit, bespreek te word wanneer hulle langs die pad stap, en onthou te word wanneer hulle wakker word en gaan slaap. Enige tyd wat hulle saam met hul kinders spandeer het, was ‘n onderriggeleentheid. En dieselfde geld vir ons. Van sonsondergang tot sonsopkoms leer ons ons kinders iets. Die vraag is wat leer ons hulle? Leer ons hulle om God se Woord te waardeer, om God en ander lief te hê, om vriendelikheid en deernis te toon?
Baie van ons tyd wat ons daagliks spandeer sal gevul word met informele onderriggeleenthede. As mammas bevind ons onsself dikwels in situasies waar ons geduld, vriendelikheid, sagmoedigheid, vergifnis en berou kan toon. Van die mees nederige ervarings vir my is wanneer ek een van my kinders om verskoning moet vra en om vergifnis moet vra. Ons kinders hou ons dop en sal leer uit hoe ons met hulle en met ander omgaan in die oënskynlik onbeduidende oomblikke van ons dag.
Moses se vermaning beveel ons om ook meer doelgerig met ons onderrig te wees. ‘n Algemene versoeking vir ouers is om die Bybelonderrig aan die kerk oor te laat – om hul kinders Sondagskool of jeuggroep toe te stuur en die kerkleiers die bestuurderstoel te laat inneem om hul kinders te dissipel. Maar elkeen van die gedeeltes wat ons vandag lees, wys na ‘n ander waarheid. God het ouers ontwerp om die hoofdissipel in hul kinders se lewens te wees.
Maak Gebruik Van Elke Geleentheid
Eerlik, dit kan skrikwekkend wees om te weet hoe om ons kinders te leer, maar oor die jare het ek en my man idees by ouer en wyser ouers gekry oor verskillende maniere om meer doelbewus te wees om ons kinders van God te leer. Om Bybelverse saam as ‘n gesin te memoriseer, vir ‘n ander sendelinggesin te bid tydens aandete, saam deur ‘n kinderbybel of oordenkings te lees, ‘n pakkie besprekingskaartjies oor ontbyt te gebruik om gesprek aan te wakker, saam deur ‘n katkisasie te lees – daar is soveel kreatiewe en doelgerigte maniere waarop ons ons kinders kan help om te leer en te verstaan wie God is en waartoe Hy hulle geroep het.
Of ons dit nou weet of nie, ons kinders leer by ons. Wat ‘n seën is dit tog dat God ons geskep het om ons kinders te kan onderrig! My gebed is dat ons as mammas kies om doelgerig te wees om God se waarheid aan ons kinders te leer in die alledaagse, in die wonderwerke en in die moeilike tye van die alledaagse lewe.