Die Ywer van die Here Sal Dit Doen
Petra Stoneman
Ek is so opgewonde om vandag hierdie nuwe studie saam met julle almal aan te pak! Advent lê voor die deur. Met die eerste Adventsondag eerskomende week, kan ek nie aan ‘n beter manier dink om ons harte op hierdie seisoen voor te berei as om saam met eendersdenkende vroue van regoor die wêreld in God se Woord te delf nie!
Ons eerste SOAP-verse kom uit Jesaja 9:5-6. Ons word hier kragtig herinner aan wie God is en die beloftes Hy gemaak het. Die einde van vers 6 vat dit alles saam. Dit is ‘n wonderlike herinnering dat die ywer van die Here hierdie dinge sal bewerkstellig. Kom ons delf dus saam dieper terwyl ons sommige van die sleutelkomponente van hierdie vers ondersoek.
- ‘n Kind is gebore en ‘n Seun is aan ons gegee. Dit is nie sommer enige kind of seun wat vir ons gegee is nie, maar God se eie Seun, Jesus Christus. Watter wonderlike geskenk van goddelike genade vir al ons sondaars.
- Hy dra verantwoordelikheid. Die vervulling van die belofte van die komende Messias berus nie by ons nie. Die verantwoordelikheid rus geheel en al op God se skouers.
- Name van God. Hier word vier titels vir ons gegee om ons te help verstaan wie God is en wat sy Seun kom doen het. Hoekom bestee ons nie hierdie week tyd om oor elk van die name na te dink nie:
- Wonderbare Raadsman
- Magtige God
- Ewige Vader
- Vredevors
- Sy Heerskappy sal uitgebreid wees. Ek hou daarvan hoe die 1983-vertaling dit stel: “Sy heerskappy sal uitbrei, en Hy sal vir altyd vrede en voorspoed bring.” Sy heerskappy van genade sal vir altyd bly uitbrei, en elke oomblik sal beter wees as die vorige. Die koninkryk van Christus is ‘n groeiende koninkryk.
Die Ywer van die Here
Die laaste reël in ons SOAP-verse van vandag sê: “Die ywer van die Here van die leërskare sal dit doen.” (AFR53) Maar wat presies is die ywer van die Here?
Ywer is iets meer as net opgewondenheid of groot mag. Dit beteken om iets al ‘n hele ruk in jou hart en gedagtes te hê. Die persoon verbind hom of haar oor ‘n lang tydperk daartoe en voer dit deur.
Charles Spurgeon het gesê: “Sy ywer sal die koninkryk van Christus bewerkstellig en dit vir ewig vestig.”
God het heel van die begin af ‘n plan gehad om sy mense van sonde en die dood te red. Niks en niemand kon dit verydel nie. Ek en jy gaan maar net deur hierdie wêreld, soos gras wat verdor en die volgende dag nie meer daar is nie.
Ongeag wat ons doen of nie doen nie, God is in beheer. Hy sal al sy beloftes en verbonde nakom om die mensdom en die skepping weer met Hom te versoen.
Wanneer God sê Hy gaan dit doen, kan ons seker wees dat dit gaan gebeur.
Wat Nou? ‘n Praktiese Toepassing
Na al hierdie wondelike beloftes in verse 5-6 is ons harte vol wanneer ons herinner word aan God se getrouheid aan al sy kinders.
Hierdie verse gee vir ons ‘n goeie rede waarom ons vol vertroue kan wees in vandag se wêreld, ongeag watter omstandighede ons in die gesig staar.
As jy afgemat voel en glad nie kans sien vir die seisoen se feestelikhede nie, as jy uitgeput is en op die punt om boedel oor te gee, vertrou dat God jou staande sal hou want Hy is die Magtige God.
Ons almal gaan deur seisoene wanneer ons tydelik verslaan voel – hetsy in die bediening, ons persoonlike lewens, of terwyl ons toekyk hoe die boosheid oënskynlik besig is om die oorhand oor die goeie te kry in ons nasies en in die wêreld. Laat ons liewer leer om in sulke tye te onttrek, die pas te verslap en onsself bewustelik te herinner aan die ongelooflike, ewige beloftes van die Skrif, soos Jesaja 9:5-6, om ons te help om nie moed op te gee nie.
Kom ons put ons krag uit die Here, sodat ons die goeie stryd van die geloof kan voortsit, wetende dat ons ‘n Verlosser het wat heers en regeer, nou en vir altyd.
Week 1 Uitdaging:
Die doel van hierdie studie is om ons harte voor te berei vir Kersfees deur te fokus op Jesus en alles wat Hy vir ons gedoen het. Sy geboorte was die begin van die vervulling van God se belofte om ‘n Verlosser te stuur om ons van sonde en dood te red. Maak hierdie week tyd om stil te sit by God en vra Hom om in hierdie seisoen vir jou meer te wys wie Hy is.
Week 1 Leesplan:
Week 1 Memoriseervers: