Die Wingerdstok

Die Wingerdstok

Kelli Trontel

Ek sal nooit die woorde vergeet wat die Here tot my gespreek het toe die lewe wat ek geken het, uit my en my kinders se lewe uitgestap het nie. Met trane wat teen my wange afstroom, het ek gekyk hoe sy kar van ons huis af wegry. Ek het bly wonder of ek genoeg vir hom sal wees om te bly en ons te kies. Omtrent dadelik het ek gehoor hoe die Here vir my sê: “Is Ek genoeg vir jou?”

Hierdie uitnodiging om my oë op te hef, in die middel van ‘n krisis, weg van my omstandighede af en om geanker aan Christus te bly, is ‘n oomblik wat my altyd sal bybly. Dis ook iets waaraan ek die vrugte wat ek vandag in my lewe sien en ervaar, toeskryf. Alhoewel dit vir my in daardie oomblik gevoel het of ek nie raakgesien is nie, het die Here vinnig aan my bewys dat my gevoelens nie die waarheid weerspieeël het nie. Sy woorde aan my was ‘n uitnodiging om gesien en liefgehê te word, om in te tree tot ‘n dieper verhouding met Hom en om Hom te vertrou in die aangesig van groot onsekerheid. Wanneer ek nou terugkyk, was dit ‘n lettelike reddingsbaadjie wat aan my gebied is en wat die baan van my toekoms verander het.

Soos ek deur seisoene van beide vreugde en swaarkry gewandel het, het ek met volle vertroue geleer dat ek verblyd, tevrede en vervuld is wanneer ek aan die wingerdstok (Jesus) vas is. Daar is niemand soos Hy nie. Daar is geen alternatief of vinnige oplossing nie.

Ek kan nie en ek sal nie krediet neem vir waar ek vandag is nie. My lewe is ver van perfek af en ek ervaar steeds die gevolge van ander mense se aksies en sonde, maar in Christus en Christus alleen, is ek oorwinnend. Hy het my gedra en Hy dra my steeds. Johannes 15:5 sê nie dat die een wat in My bly en Ek in hom, sal dalk vrugte dra nie. Die belofte is dat ons baie vrugte dra wanneer ons in Hom bly. Wat ‘n geskenk!

Vir my word die vrugte gesien en ervaar as vergifnis, guns, om beter te word en nie bitter nie, vrede, seëninge en vreugde, selfs in swaarkry.

Ek sien myself nie as ‘n ervare tuinier nie, maar ek verstaan hoe belangrik dit is om te snoei en veral om dooie blomknoppe af te pluk – om dít wat dood is te verwyder, om verdere bloeisels te bevorder. In hierdie lewe sal ons dood ervaar. Dit mag die fisiese dood van ‘n geliefde wees, die dood van ‘n huwelik, ‘n onverwagte dood of verlies van ‘n lankbestaande vriendskap of beroep. Verlies kan dikwels soos dood lyk en voel, maar in Christus is daar ‘n geleentheid vir nuwe lewe.

Alle goeie dinge kom omdat jy in gemeenskap met Christus en mede-gelowiges is. Ek het nie altyd die beste persone gekies om my tyd mee deur te bring nie. Ongesonde verhoudings kan die lewe stadig uit ons uitwurg en daartoe lei dat ons ons vrugte verloor. Dit is een van die groter lesse wat ek in die laaste paar jaar geleer het: jou gemeenskap maak saak. Met wie jy jou tyd deurbring, na wie jy luister, wie jy vertrou—dit maak saak.

Eerste en belangrikste, spandeer tyd met Christus. Ander mag kom en gaan, maar Hy is ons wingerdstok en ons anker.

Die vyand wil niks meer hê as dat ons ons oë op onsself en op ons probleme gefokus hou, eerder as om aan ons goeie Vader vas te hou en om in Hom te bly. Ons word ‘n bedreiging wanneer ons aan Christus verbind bly en selfs ‘n groter bedreiging wanneer ons begin om vrugte te dra. Daarom moet ons waaksaam bly vir die planne van donkerte wat probeer om ons te verhinder om tyd in God se Woord en saam met God se mense deur te bring. Afleiding, pyn en om besig te wees is alles taktieke van die vyand om ons weg te hou van dít wat die meeste saakmaak en om vrugte te dra.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

Word in Kennis Gestel Wanneer Nuwe Blogs Verskyn

Mees Onlangse Blogs