Die vrugte van liefde

Wanneer jy aan die vrug van die Gees dink, watter een kom eerste in jou gedagte? Vir my is dit liefde.

Liefde is die vrug wat eerste genoem word in Galasiërs 5:22: “Die vrug van die Gees … is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.” Liefde is baie meer as net ‘n emosie of gevoel. Dit is ‘n goddelike eienskap wat die karakter van God beskryf. 1 Johannes 4:8 sê: “God is liefde.”

Liefde kan moeilik wees om in woorde te beskryf, maar God demonstreer dit op ‘n baie duidelike manier: “Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was” (Romeine 5:8). As sy kinders vra Hy ons om daardie selfde onverdiende, opofferende liefde aan hulle rondom ons te weerspieël.

Die vrugte van ons harte

Onlangs het bome my begin fassineer. Een rede is omdat ons self verskeie bome aangeplant het, maar eintlik omdat die Skrif so dikwels bome as ‘n beeld van ons geestelike lewens gebruik. Jesus het gesê: “Elke boom word aan sy eie vrugte geken“ (Lukas 6:44). ‘n Boom se vrugte onthul watter tipe boom dit werklik is.

Ek en my man is sendelinge in Europa, in ‘n land waar die grootste meerderheid mense hulleself as Christene beskou. Ten spyte van die godsdienstige kultuur, is dit moeilik om die vrug van die Gees in mense se lewens te sien. Jesus se woorde herinner ons dat ons verklaring van geloof ons geensins as Christene identifiseer nie. Ons vrug behoort dit te doen.

Toe Jesus daardie woorde gesê het, was baie van die luisteraars boere of tuiniers. In die verlede het mense gewoonlik hulle eie kos verbou; dus het hulle hierdie vergelyking onmiddellik verstaan. Lukas 6:44 sê: “Van doringstruike pluk ‘n mens mos nie vye nie, en van ‘n doringbos oes jy ook nie druiwe nie.”

Die beginsel is vandag nog net so waar. Ons sal nooit verwag dat pere aan ‘n appelboom groei of aarbeie aan ‘n piesangboom nie. Wanneer ‘n mens se lewe voortdurend haat, jaloesie, selfsugtige ambisie, woedebuie of tweedrag voortbring in plaas van liefde, vreugde, vrede en die ander vrug van die Gees, openbaar dit die toestand van jou hart.

Die rypwording van vrugte

Een aspek van vrugtebome het veral my aandag getrek. Hulle moet eers jarelank groei voordat hulle vrugte voortbring. Hulle wortels moet dieper groei. Hulle stamme moet sterker word en hul takke moet volgroeid wees voordat vrugte verskyn.

Toe ons ons huis gekoop het, het ons verskeie vrugtebome geplant. Ons het nie sade geplant nie. Ons het jong bome gekoop by ‘n plaaslike kwekery. Ek was verbaas om te hoor dat hulle drie tot vyf jaar moes groei voordat hulle die eerste oes kan lewer. Dit was nie altyd maklik om te wag nie. Toe daardie kersies, pruime en appelkose vir die eerste keer verskyn, het die gewag die moeite werd gevoel. Die vrugte het bewys dat die bome gesond was en floreer.

Die resultaat van ons vrugte

Ons het ook ‘n gemeenskapstuin, ‘n oorblyfsel van die kommunistiese era toe stadsbewoners klein stukkies grond gekry het om kos te verbou. Een van ons bure het goedgunstiglik vir ons ‘n pruimboom gegee om daar te plant. Meer as vyf jaar het verloop en dit het nog nie een enkele pruim voortgebring nie.

Hierdie lente het ek by myself gewonder: “As hierdie boom nie hierdie jaar vrugte dra nie, is dit dalk tyd om dit af te kap en te verbrand.”

Daardie gedagte het my dadelik herinner aan Jesus se ontnugterende woorde: “Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi” (Matteus 7:19). Hy het afgesluit met: “So sal julle die vals profete dan aan hulle vrugte ken” (Matteus 7:20).

Dit alles bring ons weer terug na die eerste vrug van die Gees: liefde.

Laat ons vrouens wees wat gevul is met die Gees van God, wat heeltemal deur sy liefde verander is sodat dit natuurlik oorvloei na die lewens van ander mense. Ons het niks gedoen om sy liefde te verdien nie (Romeine 5:8). Wat ‘n pragtige liefde is dit nie!

Dis ‘n liefde waarvan niks ons kan skei nie – “geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here” (Romeine 8:38–39).

Mag ons lewens soos gesonde vrugtebome wees, stewig geanker in Christus, besig om na volwassenheid te groei en vrugte te dra wat kenmerkend is van die vrug van die Gees, sodat die wêreld wat na ons kyk Hom in ons sal sien.

Krista Taylor

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

Word in Kennis Gestel Wanneer Nuwe Blogs Verskyn

Mees Onlangse Blogs