Die Skande van Siekte

Die Skande van Siekte

Deur Julie / 29 Januarie 2021 / Verlos van Skande

Tyd is ‘n snaakse ding. Hoewel dit konstant is met elke minuut wat 60 sekondes duur, elke uur 60 minute, kan dit verbyvlieg of uitgerek wees. My kinders deel ‘n elektroniese tablet en hulle kry elkeen ‘n halfuur om speletjies daarop te speel. Vir die een wat wag, voel die halfuur soos ‘n ewigheid. Vir die een wat speel, gaan dit egter te vining verby.

In Markus 5 sien ons hierdie vergelyking. Die genesing van die vrou wat vir twaalf jaar siek was, vind plaas soos Jesus op pad was na Jaïrus se huis toe. Sy twaalfjarige dogter was sterwend. Hy het uitgevind dat sy dood is nadat Jesus met hierdie naamlose vrou gepraat het. Vir Jaïrus het die twaalf jaar wat hy saam met sy dogter gehad het ongelooflik kort gevoel.Vir die vrou wat aan bloedvloeiing gelei het en wat alles wat sy gehad het, spandeer het om gesond te raak, was die twaalf jaar lank. Albei was desperaat vir Jesus se hulp. Beide het dit ontvang.

Hierdie naamlose vrou sou enorme skande gedurende haar twaalf jaar van bloedvloeiing gedra het. Sy is as onrein beskou – gevolglik is sy nie toegelaat om die tempel binne te gaan nie. Ander mense sou haar vermy het, aangesien enigiemand wat in aanraking gekom het met haar of enigiets waarop sy gesit of gelê het, hulle klere moes was, moes bad en is dan steeds tot die aand as onrein beskou. (Sien Levitikus 15:19-27.) Kan jy jou die isolasie, eensaamheid en gebrek aan menslike aanraking voorstel?

Toe sy van Jesus hoor, het sy baie gewaag om naby Hom te kom. Sy het ‘n skare binnegetree. As enigiemand haar sou herken, sou sy verskree word en gedwing word om weg te gaan. Die geleentheid om genees te word was egter die risiko werd. Sy het geglo dat as sy net aan Jesus se klere kon raak, sy gesond sou word. Sy het geglo dat om Hom aan te raak Hom onrein sou maak. Miskien het sy geredeneer dat dit in orde sou wees as Hy nie weet dat sy aan Hom geraak het nie. Sy het deur die reuse skare gebeur. Sy het naby genoeg beweeg om aan Hom te raak, uitgereik, sy kleed aangeraak, en was onmiddellik genees! Sy het teruggedeins in die skare; sy het gekry waarvoor sy gekom het.

Maar Jesus het gestop. Hy het geweet. Hy het haar gesoek. Hierdie vrou wat gewoond daaraan was om geïgnoreer te word, het na vore gekom. Sy was bang, het voor sy voete neergeval en Hom alles vertel. Jesus se reaksie was sag en liefdevol toe Hy haar in die openbaar herstel met die woorde, “Dogter, jou geloof het jou gered. Gaan in vrede. Wees vir goed van jou kwaal genees!”Almal het geweet sy is genees. Haar skande is verwyder en is vervang met blywende vreugde. Jesus het soveel meer voorsien as waarvoor sy selfs gehoop het. Dit is God se oorvloedige liefde.

Miskien dink jy, “Dit was lank terug. Ons beskou nie meer mense as onrein nie. Daar is nie skaamte daarin om siek in ons wêreld te wees nie.” Maar is dit waar? Is daar siektes wat ons moeilik vind om te erken dat ons dit het?  Byvoorbeeld, is dit makliker om te sê, “Ek het ‘n gebreekte been” as “Ek het ‘n geestessiekte”? Christene wat aan depressie of ander geestesgesondheidskwessies lei kan verkeerdelik skande ervaar op wyses wat nie so sou wees in die geval van fisieke gesondheidskwessies nie.

Soms is ons siek, maar ons wil nie erken dat ons swak is of hulp nodig het nie. Ons worstel met ons trots. Ons het nog altyd hulp aan ander verleen en ons raak gefrustreerd oor die verandering in posisie.

Om met ‘n siekte te worstel wat weggesteek is vir die meeste van die res van die wêreld kan ‘n baie isolerende plek wees. Ons kan selfs vra, “Gee God om?” Ja, Hy gee om. Jy maak saak vir God. Ons sien hoe God vir ons omgee deur die genesing van die vrou wat aan bloedvloeiing gely het. Jesus het hierdie vrou uitgesoek. Hy het haar gesien en haar geken. Toe die vrou dink dat sy vir Jesus onrein sou maak deur aan Hom te raak, het hy Hy haar eerder gereinig deur sy krag. In plaas daarvan dat Jesus onrein geword het, het Hy haar gereinig.

Hierdie wonderwerk is ‘n voorsmaak van die nuwe hemel en aarde, “Hy sal die trane van hulle oë afdroog. Die dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie. Die dinge van vroeër het verbygegaan. Toe sê Hy wat op die troon sit: “Kyk, Ek maak alles nuut.” (Openbaring 21:4-5)

Siekte en dood is die gevolg van die sondeval; dit raak almal se lewens. Al kan ons nie die beproewinge kies wat oor ons pad kom nie, kan ons kies hoe ons daarop reageer, wat of wie ons vertrou en waarop of op wie ons ons oë rig.

“I want to stay in the habit of ‘glancing’ at my problems and ‘gazing’ at my Lord.” (Aanhaling van Joni Eareckson Tada, wat na ‘n duikongeluk op 17-jarige ouderdom verlam geraak het van haar haar skouers af ondertoe.)

Julie

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse