Die Resultaat van Geloof

Die Resultaat van Geloof

Brittany Salmon

In albei gedeeltes wat ons vandag lees, sien ons vroue wat soveel geloof in Jesus gehad het dat hulle met determinasie genesing gaan soek het, die een vir haar dogter en die ander vir haarself.

Ek was nog altyd lief vir hierdie verhale, maar veral vir die verhaal oor Jesus in Lukas 8. Daar is iets diepsinnig omtrent Jesus, tegeIyk volledig God en volledig mens, wat toelaat dat sy krag ‘n vrou wat al twaalf jaar aan bloedvloeiing ly, bedien en genees. Miskien is dit die feit dat dit ‘n spesifieke vroulike wond is wat die Here genees of miskien is dit ‘n vrou se geloof wat die Seun van God se genesingskrag in werking stel. Hoe ook al sy, ek is mal daaroor hoe hierdie verhaal die goedheid van ‘n God wat genees, en ook die geloof van ‘n siek en vermoeide vrou weerspieël. Ek hou daarvan dat Jesus in albei gedeeltes vir die vroue sê dat dit hulle geloof in Hom is wat hulle heel gemaak het.

Gedeeltes soos dié wat ons vandag gelees het, herinner my dat geloof in Christus nooit beskaam nie. Om eerlik te wees, hoe graag ek ook al met die vroue in hierdie gedeeltes wil identifiseer, gaan ek egter meer dikwels soos die pa van die duiwelbesete seun in Markus 9 na God toe. Die verhaal lui dat ‘n seun deur ‘n duiwel besete was en van kleins af om sy mond geskuim het. Hy was gedoem tot dood en vernietiging. En die pa, afgemat van die hartverskeurende liefde vir ‘n gefolterde seun, het na Jesus toe gekom en gesê: “Kry ons tog jammer en help ons as U kan!” As U tog miskien iets daaraan kan doen, kry ons jammer en help ons” (Markus 9:22).  

Het jy dit gesien? Jesus, help ons as U kan…

Een ding moet ons goed verstaan: Jesus kan altyd. En tog identifiseer my hart met die pa in Markus 8. Alte dikwels bevraagteken ek ook God se vermoë. Maar ek is gaande oor die volgende verse en Jesus se reaksie op die pa. Net soos Jesus se deernisvolle reaksie op die vroue in Lukas 8 en Matteus 15, is Jesus deernisvol teenoor die twyfelende pa in Markus 9.

Jesus antwoord (en ek parafraseer hier): “As ek in staat is? Geliefde, alles is moontlik vir diegene wat geloof het en glo.”  En toe het Hy die man se seun genees.  

En die pa se reaksie?

“Ek glo,” roep die seun se pa dadelik uit. “Help my in my ongeloof” (Markus 9:24).

Ek hou daarvan dat hierdie diepgaande stelling in die Bybel is. Ek hou daarvan dat, behalwe twee vroue wat as gevolg van hul geloof uit hulle pad gegaan het om net by Jesus uit te kom, ons in Markus 9 ook vertel word van ‘n pa wat gelyktydig in dieselfde asem sy geloof verklaar en dat hy hulp kortkom met sy geloof. Ek hou daarvan dat ons voorbeelde het van ‘n vurige sowel as swak geloof, maar almal wat die naam van die Here aanroep, het met ‘n deernisvolle Jesus te doen gekry. Dit is goeie nuus vir dié van ons wat glo maar steeds met twyfel worstel. Dit is helend vir dié van ons wat ons gebede aan God voorafgaan met “God, as U kan…” en vir dié van ons wat wil glo soos ‘n kind, maar dit net nie uit ons eie kan regkry nie.

Die vroue waarvan ons lees in die gedeeltes in Matteus en Lukas het ‘n vurige geloof gehad wat natuurlik gekom het. Die Here weet hoe ek gebid het om sulke geloof te kan hê. Maar vir dié van ons wat uitgeput is, wat hartseer ervaar het en teleurgestel is, is daar ook die voorbeeld van ‘n pa in Markus 9 gegee.

As jou geloof sterk is, mag jy vandag soos die vroue in Matteus en Lukas wees en dit onwrikbaar met jou woorde, en ook deur jou alledaagse lewe verklaar. Maar as jou geloof swak is, mag jy vandag vertroosting vind in ‘n eerlike maar nie so sterk geloof, en die bewuste keuse maak om in ons gesamentlike gebed te verklaar, “Here, ons glo! Help ons in ons ongeloof!”  

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse