Die lied van Geregtigheid
Dit is baie gepas dat Miga se profesie begin met die opdrag om te luister. Wanneer ons deur hierdie kort boek lees, vind ons dat God se geregtigheid baie kragtig is. Daar word vreeslik gehuil en gerou. Ons hoor die geskreeu soos ‘n jakkals en die geklaag soos ‘n volstruis (Miga 1:8). Om nie eens te praat van die diep gekraak en donderende geraas as God self op die aarde loop met die valleie wat oopbreek en waters wat neerstort nie.
Die sonde wat hierdie oorverdowende geraas veroorsaak het, was ook nie sag nie. Dink vir ‘n oomblik na oor hoe die armes in angs en moedeloosheid moes toekyk toe hul grond en huise onregverdig afgeneem is (Miga 2:2). Sonde bring ‘n klank van gebrokenheid mee, en God se geregtigheid bring die onvermydelike kreun van vernedering en ‘n klaaglied dat “ons geheel en al vernietig is” (Miga 2:4).
Hierdie sameklank lei tot ‘n treurige en aangrypende lied. Dit is nie ‘n lied wat ek wil sing nie, en nog minder na wil luister. Maar keer op keer word God se mense in die Profete aangespreek om te luister, te hoor en aandag te skenk. Sonde mag nie geïgnoreer word nie. Ons moet tyd maak en die Here vra om aan ons te wys waar ons afgodery, trots en selfsug toegelaat het om ons harte te oorheers. Ons moet dan ook met groot nederigheid na sy antwoord luister.
Die Lied van Verlossing
Dit is nie maklik om na die lied van regverdigheid te luister nie. Dit is egter ook nie die enigste lied wat God in ons lewe orkestreer nie. In vandag se versgedeelte, praat Miga van ‘n lied van verlossing wat eendag gaan kom. Dit sal gekenmerk word deur ‘n luide geraas wanneer hulle deur die Herder deur die poort gelei word. God belowe verlossing aan hulle wat kies om die Goeie Herder te volg. Hy belowe om sy mense bymekaar te maak en hulle te lei. Miga vertel dan ook dat hierdie geen stille gebeurtenis gaan wees nie.
Die belofte van verlossing is nie beperk tot die boek van Miga nie. Soos ons deur die Bybel lees, sien ons hoe God se plan en lied van verlossing duidelik ontvou. Die lied word meer intens wanneer Maria God verheerlik na die onverwagse besoek van ‘n engel (Lukas 1:46). Dan word die lied nog harder een nie-so-stille nag, met die staccato-gehuil van ‘n pasgebore baba en die klanke van ‘n menigte engele wat die mees wonderlike nuus aankondig (Lukas 2:13-14). Dit crescendo met die melodieuse woorde van Jesus wie die mag het om blindes te laat sien en dooies uit hul slaap op te wek (Johannes 11:43-44). Dit gaan voort met ‘n dissonante konflik tussen ‘n sagte “dit is volbring” (Johannes19:30) en die kras klank van die tempelgordyn wat in twee skeur (Matteus 27:51). Maar die pas versnel en die volume neem toe met die diep weerklank van die klimaks wanneer die klip weggerol word as die Goeie Herder Self by die graf uitstap (Matteus 28:1-10). En dan kom ons by die raserige menigte wanneer God mense van elke nasie bymekaarmaak om deel van sy kudde te wees. ‘n Ontelbare menigte wat God aanbid, en wat in luide stemme uitroep” “Ons redding kom van ons God, wat op die troon sit, en van die Lam!” (Openbaring 7:10).
Die Lied van Aanbidding
Die klankbaan wat die verhaal van God se liefde vir sy mense vergesel, is uniek en uiteenlopend. Daar is ‘n geween, maar ook blydskap. Daar is ‘n geweeklaag en ‘n geroep om hulp. Daar is die geluid van swaarde wat slaan wanneer God se mense verban word (2 Konings 25) en die gesange wat in gevangenisse gesing word deur sondaars wat verlos is (Handelinge 16:25). Die lied van God se geregtigheid word gehoor saam met sy lied van genade. Hierdie harmoniese samespel maak dat ons God se begeerte vir geregtigheid deur sy optrede van liefde en genade beter verstaan.
God is goed, want Hy is beide regverdig en genadig. Ons kan nie die volledige prentjie sien as ons nie beide hierdie raaksien nie. Ek moedig jou vandag aan om tyd te neem en te luister. Vra God om jou oë oop te maak om jou sonde raak te sien, asook om ‘n behoefte te kry tot bekering. Luister dan ook na die beloftelied van Miga in hoofstuk 2 vers 12-13. Dink na oor die woorde wat Jesus met ons deel in die evangelie. Herhaal die gebede van Paulus wat hy vir ons voorhou in sy briewe. Sing ‘n aanbiddingslied vir die Goeie Herder wat jou vergewe het en jou in sy kudde toegelaat het. Let ook op Miga se woorde om te luister en te juig omdat jy deel is van die mense wat God verlos het.
Andrea
Week 3 Uitdaging:
Een van die beste maniere hoe ons kan vashou aan die hoop wat deur ‘n lewe met Christus gebied word, is deur die Skrif te memoriseer. Verbind jou hierdie week daartoe om die memoriseerverse vir hierdie studie te begin memoriseer. Vind kreatiewe maniere om die woorde van God by jou te hou terwyl jy deur jou dag gaan.
Week 3 Leesplan:
Week 3 Memoriseervers: