Die Krag van Gebed

Die Krag van Gebed

Sara Lindsey

“Dankie dat jy die kliëntediens gebel het. Druk 1 vir rekeninge, druk 2 vir … bla bla bla.” Sommige van my slegste oomblikke is wanneer ek my humeur verloor met die gerekenariseerde stem (ek weet dit is belaglik) en ek skree: “Ek wil net met ‘n regte mens praat!”

Dit kan moeilik wees om kontak te maak met die mense wat ons wil hê of die mense wat ons nodig het. Ons speel telefoontjie. Ons vang mekaar op besige tye. Al is ons in hierdie moderne wêreld so in verbinding met mekaar, is dit ook op baie maniere onpersoonlik en isolerend.

Stop en dink vir ‘n oomblik hieroor, want dit is werklik ongelooflik: Jy het onmiddellike en direkte toegang op enige tyd met die God van die skepping. ’n Direkte lyn. Spoedskakel.

Daar is geen assistent, geen telefoontjie speel, geen taalhindernisse, geen antwoordmasjienboodskap nie.

Hy is gereed om te luister en hoop jy sal bel. Hy is nie te besig nie. Hy is nie afgelei nie. God is nie geïrriteerd deur ons versoeke, bang vir ons vrae, of teleurgesteld in ons twyfel nie.

Hierdie is een van my gunsteling verse: “Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word” (Hebreërs 4:16). Die vers voor dit sê vir ons dat ons met selfvertroue kan nader omdat Jesus ons vooruit gegaan het en medelye met en simpatiek teenoor ons versoekings is.

Ons wêreld verkleineer – en bespot soms – die krag van gebed, maar die Bybel is absoluut duidelik oor die geweldige krag van gebed. Matteus 7:7–8 sê: “Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal kry; klop, en vir julle sal oopgemaak word, want elkeen wat vra, ontvang; en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word.”

God het herhaaldelik die krag van gebed gedemonstreer wanneer gelowiges vir genesing, oorwinning, wysheid en beskerming gebid het. Ons vers vandag vertel hoe ‘n vrou uit die dood opgewek is na aanleiding van Petrus se gebed (Hand. 9:40).

So, as daar duidelike krag in gebed is, hoekom huiwer ons?

Soms is ek stil omdat ek nie eers weet wat ek probeer vra nie. En dis in orde. God ken reeds ons harte. Romeine 8:26 sê: “Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie.” God is nie ongemaklik in die stilte nie. Wanneer ek nie woorde het nie, hou ek dit eenvoudig: God, wees naby. Help ons. Gee ons onderskeidingsvermoë. Gee ons vrede. Beskerm ons.

Gebed het voorheen vir my intimiderend gevoel – asof daar ‘n regte manier was met clichés wat die kerkmense geken het. God soek nie ‘n perfekte openbare spreker nie. Die krag van gebed is in Hom, nie in enigeen van ons of in enigiets wat ons doen nie. Nou dink ek aan gebed meer soos ‘n gemaklike gesprek met ‘n intieme vriend. Ek kan die lae afskud en vrylik praat sonder om bekommerd te wees oor skinderpraatjies of oordeel. Dit is ‘n veilige ruimte.

Soms is ek bekommerd dat Hy nee sal sê. En weet jy wat? Soms doen Hy dit. Gebed is nie vir ons ‘n instrument om van God ‘n marionet te maak nie. Hy word geraak deur ons gebede, en Hy beantwoord hulle – maar nie altyd presies hoe ons dit sou gedoen het nie. (‘n Wenk van een van my dierbaarste mentors: hou ‘n joernaal van jou gebede. Jy kan terugkyk, en jy sal verbaas wees oor hoe God jou versoeke, groot en klein beantwoord het.) Ons gebede word altyd in ooreenstemming met sy wil beantwoord, en dit kan moeilik wees om te voorspel of te sien vanuit ons beperkte menslike perspektief. Maar Jesus verseker ons dat “niks onmoontlik sal wees nie” as ons “geloof het so groot soos ’n mosterdsaadjie” (Matteus 17:20).

Vriende, kom soos julle is. Kom ons daag onsself uit om meer tyd in gebed deur te bring—praat en luister—om te sien watter berge ons kan versit. Wat ‘n krag kan ons in hierdie wêreld wees as ons die krag wat God ons deur gebed gegee het ten volle ontketen.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse