Die Koste

Die Koste

Cristin Tippin

”Iemand wat nie sy kruis dra en agter My aan kom nie, kan nie my dissipel wees nie.” – Lukas 14:27

Ek onthou ‘n tyd uit my kinderdae toe ek baie graag ‘n spesifieke speelding wou hê. Ek het my ma daarvoor gevra en sy het vir my gesê ek kan die speelding kry as ek my eie geld gebruik. Ek het vinnig die spaarvarkie leeggemaak (ja, ‘n letterlike spaarvarkie) en die geld wat ek gehad het op hierdie speelding spandeer. En dit was wonderlik. Vir miskien ‘n maand lank. En toe verloor dit sy aantrekkingskrag. En skielik het ek gewens dat ek nie die geld wat ek gespaar het, spandeer het op iets wat vir my so ‘n klein bietjie bevrediging sou bring nie, iets wat nie eintlik die koste werd was nie. En hoewel dit ‘n taamlik onbeduidende herinnering is, het ek geleer om eers ‘n belangrike vraag te vra voordat ek die spaarvarkie leegmaak: Is dit die koste werd?

Terwyl ek Jesus se woorde in Lukas 14 gelees het, kon ek nie help om te dink aan hierdie geleentheid toe ek die eerste keer geleer het om die koste van iets te bereken nie. Want, uiteindelik dink ek die dissipels was gedwing om hierdie vraag vir hulself te beantwoord: Is dit die koste werd om Jesus te volg?

Wat was die koste? Om bereid te wees om “sy eie kruis te dra en [Jesus] te volg”. Die kruis was ‘n verwysing na kruisiging, ‘n grusame metode van marteling wat in ‘n intense pynlike dood geëindig het. Daarbenewens was dit ook algemene praktyk dat hierdie misdadigers hul eie kruis moes dra na die plek van hul kruisiging.

Stel jou voor dat Jesus vir hierdie dissipels sê dat om een van sy dissipels te wees, hulle elkeen gewillig moes wees om hul eie kruis te dra en Hom te volg. Watter beelde dink jy het deur hul koppe gemaal? Beelde van hulself as misdadigers wat hul metode van teregstelling na hul eie dood dra. Beelde van oorgawe, opoffering, pyn en selfs die dood. Wat ‘n skokkende beeld moes dit vir sy dissipels gewees het. In daardie oomblik was elkeen gedwing om hulself af te vra: Is dit die moeite werd om Jesus te volg, ongeag die koste?

As Christene vandag moet ons onsself ook hierdie vraag afvra: Is dit die koste werd om Jesus te volg? Dalk is jou koste om te weerhou van sekere dinge as gevolg van jou toewyding aan ‘n lewe van getrouheid. Dalk is dit om geleenthede te mis omdat jy Christus as Here bely. Dalk ervaar jy onregverdige vervolging. Dalk is die koste werklik om jou lewe in gevaar te stel ter wille van die evangelie. Wat dit ook al mag wees, daar is altyd ‘n koste verbonde om Jesus te volg. En daardie koste is dikwels groot.

So, is dit die moeite werd? Sal die beloning die koste oortref? Die antwoord is ongetwyfeld, ja!

“Ek is daarvan oortuig dat die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie.” – Romeine 8:18

Soos ons in Lukas 13 lees, het die Vader ons genooi na ‘n groot fees, ‘n fees van vreugdevolle gemeenskap en rus en oorvloed. ‘n Fees wat veel swaarder weeg as die huidige opoffering en lyding wat ons nou mag verduur. ’n Fees wat wag vir diegene wat Hom sal volg. Ja, die koste om Jesus te volg is groot. Maar die beloning is soveel groter.

Sommige dae of seisoene of jare mag die koste te hoog lyk. Die opoffering of lyding voel dalk te veel. In daardie dae, lê dit aan sy voete neer. Bely dit aan die Vader wat so diep vir jou omgee. Vra Hom vir groter geloof, volharding en hoop. Hy sal getrou wees, selfs in tye wanneer ons nie is nie (2 Timoteus 2:13). Hy gee genoeg om en is deernisvol genoeg om ons in ons twyfel tegemoet te kom en ons gerus te stel dat, hoewel die koste groot is, die beloning soveel groter is.

Laastens, weet dat Jesus self bereid was om die prys te betaal wat Hy van die dissipels gevra het. Die koste daaraan verbonde dat God se mense van sonde verlos en met die Vader versoen is, was dat Jesus bereid was om sy eie kruis te dra en sy lewe aan daardie einste kruis oor te gee. Terwyl ons nog sondaars was, het Christus vir ons gesterf (Romeine 5:8). Hy was bereid om die prys te betaal, en het geglo dat die komende beloning groter sou wees. En die beste nuus van alles is dat gelowiges in Christus ook erfgename saam met Christus is. Dit beteken dat as ons saam met Hom ly, ons ook saam met Hom sal deel in hierdie beloning (Romeine 8:17). Ons sal die Vader se fees saam met Hom geniet.

En, eendag, hoop ek om saam met elkeen van julle aan die Vader se tafel te kan aansit.

Cristin

Week 5 Uitdaging

Ons Skrifgedeeltes hierdie week fokus op wat dit beteken om ware geloof te hê en hoe dit lyk om ‘n dissipel van Jesus te wees. Soos jy hierdie gedeeltes deurlees, teken die kenmerke van geloof en dissipelskap aan. Vertoon jy dit in jou lewe en verhouding met God? Hoe leef jy elke dag ware geloof uit? Hoe leef jy as ‘n ware dissipel van Jesus? Is daar areas waarin jy kan groei?

Week 5 Leesplan

Week 5 Memoriseervers

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse