Die Grootste Geskenk

Die Perfekte Geskenk

Het jy al ooit ‘n geskenk gekry wat so persoonlik gevoel het en iets was wat net iemand wat jou regtig goed ken jou kon gee? Neem ‘n oomblik om te dink aan so ‘n geskenk wat jy al ontvang het. Dit kan iets eenvoudig wees soos ‘n vriendin wat vir jou jou gunsteling koffie van jou gunsteling koffiewinkel gebring het. Dit kan ook ‘n familielid wees wat vir jou ‘n halssnoer gegee het wat jy by ‘n winkel gesien het, maar nie gekoop het nie, om geld te spaar. Vir my was daardie geskenk toe my beste vriendin vir my ‘n pragtige (en duur) stel akrielteëls gekoop het met ‘n speletjie wat ons graag saam speel. Sy het terloops vir my ‘n webwerf-skakel gestuur sodat ons kan droom oor watter teëls ons sou koop as ons ryk was. Die volgende oomblik was ek besig om daardie teëls op my verjaarsdag uit te pak. Trane het in my oë opgewel en my mond het oopgeval. Ek kon nie glo sy het soveel geld spandeer op ‘n geskenk vir my nie! Ek sal nooit die vriendelikheid, vrygewigheid en liefde vergeet wat ek daardie dag van my beste vriendin beleef het nie.

Die Perfekte Geskenkgewer

Weet jy wie anders hou daarvan om wonderlike geskenke te gee aan diegene wat Hy liefhet? God, ons Hemelse Vader. Efesiërs 2:8-9 sê, “Julle is inderdaad deur genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ‘n gawe van God. Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie.” In daardie verse sien ons dat die grootste geskenk wat ons ooit kan ontvang verlossing is, of die ewige lewe saam met God. Johannes 3:16 is ‘n vers in die Bybel wat baie mense ken en een waarvoor ons nooit gevoelloos moet word nie. Dit sê: “God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het (om aan die kruis te sterf as ‘n offer vir ons sondes – my byvoeging), sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.” Verlossing is om te glo dat God sy Seun, Jesus, aan ons gegee het as die offergawe vir ons sondes. Deur dan met ons mond te bely dat Jesus die Here is en in ons harte te glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal ons gered word (Romeine 10:9).

Om in Jesus Christus en sy kruisdood te glo is al wat ons moet glo om die grootste geskenk van almal te ontvang: verlossing. Maar ná Efesiërs 2:8-9 kom Efesiërs 2:10 wat sê: “God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het.”

Reaksie op die Geskenk

Om die ongelooflike geskenk van verlossing te ontvang, is net die begin van ‘n lewe om saam met Jesus te wandel. Soos ons gelees het, is dit uit genade dat ons gered is, en genade is om enigiets goeds te ontvang wat ons nie verdien nie. God het sy genade aan ons bewys deur vir ons Jesus te gee. Sodra ons die gratis geskenk van verlossing ontvang het, gaan die Heilige Gees ons harte binne, wat ons daartoe lei om te begeer om “goeie werke” te doen uit dankbaarheid vir daardie geskenk. Ons hoef niks te doen om ons verlossing te bewaar nie, want dit is ‘n gawe wat God nooit sal wegneem nie (Joh. 10:28). Ons word egter geroep om van ons ou, sondige weë weg te draai en vorentoe te stap in ons nuwe self in Christus Jesus (Efesiërs 4:22-24). Dit is nie altyd ‘n maklike pad nie, maar dit is een wat verseker die moeite werd is.

Toe my beste vriendin my geseën het met daardie ongelooflike vrygewige geskenk, het sy nie verwag om iets van my terug te ontvang nie. Dit was ‘n gratis geskenk van haar aan my. Dit is hoe God die gawe van verlossing beskou. Dit is ‘n genade-gevulde en gratis geskenk van Hom aan elkeen wat in sy Seun, Jesus, glo.

Om in Jesus te glo is die wonderlikste ding wat ek nog ooit besluit het om te doen. Om die gratis geskenk van verlossing te ontvang, is die mees ongelooflike en goedgunstigste geskenk wat ek nog ooit ontvang het. Dit is vir my baie kosbaarder as die teëls wat my vriendin vir my gegee het. Ek bid dat jy in sy Seun, Jesus, glo en die gratis geskenk van verlossing ontvang, en vorentoe sal stap na die ewigheid met die grootste geskenkgewer.

Hailey

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

Word in Kennis Gestel Wanneer Nuwe Blogs Verskyn

Mees Onlangse Blogs