Groot Lydensweek Dag 2: Die Grootste Gebod

Vandag gaan ons Matteus 21:18 – 24:2 lees. Hierdie gedeelte verduidelik volgens Matteus wat die Maandag voor Jesus se kruisiging plaasgevind het.

Vandag se gekose Skriflesing is Matteus 22:34-40 met Matteus 22:37-39 as ons SOAP-verse.

Jesus antwoord hom:

“‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart

en met jou hele siel en met jou hele verstand. 

Dit is die grootste en die eerste gebod.

En die tweede, wat hiermee gelyk staan, is:

‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’”

As ons aan die woord gebod dink, dink ons miskien aan iets wat ons nie wil doen nie maar wat van ons verwag word om te doen of nie te doen nie. Reëls, wette en regulasies kom by ‘n mens op. God se gebooie is egter nie net daar vir ons beswil nie, maar dit verhoog sy heerlikheid. Ons kan seker wees dat Hy sal voorsien wat ons nodig het om te doen wát Hy ook al van ons vra.

In Matteus 22:37-39 lees ons dat die twee grootste gebooie is om God en ander lief te hê. Jesus het deur sy lewe, dood en opstanding getoon hoe Hy hierdie gebooie vervul het.

Jesus het Hom daartoe onderwerp om te doen wat die Vader van Hom gevra het (Matteus 26:39). Hy was volkome toegewy aan God en om God se wil uit te voer, selfs al het Hy gevra dat dit op ‘n ander manier moes gebeur. Deur sy gehoorsaamheid het Hy die tweede grootste gebod, om jou naaste soos jouself lief te hê, vervul. In gehoorsaamheid aan God se plan, het Jesus Homself opgeoffer sodat sy naastes, ek en jy, ‘n verhouding met God kan hê. As gevolg van sy gehoorsaamheid aan God en sy liefde vir ons het ons oorvloedige lewe in Hom!

Ons het lief omdat God ons eerste liefgehad het. Hoe meer ons ontdek hoe ongelooflik sy liefde vir ons is en toelaat dat sy liefde ons lewens verander, hoe liewer raak ons vir Hom. Die vreugde wat ons ervaar om Hom te ken, is gewortel in ‘n liefdevolle verhouding met Hom.

Hierdie liefdevolle verhouding met God lê die grondslag vir die manier waarop ons die tweede grootste gebod, om ander liefde te hê, tot uitvoering bring. Ons word dikwels daarvan weerhou om ander lief te hê omdat ons oor ons eie behoeftes en welstand besorg is. Ons is begaan daaroor of daar aan ons behoeftes voldoen sal word, en daarom jaag ons persoonlike bevrediging na ten koste daarvan om ander te dien.

Jesus was in staat om ons behoeftes voor syne te plaas, om ons net so lief te hê as vir Homself, omdat Hy seker was van sy posisie met die Vader. Jesus het getoon wat dit beteken om die Here met sy hele hart, siel en verstand en sy naaste soos Homself lief te hê.

In ons strewe om hierdie gebooie na te kom, kan ons gerus wees dat Jesus Christus, ons volmaakte Verlosser, die werk namens ons gedoen het. God sal nooit van ons verwag om ons lewens vir die sondes van die wêreld neer te lê nie, maar Hy kan ons vra om ons eie begeertes, ons gerief, of selfs ons behoeftes neer te lê om sy doel te bereik en ander te dien. Hoewel ons dalk nie daarin mag slaag om sy gebooie na te kom nie, sal Hy ons nooit in die steek laat nie. Mag ons elke dag daarna strewe om Hom met ons hele hart, verstand, siel en krag en ander soos onsself lief te hê.

Hoe kan jy vandag vir God liewer kry? Op watter maniere kan jou liefde vir Hom toeneem? Wat kan jy vandag doen om jou naaste net so lief soos jouself te hê?

*Uittreksels uit hierdie inhoud is oorspronklik gepubliseer in die NET ‘Love God Greatly Bible’ en is geskryf deur Emma Murphy.

 

 

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

Geen Bybelstudie is gevind nie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse