Die Goeie Nuus is vir jou!
Petra Stoneman
Ons het baie bespreek oor die afgelope vier weke. Terwyl ons hierdie week ons Adventstudie afsluit, kom ons fokus op die goeie nuus van Lukas 2:10-12.
Om nie te vrees nie en onsself eerder daaraan te herinner dat die vreugde wat die evangelie vir alle mense bring, makliker gesê as gedaan is. Dit is egter van kardinale belang om volgens hierdie woorde te lewe terwyl ons aanhou probeer om getrou te wees en nie hoop te verloor in die toenemend vyandige wêreld rondom ons nie.
Vandag se verse bied ons ‘n paar spesifieke, wonderlike waarhede wat op ons alledaagse lewens van toepassing is. Kom ons bestudeer hulle saam:
1. Moenie bang wees nie!
Hoe gereeld bekommer jy jou? Wanneer vrees dreig om jou te oorweldig, wat is jou strategie om dit te bekamp? Is jy geneig om toe te gee aan vrees en angs?
Ons leef in ‘n wêreld waar dit nie veel verg om deur vrees oorrompel te word nie. Vir sommige van ons verg dit so min as om die TV aan te skakel en na die nuus hoogtepunte te luister. Ons hoef nie ver te gaan om te sien hoe die kwaad die goeie oorwin nie.
Maar God!
Hy het sy engel na die herders in die veld gestuur, en sy eerste woorde was: “Moenie bang wees nie!”
Hoe kan ons lewe sonder vrees? Die antwoord is beide eenvoudig en ingewikkeld: Deur te onthou wat volgende kom. Die engel het nie daar gestop nie, en God ook nie. Watookal jy in hierdie lewe in die gesig staar op die oomblik, en watter vrese ook al probeer om jou vrede te steel, weet daar is meer om te kom. Die beste lê altyd nog voor.
2. Goeie nuus van Groot Vreugde
Die engel het verder gegaan deur aan die herders te verduidelik wat die werklike rede is waarom hulle nie hoef te vrees nie. Hy het vir hulle goeie nuus van groot vreugde gebring!
Die “goeie nuus” hier in die oorspronklike Grieks is euangelizomai, wat die verbale vorm van die woord “evangelie” is. Die goeie nuus is die evangelie! Dit is dat Jesus as ‘n baba na die aarde gekom het om ‘n lewe te lei wat ons nooit sou kon leef nie en om die dood te sterf wat ons verdien, sodat ek en jy met God versoen kan word en verlossing kan vind deur sy dood en opstanding.
Hierdie goeie nuus is die oplossing vir die probleem met ons siele, wat sonder Jesus bestem is om ‘n dood te sterf met geen hoop op ‘n ewigheid by God nie, maar in plaas daarvan om ewige lyding deur te gaan.
Dit alles behoort, en veroorsaak, vir ons groot vreugde! Ons siele, geskape vir die ewigheid, het lewe en hoop ontvang deur die lewe en dood van Jesus Christus.
Kom ons volg die hemelse leër wat by die engel in vers 13 aansluit en God loof en sê: “Eer aan God in die hoogste hemele!”
3. Aan Al die Mense
Laastens, hierdie goeie nuus van groot vreugde, wat vrees laat verdwyn, is nie vir ons om vir onsself te hou nie. Dit is vir al die mense, in al die nasies regoor die wêreld.
As God se volk, sy kinders, heilig en innig geliefd, behoort ons ons lewens op so ‘n manier te leef dat diegene rondom ons die verskil kan sien. En hulle moet ons nie net sien nie, maar hulle moet duidelik, al is dit sonder begrip totdat ons hulle vertel, die hoë roeping op ons lewens sien om as kinders van die Lig te lewe.
Soos die wêreld donkerder rondom ons word, sal ons helderder skyn – dit sal die verskil wat God in ons lewens maak en die rede vir ons hoop duidelik wys.
Kom ons maak hierdie Kerstyd seker dat die mense naaste aan ons weet wat die rede is vir die hoop wat ons het. Kom ons deel die goeie nuus van groot vreugde!