Die Goedheid van God

Die Goedheid van God

Melissa Fuller

Verbeel ek my, of tref verlies ‘n mens drie-drie? Of is dit vier keer? Dit wil vir my voorkom dat wanneer ek ook al ‘n groot verlies gely het, nog een kort op sy hakke volg. Verlies het ‘n manier om ons diep seer te maak, om ons hoop en ons vreugde en enige opwinding oor die toekoms uit ons te pers. Verlies te midde van ‘n seisoen van seën is soveel moeiliker omdat ons saam met die vreugde van ‘n nuwe begin die hartseer van verlies moet dra. 

In sulke seisoene kan ‘n mens maklik ophou glo dat God goed is. As Hy nie vir my gee waarvoor ek gevra het nie of te lank neem om dit te voorsien, trek ek sy liefde en omgee in twyfel. Ek neem aan dat Hy vir my kwaad is en dat ek een of ander onvergeeflike en onherstelbare fout begaan het. Ek glo steeds dat Hy soewerein en magtig is en my sondes vergewe, maar in ‘n seisoen van verlies glo ek dikwels dat Hy nie meer vir my goed wil wees nie.

Naomi het ongelooflike verlies ervaar. Sy het geweet wie God is, sy was oortuig van sy karakter—dat Hy soewerein, altyd teenwoordig en goed is—maar sy het ophou glo dat Hy vir haar goed is. Sy het haar man, haar seuns, haar huis en een van haar skoondogters verloor. Sy moes met niks na haar mense terugkeer, diep verneder. Sy het beplan om alleen terug te gaan, maar Rut het geweier om haar te verlaat. Nou moes sy vir hulle albei ‘n heenkome probeer vind. Hoe kon God vir haar goed wees en goeie gawes vir haar gee as dít haar situasie was?

Naomi se verlies wat sy moes ly was so groot dat sy (soos enigeen van ons) verbitter geraak het. Smart het ‘n manier om wat ons weet waar is, in stryd te bring met wat ons omstandighede ons wil wysmaak. Dit is maklik om geloof en hoop te verloor. Dit is maklik om te glo dat God ons vergeet het en nie meer vir ons omgee nie.

Wat Naomi se verhaal egter vir ons toon, is dat God altyd ‘n plan ten goede van ons het. Hy is altyd aan die werk. Nadat die skrywer Naomi se hartverskeurende woorde opgeteken het, het hy ‘n voorafskaduwing van die daaropvolgende gebuere gegee en daarmee aangedui dat God nog nie klaar was met haar verhaal nie.

Naomi het ‘n seisoen van verlies deurgemaak, ‘n seisoen wat haar laat ophou glo het dat God vir haar goed was. God het haar nie sommerso laat staan nie. Hy laat nie een van sy kinders sommerso staan nie. Hy het aangehou werk in Naomi se lewe en verhaal, deur nie net in haar fisieke behoeftes te voorsien nie maar ook haar geloof in sy goedheid te herstel.

Ons weet hoe Naomi se verhaal eindig—dat die skoondogter wat by haar gebly het op die ou end beter as sewe seuns was—maar ons weet nie hoe ons verhale gaan uitspeel nie. Ons mag dalk eers in die ewigheid sien dat ons verlies eintlik ‘n goeie gawe was. Hiervan kan jy egter seker wees: Jou God is steeds goed.

Ongeag of jy oorweldig is deur bitterheid of vreugde, God se goedheid verander nooit nie. God het nie nodig dat ons moet glo Hy is goed om goed te wees nie. Hy het egter spesiale genade en hulp belowe aan diegene wat Hom aanroep en Hom vertrou. Hy sal ons te midde van die moeilike tye met vrede vervul as ons in sy goedheid rus.

God gee om. Ongeag watter verlies jy deurmaak, Hy is steeds ‘n God wat goeie gawes vir ons gee. Hy is steeds die God wat soveel vir sy kinders omgee dat niks Hom sal keer om sy goedheid aan ons te bewys nie. Dit is baie voordelig om in vertroue en geloof in God se goedheid deur die lewe te gaan. Wanneer ons in Hom glo, kry ons groot hoop en moed om nog ‘n dag aan te pak. Maar selfs in ons diepste pyn, selfs al voel dit onmoontlik om Hom te vertrou of te glo dat hy goed is, sien Hy ons. Die bewys van God se goedheid word geopenbaar in sy getrouheid, nie in ons geloof nie.

Waar jy jou ook al vandag bevind, wat jy ook al voel en in die gesig staar, Hy sien jou. Hy weet. En Hy is goed. Kom ons kies vandag om te glo dat Hy steeds goed is. Dat Hy steeds goeie gawes vir ons gee. En dat Hy veel meer sal doen as om net ons behoeftes te bevredig, want Hy is besig met ‘n plan om ons weer in sy goedheid te laat glo.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse