Die Gewer

Die Gewer

Petra Stoneman

“Die Here God is ons krag en ons beskerming,

die Here gee genade en eer,

Hy weerhou die goeie nie

van dié wat reg lewe nie.”

Psalm 84:12

Welkom by die eerste dag van ons nuwe studie!

In hierdie komende seisoen gaan ons daarna streef om ons harte op die Here te rig en Psalm 84 is ‘n wonderlike plek om te begin.

Wanneer ek Bybelstudie doen, hou ek soms daarvan om sommige van die hoofwoorde in ons SOAP verse te kies en dieper daarna te kyk. Kom ons delf saam dieper:

Krag en Beskerming

Die “New English Translation” praat van “soewereine beskermer.” Wanneer jy die woord soewerein in die woordeboek opsoek, vind jy die volgende betekenisse:

–       oppermagtig

–       absoluut

–       kenmerkend van ‘n opperheerser

–       besit die hoogste rang, mag of outoriteit

Die eenvoudigste manier om op te som wat soewereiniteit beteken, is dat God in beheer is.

Maak nie saak wat met ons, of om ons gebeur nie, in watter omstandighede ons onsself bevind nie of wat die lewe na ons kant toe gooi nie, God is steeds in beheer.

In Genesis 50:20 het Josef gesê: “Julle wou my kwaad aandoen, maar God wou daarmee goed doen…” Selfs aan die begin van die hele verhaal, in die eerste boek van die Bybel, sien ons God se soewereiniteit oor Josef se lewe. Hy het baie beproewings en swaarkry beleef, maar God het elkeen daarvan gebruik tot Josef se beswil en God se eie glorie.

In ons verse van vandag uit Psalm 84, bevestig God dieselfde vir jou. Hy is JOU soewereine God. Hy staan agter jou. Hy is in beheer.

Om te beskerm, beteken om veilig te hou teen skade, om te beskut, om iemand van skuiling te voorsien en om te verdedig.

God sê dat Hy jou soewereine beskermer is en Hy ís dit. Hy het jou lief, Hy gee innig vir jou om en Hy oorlaai jou met elke goeie gawe deur die grootste Geskenk ooit gegee: ons Here en Verlosser Jesus Christus.

Jy en ek hoef niks te vrees nie. God is in beheer en Hy beskerm ons.

Genade en Eer

Die lewe is somtyds baie moeilik. Te midde van ‘n wêreldwye pandemie, beperkings om te reis, fisiese- en geestesgesondheid, rekeninge en finansies, werksverpligtinge of familie verantwoordelikhede is ons onder baie druk.

God se Woord bied diepe troos. Nie die soort troos wat hierdie wêreld bied nie, maar die “vrede van God wat alle verstand te bowe gaan” (Filippense 4:7). Wanneer ons sy Woord oopmaak, selfs op die moeilikste, donkerste dae, vind ons hoop, verlossing, bemoediging en ‘n uitdaging om ons geloof uit te leef en dit met ander te deel.

Psalm 84:11 sê dat God ons nie net beskerm en niks goed van ons weerhou nie, maar Hy gee ook genade en eer aan ons as sy kinders.

“Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! Hy het ons in Christus geseën met al die seëninge van die Gees wat daar in die hemel is.” – Efesiërs 1:3 (nadruk myne)

Wat ‘n bemoedigende waarheid! Maak nie saak wat jy vandag in die gesig staar nie, neem ‘n oomblik om hieroor te besin. Hoe groot is ons God!

Dié wat reg lewe

Dit mag die einde van ‘n pragtige vers wees, maar moet dit nie miskyk nie. Die laaste sin is belangrik en dra ‘n belangrike betekenis. Om dit nie raak te sien nie sal katastrofies wees.

Al die wonderlike waarhede wat ons vandag uit Psalm 84 geleer het, is waar vir “dié wat reg lewe.” Sommige ander vertalings sê ook “dié wat in opregtheid wandel.”

Om integriteit te hê beteken om eerlik te wees, om sterk waardes te hê, om heel en onverdeeld te wees.

Ek weet nie van jou nie, maar dit is waar ek tekortskiet. Ek word afgelei, ek is definitief verdeeld en my waardes kan wankel afhangende van hoe moeilik my omstandighede blyk te wees.

Gelukkig het God ‘n weg gemaak selfs vir mense soos ek om toegang tot hierdie wonderlike waarhede te hê: “God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê. God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word.” – Johannes 3:16-17.

Niemand van ons is perfek nie, en God verwag nie dat ons aan daardie standaard moet voldoen nie.

Dit is hoekom Hy sy Seun, Jesus Christus gestuur het om vir jou te sterf, sodat Jesus in jou plek kan staan. As jy in Jesus glo, sien God jou as perfek as Hy na jou kyk, as gevolg van Jesus.

Moenie dat die standaard van perfeksie jou terughou nie. Laat God, alles wat Hy is en alles wat Hy gedoen het, jou met verwondering, dankbaarheid en ‘n dieper liefde vir Hom vul.

Kom ons loof Hom, die Gewer wat niks goeds van ons weerhou nie. Hy is die Goedheid Self.

Week 1 Uitdaging:

Maak hierdie week ‘n volledige lys van die geskenke wat God jou gegee het. Hou in gedagte dat sommige van hierdie geskenke moontlik nie is wat jy verwag nie. Prys Hom vir elkeen van hierdie geskenke.

Week 1 Leesplan:

Week 1 Memoriseervers:

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse