Wandel in die Waarheid

 

Wandel in die Waarheid

Deur Kelli Trontel / 11 September 2020 / Ken Die Liefde

Die krag van die waarheid kan nie ontken word nie.

Die woord waarheid kom vyf keer in die eerste vier verse van 2 Johannes voor.

Die grondslag van ons geloof is volkome gebaseer op die waarheid en ons sien dit in Johannes 8:32 waar daar staan, “en julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vry maak.”

Ek kan daarvan getuig hoe vol vreugde my moederhart is as my kinders volgens die waarheid leef. Dit is altyd verblydend as ‘n mens sien hoe ‘n gelowige opstaan en volgens die waarheid lewe, maar soveel meer nog wanneer iemand wat jy persoonlik gedissipel het volgens God se Woord leef. Ek dink dieselfde sentiment word in 2 Johannes 4 weergegee waar Johannes beskryf hoe hy voel wanneer hy sien hoe gelowiges hul lewens ooreenkomstig God se gebooie leef: hy was verheug.

Twee woorde in besonder staan vir my uit in hierdie gedeelte: van jou. Johannes sê: “Ek was baie bly toe ek van jou kinders teëgekom het wat in ooreenstemming met die waarheid lewe, volgens die gebod wat ons van die Vader ontvang het” (2 Johannes 4). Dit impliseer dat nie almal aan wie die waarheid voorgehou is, daarvolgens leef nie. As dít nie ‘n wekroep is nie, dan weet ek nie wat is nie. Dit is nogal ‘n ontstellende werklikheid en waarlik iets waaroor ons daagliks op ons knieë moet wees.

Een ding waarvan ek seker is, selfs nadat ek ontrouheid, egskeiding en enkelouerskap die hoof moes bied, is dat ek vandag ‘n sterker en meer gefokusde ma is as voor die verbrokkeling van my gesin. Die verplettering waardeur my gesin gegaan het, het my ‘n kans gegee om op te staan en erns te maak met die redding van my kinders. Ek kon nie meer net aanvaar dat alles veilig en buite die vyand se bereik is nie. Nie dat ek voorheen nie ernstig daaromtrent was nie, maar dis op ‘n heel ander vlak wanneer jou gesin so aangeval word. Nie net het die duiwel met die verkeerde mamma skoor gesoek nie, maar my kinders is deesdae vurige gebedstryders. Hulle het eerstehands die voorsiening en goedheid van God in ons lewens ervaar toe ons uit die as opgestaan het. Wat bedoel was om vernietiging te saai, het die Here ten goede en tot sy verheerliking gebruik en Hy doen dit steeds. Dit is die waarheid.

Al waaraan ek kon vasklou in daardie donker tyd was die waarheid, en dis waaraan ek vandag vasklou terwyl ek my nuwe lewe op koers kry. (Dit help ook as ek aanbiddingsmusiek harder sit as my gedagtes!) Die stryd om ons gedagtes is regtig, julle! Waarheid het my bevry van elke leuen wat in my gedagtes opgekom het, elke versoeking wat op daardie tydstip reg gevoel het.

Teleurstelling is die speelterrein waarop die vyand graag speel om ons te pootjie. Dis egter in daardie seisoene van verlies, hartseer en teleurstelling wat ons nog stywer aan God se waarheid moet vasklou en moet leef asof ons dit glo. Ons kan nie bekostig om passief met die waarheid saam te stem of dit van kleins af diep in ons gedagtes wegbêre nie; ons moet dit glo en leef, vandag.

Terwyl die huis in die mark was het ek en die kinders elke liewe aand gebid en verklaar dat ons, ofskoon ons nie geweet het waarheen ons sou verhuis as die huis verkoop nie, glo die Here het ‘n goeie plan vir ons. Ons het God se Woord toegeëien (Romeine 8:28, Galasiërs 6:9, Jeremia 29:11) en sy beloftes oor ons uitgespreek en Hom op sy Woord geglo. Ons kon net sowel in twyfel en angs gesit het, maar ons het gekies om God te vertrou. Dit is Satan se grootste begeerte om ons op ‘n dwaalspoor te bring en ons die waardes en waarhede wat ons aanhang, te laat bevraagteken.

Ons huis het op die perfekte tyd verkoop en tot vandag toe is ek en die kinders verstom oor wat die Here vir ons gedoen het. Trouens, my sewejarige seun het dit eerste verwoord: “Mamma, terwyl ons gewag het vir ons huis om te verkoop, het God vir ons ‘n huis gebou.”

Die trane het gevloei.

Ek dink nie ek het al so ‘n wonderlike oomblik beleef as toe my eie seun vir God die eer gegee het vir wat Hy in daardie seisoen vir ons gedoen het nie.

As Johannes so verheug was om te sien hoe gelowiges in die waarheid bly, kan jy jou hoegenaamd indink hoeveel vreugde daar in die hemel heers oor ons as ons in die waarheid en liefde en ontferming en genade leef?

Gebed: Here, dankie vir U Waarheid. Dankie dat U naby die gebrokenes van hart is. Dankie vir die planne wat U vir ons het wat ons bewaar teen die kwaad. U Woord is die waarheid en mag die waarheid van u Woord weerklink in die ore van almal wat U nodig het en herinner moet word aan wie U vandag is.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse