Die Evangelie van Vrede

Die Evangelie van Vrede

Ebos Aifuobhokhan

Wat beteken dit om sterk te wees? Ons wêreld definieer dit dikwels as ‘n persoon se vermoë om op homself staat te maak, en niemand of enige iets nodig te hê nie. Ongelukkig word daardie definisie van krag dikwels in ons verhouding met God geïnkorporeer. God weet dat ons niks op ons eie kan doen nie. Hierdie lewe in Hom kan nie met ons eie wysheid en begrip geleef word nie. Om die mense te wees wat Hy wil hê ons moet wees, kan nie in ons eie krag gedoen word nie. Om teen die duiwel en sy planne te staan kan nooit in ons eie krag gedoen word nie. Dus, wanneer God sê wees sterk of staan vas, sê Hy “leun op My, kyk na My, kyk na my aangesig, vertrou My, vertrou my krag en wysheid vir jou.” Op ons eie het ons geen idee hoe om die duiwel te beveg nie. In die boek Openbaring word hy die draak genoem. Hy is al so lank as wat die aarde bestaan in hierdie spel van oorlogvoering, maar God nooi ons uit om by Hom te leer. Dit is tyd om ons pogings terug te trek en op Hom te steun.

Een van die kledingstukke wat baie ongemaklik kan wees as dit nie reg is nie, is skoene. Wanneer jou skoene jou druk, kan dit jou doeltreffendheid en beweging ongelooflik beïnvloed. Jy sal sien hoe iemand hul skoene uittrek wanneer hulle eerder ‘n hindernis as ‘n hulp word. ‘n Persoon kan die duurste en mees stylvolle klere aantrek, maar sonder skoene sou hul voorkoms nie volledig wees nie.

Vir hierdie oorlogvoering teen die duiwel kan ons nie sonder ons skoene in die stryd gaan nie. ’n Soldaat gaan nie met alles in die stryd en vergeet sy skoene nie. Skoene dui daarop dat ons gereed is om te beweeg. Die evangelie bied die grondslag, buigsaamheid, beskerming en beweeglikheid vir alles wat ons as kinders van God doen. Wanneer iemand in ‘n geveg in die voet gewond word, word daardie persoon ‘n maklike prooi vir die vyand.

Die evangelie is die boodskap van vrede, verlossing en waarheid. As kinders van God wat wil vasstaan en altyd waaksaam wil wees vir die planne van die duiwel, moet ons altyd gereed wees met die waarheid. Wanneer ons voor leuens te staan kom, kan ons dit weerlê met die waarheid van God se Woord. Ons moet in ‘n konstante plek van gereedheid en beweeglikheid wees om die planne van die duiwel met die evangelie te weerlê.

As ek ‘n marathon wil hardloop, sal ek nie stiletto’s dra nie. Ek sal soek na die doeltreffendste en gemaklikste tekkies wat geld kan koop sodat ek kan hardloop en goed kan hardloop. Dieselfde geld vir ons voortdurende geestelike oorlogvoering. Ons kan nie op ons eie, met ons eie woorde of die wêreld se wysheid veg of wen nie. Ons voltooi ons wapenrusting met die waarheid wat in God se Woord is. God se Woord bring volledigheid en heelheid aan alles. Wanneer God se Woord ‘n plek binnegaan verander dit alles, maak nie saak hoe lank duisternis en chaos geheers het nie. God se Woord het die groot krag om ons van die alledaagse na die goddelike te vat. Dit het die mag om elke vyand en versperring omver te werp. Sy krag word vir ons beskikbaar gestel om vas te staan, gereed teen alles wat die duiwel na ons wil gooi.

Ons is die vinnigste en die gereedste om teen die duiwel te veg wanneer ons die regte skoene aan het: die evangelie van vrede.

Kyk hoe Jesus geveg het in Matteus 4:3–4: Die versoeker het toe gekom en vir Hom gesê: “As U die Seun van God is, sê  hierdie klippe moet brood word.” Maar Hy antwoord: “Daar staan geskrywe: ‘n Mens leef nie net van brood nie, maar van elke woord wat uit die mond van God kom.”

Toe Jesus voor sy eie gevegte te staan gekom het, het Hy geen bonatuurlike krag gebruik om te veg nie. Hy het bloot die geskrewe Woord van God aangehaal.

Ons het ons Bybel en ons het die Heilige Gees wat met ons praat – ons het beide die geskrewe en gesproke Woord van God daagliks by ons. Vriendinne, julle het alles wat julle nodig het. Staan op en veg!

Die HERE is aan jou kant.

Week 3 Uitdaging:

Fokus hierdie week om te bid oor areas in jou lewe waar jy sukkel om vrede te vind. Miskien is dit die angstige gedagtes wat jou gedagtes vul die oomblik wat jy wakker word of die gedagtes wat jou aanhou bombardeer terwyl jy probeer aan die slaap raak. Wat ook al jou stryd is wat veroorsaak dat jy ‘n gebrek aan vrede het, skryf dit neer in jou gebedsjoernaal of op ‘n notakaart en bid daaroor elke keer as daar ‘n angstige gedagte by jou opkom. Leer om negatiewe gedagtes te vervang met wat waar, edel, reg en rein is.

Week 3 Leesplan:

Week 3 Memoriseervers:

Ebos

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

Word in Kennis Gestel Wanneer Nuwe Blogs Verskyn

Mees Onlangse Blogs