Die Doel van Geloof

Die Doel van Geloof

Crystal Stine

Toe my man vir my gevra het om te trou, was ons op die voorstoep van my ouerhuis en ek het dit nie maklik gemaak vir hom nie. Ek was in ‘n sweetpakbroek, gereed vir ‘n gemaklike aand saam met familie, maar in plaas daarvan was ek en hy  buite op die swaai, in die koue, en hy kon nie die woorde uitkry wat hy wou sê nie. Ek was ongeduldig en verward – totdat hy uiteindelik gevra het of ek met hom sal trou. Verwarring het in verrassing verander en ongeduld het opgewondenheid geword toe ek “ja” gesê het en die ring wat hy geweet het ek voor lief sou wees, aan my vinger gesit het.

Sestien jaar later het hy besef ek dra nie my ringe nie, want hulle pas nie meer nie. Ons het ‘n nuwe stel gevind wat aansienlik meer bekostigbaar was as die oorspronklikes en wat in grootte en styl by my huidige lewensfase pas. Die meisie wat vroeër van alles wat silwer was gehou het, is nou ‘n groot aanhanger van roosgoud, en die universiteitstudent wat iets groots en deftigs wou hê om aan haar vriende te wys, wou nou iets hê wat eenvoudig is en nie aandag trek nie.

Ek het die resensies vir die ringe gelees en geweet ons kry niks spoggerigs nie. Trouens, die meeste van die resensies het gekla dat die roosgoue afwerking op die ringe vinnig afgeslyt het, maar ek het dit in elk geval gekry, en gedink dit sou sekerlik anders vir my wees. Dit was nie. Die ringe is steeds pragtig, maar al die roosgoud is weg. Die stene skyn net wanneer dit gereeld skoongemaak word en wanneer dit in sekere beligting is. Ek is steeds lief vir my ringe en wat hulle simboliseer, maar die nuutheid het afgeslyt – letterlik.

Op baie maniere voel ek soos daardie ringe. Afgemat. My gewone glans ontbreek. Ek benodig dringend ‘n bietjie liefdevolle goedhartigheid en aanmoediging om my sprankel terug te bring. Die “veg of vlug” situasie van vrees en onsekerheid die afgelope paar jaar het my liggaam laat reageer op allerhande maniere wat dit nie veronderstel was om te reageer nie. Die rede? Ek het my hoop gevestig op dinge wat tydelik is in plaas daarvan om te rus in die hoop en sekuriteit van Jesus.

Ons verse vandag was die boodskap wat ek nodig gehad het om te hoor: dat ons geloof meer werd is as goud. Niks wat die wêreld het om te bied nie – maak nie saak hoe deftig of sprankelend of indrukwekkend dit is nie – vergelyk met die rykdom van ‘n geloofslewe wat eer en glorie aan Jesus bring nie. Daar is geen doel wat ons vir ons lewens kan stel nie, geen tydelike geluk wat ons ervaar, wat kan vergelyk met die bereiking van die doel van ons geloof: die redding van ons siele nie.

Mag ons vroue wees wat in ‘n donker wêreld skyn – nie as gevolg van enige wêreldse versierings of prestasies nie – maar omdat ons die getroue liefde en blywende hoop wat ons in Jesus het, weerspieël.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse