Die Deur en die Herder

Die Deur en die Herder

Crystal Stine

“Ek is die ingang; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word. Hy sal in en uit gaan en weiding kry. ‘n Dief kom net steel en slag en uitroei; Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed. Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape.” –Johannes 10:9-11

Elke keer wanneer ek hierdie gedeelte lees, kom twee verwysings uit die popkultuur by my op. Die eerste is die animasieprent Monsters, Inc. waarin die hoofkarakter ‘n tamaai, wolhaar monster is wat, nadat hy ‘n dogtertjie ontmoet, bangmaak vir lawwigheid verruil. Al die aksie gebeur terwyl hulle heen en weer beweeg deur deure wat hulle twee wêrelde verbind. In die klimakstoneel in die prent bevind die karakters hulle in ‘n fabriek vol deure wat bokant hulle koppe swaai terwyl hulle die skurk probeer uitoorlê om by die een deur uit te kom wat die dogtertjie by haar huis gaan uitbring.

Die ander minder dramatiese beeld is een wat my elke keer laat lag as ek saam met my dogter daarna kyk. In een van die Veggie Tales-prente oor Dawid, is daar skapies wat aanhou omval – en so bly lê totdat iemand hulle ophelp.

In my gedagtes voel die twee uitsprake wat Jesus in vandag se gedeelte maak, so uiteenlopend soos daardie twee voorbeelde. In die lys van sewe uitsprake wat ons in die Johannes-evangelie aantref, het ek altyd hierdie twee as aparte uitsprake gelees, maar hulle is op ‘n baie interessante wyse met mekaar verbind. 

In ons Skriflesing vandag gebruik Jesus ‘n illustrasie wat sterk by sy gehoor sou aanklank vind. Soos die Veggie Tales-prent vir ons uitbeeld, is skape geneig om weg te dwaal, hulle weier om weg te hardloop van gevaar af, en word maklik beseer. Sonder ‘n herder wat hulle lei en beskerm, sal hulle mekaar oor ‘n afgrond volg of saambondel, en dit nog makliker maak vir ‘n roofdier om hulle aan te val. Sonder hulle herder sal die skape nooit hulle pad huis toe kan kry nie.

In Jesus se tyd en kultuur sou die mense vertroud wees met twee soorte skaapkrale. Die een was binne die dorp en kon baie troppe wat aan verskillende herders van die dorp behoort het, hou. Elke nag het iemand die kraalhek bewaak om seker te maak niemand gaan in en geen skape kom uit nie. Elke oggend sou hulle die hek oopmaak en dan het die herders hulle skape geroep (wat die stem van hulle herder sou herken en volg).

Die ander kraal was kleiner en gewoonlik van klippe gebou, ‘n plek waar ‘n herder oornag sy trop skape bymekaar kon hou as hulle nie na die dorp sou terugkeer nie. Hierdie klipkrale het nie deure of hekke gehad nie, en daarom het die herder, wanneer hy seker was dat al sy skape daar is, se liggaam letterlik die kraalhek geword wat sy skape beskerm. 

Terwyl Jesus na Homself as ‘n beskermer en gids verwys, beskryf Hy daarteenoor die godsdiensleiers as diewe en rowers (Johannes 10:1). In plaas daarvan dat hulle skape steel, beroof hulle die mense van die kans om gered te word deur te ontken dat Jesus die Seun van God en die enigste weg na die ewige lewe is. Dit was harde– en beledigende – nuus vir sy toehoorders om aan te hoor. Hulle het ‘n Messias verwag wat ‘n koning of militêre leier sou wees, nie ‘n herder wat Hom so laag sou verneder om sy lewe vir ons af te lê nie.

Deur die Deur het ons die weg en deur die Herder het ons die belofte en beskerming teen die vyand wat wil steel, slag, uitroei en ons aandag van ons uiteindelike bestemming — ‘n ewigheid in die hemel saam met Jesus — wil weglei. Terwyl ons die waarheid oor wie Jesus is, omarm en die uitsprake wat in die Johannes-evangelie gemaak word, glo, mag ons luister na sy stem terwyl Hy ons lei, soos Dawid in Psalm 23 skryf:

“Die Here is my herder, ek kom niks kort nie.

Hy laat my rus in groen weivelde.

Hy bring my by waters waar daar vrede is.

Hy gee my nuwe krag.

Hy lei my op die regte paaie…”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse