Die Behoefte aan Vergifnis

Die Behoefte aan Vergifnis

Die afgelope somer kom my dogter na haar swemles barstens toe vol opgewondenheid na my en vertel vir my van haar nuwe maatjie. Hulle het albei die moed bymekaargeskraap om ‘n bietjie te gesels terwyl hulle in die swembad gewag het op hulle volgende instruksie, en voordat jy kon sê “mes”, het hulle gou-gou maats gemaak.

Toe ek haar vra wat haar maatjie se naam is en waaroor hulle gepraat het wat hulle laat besluit het om maats te word, het my dogter natuurlik geen benul gehad nie. Name en besonderhede was van minder belang as ‘n gedeelde ervaring en saamgiggel terwyl hulle borrels blaas in die swembad. Behalwe die paar somerswemlesse het die meisies nooit weer saamgekuier nie; tog het hulle, tipies kinders, besluit dat dit oorgenoeg was vir hulle vriendskap. 

Vir my is vriendskap, veral as volwassene en met ander vroue, intimiderend. Ek het al so dikwels in die verlede drooggemaak dat ek weet hoe dit voel om vriendskappe te sien verbrokkel. Ek is deur vriende seergemaak en weet hoe pynlik dit is om tevergeefs te wag op ‘n apologie. Menige kere het ‘n vriendskap opwindend en hoopvol begin, maar namate die bedrywigheid van die lewe ons tyd en aandag elders geverg het, het die vriendskap begin verdof.

Ons Skrifgedeelte vandag dui vir ons op een van die sleutelelemente van vriendskap: vergifnis. Die een of ander tyd gaan ons almal foute maak. Ons gaan aanjaag, die verkeerde ding sê, ons vriende seermaak en deur hulle seergemaak word. Dit is nie asof vriendskap ‘n verhoudingsplan vol inherente tekortkominge is nie – trouens, ons is wonderlik ontwerp om in gemeenskap te leef. Die waarheid is eenvoudig dat geen verhouding tussen onvolmaakte mense ooit volmaak gaan wees nie. Hoe ons kies om sulke oomblikke te hanteer, gaan nie net bepaal hoe gesond ons toekomstige verhoudings is nie, maar sal ook ons harte openbaar.

“Julle is die uitverkore volk van God wat Hy baie liefhet. Daarom moet julle meelewend, goedgesind, nederig, sagmoedig en verdraagsaam wees. Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het. Soos die Here julle vergewe het, moet julle mekaar ook vergewe. Bo dit alles moet julle mekaar liefhê. Dit is die band wat julle tot volmaakte eenheid saambind.” Kolossense 3:12-14

As ons die soort vriende is wat kies om barmhartig, vriendelik, nederig, sagmoedig, geduldig en liefdevol op te tree, sal ons vergifnis kan vra – en aanbied – om ons verhoudings te eerbiedig. As ons liefhet soos Christus liefgehad het, kan ons vergewe soos Christus vergewe het. Dit is wat ons vriende sal ervaar – ‘n liefde wat voortvloei uit oorvloedige tyd wat in noue verbondenheid met die Here geleef word, terwyl ons op Hom (en nie op ons vriende nie) staatmaak vir veiligheid, vertroue en vreugde.

As jy sukkel om ‘n vriendin te vergewe omdat jy geen verskoning ontvang het nie, ek was ook al daar – maar my gebed is dat jy nie daar sal bly nie. Stort jou hart teenoor God uit. Vertel Hom alles wat gebeur het, alles wat jou seergemaak het. Hy weet, en Hy sal al die pyn wat jy met jou saamdra, op Hom neem. Vra Hom om jou te help om te vergewe sodat jy van die seer ontslae kan raak voordat dit jou hart verhard. Vergifnis is nie dieselfde as versoening nie, maar dit sal jou help op jou pad na vryheid en genesing.

Miskien moet jy hierdie week ‘n vriend of vriendin vra om jou te vergewe om ‘n verhouding te herstel. Vra God om jou te help om nederig, vriendelik en liefdevol te praat terwyl jy aanspreeklikheid aanvaar en tot die daad oorgaan. Dit mag dalk na ‘n makliker, veiliger uitweg lyk om mense weg te stoot, maar dit is nie hoe ons ontwerp is nie.

“Maar as ’n mens leef soos God dit in sy wysheid bedoel het, sal jou lewe heeltemal anders lyk. Dit sal ’n lewe wees waarop die sonde geen houvas het nie. So iemand sal in vrede met ander mense saamleef; hy trap nie op ander nie, maar neem hulle gevoelens in ag; so ’n persoon is ook nie dwarstrekkerig en moeilik om mee saam te werk nie; hy vergewe ander maklik en doen graag dinge vir ander sonder om iets terug te verwag; wat hy doen, sal altyd net goed vir ander wees. Hy sal nie op ’n onregverdige manier kant kies nie. Jy sal altyd weet waar jy met hom staan. Soos hy voor jou is, so is hy ook agter jou rug. Dit is belangrik om in vrede met mekaar te leef. Sorg dat waar jy gaan, vrede jou soos ’n skaduwee sal volg. Om in vrede met mekaar te leef is reg en mooi voor God” Jakobus 3:17-18 (Die Boodskap).

God se Woord erken dat ‘n gesonde verhouding harde werk vra, en God het vir ons die toerusting voorsien wat ons nodig het om goeie vriende te wees. Kom ons werk hard saam daaraan.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse