Die Bedrieglikheid van Trots
Andrea Lopez
Herdefinieer Nederigheid
Trots is een van daardie snaakse konsepte waar ons onsself kan uitoorlê deur te glo dat ons glad nie trots is nie, eerder nederig. Dit was nog altyd vir my ‘n stryd, veral in die bediening. Wanneer ons bedienings floreer en ons baie bemoedig word, is dit maklik om te antwoord met, “Dankie, maar dis nie my toedoen nie. Dit was alles God!” Ek het dikwels met ‘n soortgelyke sentiment gereageer, en, ten minste in ‘n mate, bedoel ek dit dikwels.
In my kop weet ek dat slegs God die bediening kan bemagtig. Terselfdertyd word ek in die versoeking gebring om die eer te neem vir dit wat God uiteindelik gedoen het. My kop weet dat God aan die werk is, maar my hart glo soms steeds dat ek sy noodsaaklike werktuig is. Iewers langs die pad het ek myself toegelaat om nederigheid te herdefinieer. Ek het my eie beuel begin blaas, myself laat glo dat alles so goed werk omdat ek die sterkpunte wat God my gegee het so effektief en doeltreffend gebruik het, alles danksy my harde werk. Hierdie roekelose gedagtegang is verlede jaar tot struikeling gebring. God het baie verskillende situasies gebruik om my sagkens te wys waar ek trots in ‘n ‘nederige-kombersie’ toegevou het.
Lesse in Nederigheid
‘n Jaar gelede het ek na die buiteland verhuis en moes ‘n nuwe taal baasraak, dit het my laat weerklank vind in Salomo se waarskuwing dat trots voor die val kom (Spreuke 16:18). Ek het besef dat dit moeilik sou wees om ‘n nuwe taal aan te leer. Ek is nie ‘n ouditiewe leerder nie, en ek raak maklik uitgeput in nuwe sosiale situasies, selfs in my moedertaal, wat nog te sê in ‘n nuwe taal met mense wat ek nie goed ken nie. Ek het gedink dat ek dit uiteindelik, met moeite, sou bemeester.
In my hart het ek myself oortuig dat dit nederig was om te erken dat om ‘n nuwe taal te leer uitdagend maar hanteerbaar sou wees, en dit terwyl ek met my lippe bely hoe groot God se krag is. Wat ek nie verwag het nie, was dat een jaar nadat ek verhuis het, en nege maande van voltydse taal onderrig later, ek steeds nie die taal sou kon baas raak nie. Ek herinner myself hoe ek tydens ‘n oproep met ‘n vriendin in trane uitgebars het toe ek haar vertel het dat ek nie my kinders dokter toe kon neem, met my dogters se onderwysers gesels of selfs ‘n pizza bestel sonder om ‘n angs aanval te kry wanneer ek moes praat nie. Ek onthou hoe ek my hart voor haar uitgestort het oor hoe ek dit mis om nodig en nuttig te voel.
Woorde, diep gesprekke, doelbewuste vriendskappe – die dinge wat ek altyd as my sterkpunte beskou het en deel van my identiteit was, veral in die bediening – was nie meer sterkpunte as ek nie kon praat nie. Ek het nie van die dak af geskree dat ek trots op hierdie dinge is soos Koning Nebukadnesar gedoen het nie. Tog het ek beslis in my hart my eie lofsange gesing en my verlustig in die groei van geestelike sade, wat ek geglo het as gevolg van my toedoen, floreer het. Ek het ook elke kompliment of aanmoediging as eer vir my eie majesteit opgeteken.
In my trotsheid het die Here my nederig gemaak en my oë geopen om my opgeblase arrogansie raak te sien. God het my vermoë om maklik te kommunikeer weggeneem om vir my te wys hoe ek sy krag as vanselfsprekend aanvaar het en myself krediet gegee het vir sy koninkrykswerk. Ek het besef dat ek trots was op wat ek glo ek deur my eie krag en sterkte bereik het. My trotsheid het my mislei om te dink dat my doel geanker was in wat ek vir God kon of nie kon bereik nie. Die oomblik toe daardie bron van trots weggeneem is, het ek in doelloosheid verdrink.
Aanbid in Nederigheid
Ek was, en is steeds, dikwels blind vir my swakheid. Ek kan maklik vergeet dat ek ‘n sondaar is wat alleen deur genade gered is, en ek sukkel om te aanvaar dat ek bloot ‘n brose kleipot is wat die evangelieskat bewaar, nie deur my eie krag nie, maar deur God se voortreflike krag (2 Korintiërs 4:7). Maar God se krag word in hierdie swakheid vertoon. Wat ‘n enorme doel is dit!
My trots word gevoed wanneer ek begin verlang om soos God te wees, om die dinge te doen wat slegs God kan doen, en om die eer te neem vir sy werk. Christus toon ons ware nederigheid wanneer Hy sy troon verlaat, hoewel Hy ten volle waardig is om op daardie troon te sit en te heers, om sy Vader se plan te gehoorsaam deur na die aarde te kom, te dien en vir sondaars soos ons te sterf.
‘n Deel van nederigheid kom na vore wanneer ons erken dat God veel meer kan doen as wat ons ooit kan dink. In plaas daarvan om die een te wees wat sy goddelike werk verrig, volg ons getrou in gehoorsaamheid aan sy roeping, ongeag die oënskynlike eenvoud van die taak. Ons kan vertrou dat Hy werk en beweeg op kragtige maniere om te bereik wat slegs Hy kan, sodat Hy alleen die eer kry.
Soms word ek ontmoedig deur die feit dat die Here my elke paar maande daarop moet wys dat ek alweer trots in my hart laat groei het. Dit is ‘n sonde waarmee ons almal worstel. In hierdie oomblikke van stryd en versoeking moet ons ons oë van onsself afhaal en hulle oplig na die Koning van die Hemel. Terwyl ons ons fokus na Hom en sy krag verskuif, sal ons vind dat ‘n houding van nederigheid een is wat ons ‘n ware doel gee – om die Allerhoogste te verheerlik.