Dankbare harte

Dankbare harte

Sara Lindsey

Soms dink ek daaraan om die dinge wat ek oor en oor vir my kinders sê op te neem, sodat ek dit net op herhaal kan speel. Dit sal die volgende insluit:

Het jy al jou tande geborsel?

Waar is jou skoene?

Wees vriendelik.

Wees dankbaar.

Dankbaarheid – dit is belangrik. Dankbaarheid is ’n daad van aanbidding (Psalm 50:23) en dit kan ’n daad van gehoorsaamheid ook wees (1 Tessalonisense 5:18).

Dankbaarheid is vir my fassinerend, want dit is so ’n wisselwerking tussen ons harte en ons koppe. Somtyds is dit ’n onmiddelike natuurlike reaksie en somtyds ’n bewuste keuse.

Ons teks vandag, Psalm 107, sit uiteen hoe mense herhaaldelik tot die Here geroep het in hul nood en hoe God hulle verlos het. Dit is ’n lied van danksegging. Die Psalm herhaal:

“Hulle moet die Here loof vir sy troue wonderdade wat Hy aan mense doen.” – Psalm 107:21

Ons sien dit weer in Psalm 100:4-5:

“Gaan sy poorte binne met dankliedere,

sy tempel met lofsange,

dank Hom, prys sy Naam,

want die Here is goed,

aan sy liefde is daar geen einde nie,

sy trou duur van geslag tot geslag.”

Om dankbaar te wees is natuurlik wanneer alles vlot verloop in die wêreld, wanneer dinge uitwerk soos ek verwag of hoop, of wanneer ek emosioneel op ’n bergtop is.

Maar in ’n vallei van die lewe kan dit vreemd en vals voel om “Dankie” te sê. Dankie vir die dood? ’n Werksverlies? ‘n Buite-egtelike verhouding? ‘n Gebroke hart? Nee. Ons kan nie maak asof ons in daardie oomblikke verstaan hoekom nie. Ons kan nie sien hoe ons geloof deur die stryd verfyn kan word nie, en dit voel kunsmatig en afgeleef om te sê dit werk alles saam vir ons beswil. Vir die dae wat my hart seer is, moet ek terugkeer na die basiese dinge. Soms is dankbaarheid meer ’n daad van gehoorsaamheid as begeerte.

Ek het vandag wakker geword, so ek sal daar begin: “Dankie God, dat U aan die begin lewe in my geblaas het en dankie vir nog ’n dag.”

Selfs op die moeilike dae, in die donker, in die onbekende – is God daar. Ons kan kies om dankbaar te wees:

  • vir sy teenwoordigheid en sy belofte om ons nooit te verlaat nie.
  • vir ons direkte toegang tot Hom deur gebed
  • vir ons ewige verlossing gekoop deur Christus se kruisdood.

Weet jy wat anders is interessant (en bemoedigend) omtrent dankbaarheid? Dit is iets wat ons kan oefen, en dit is iets waarop ons kan verbeter. Kom ons bly lank genoeg stil om God in die besonderhede raak te sien, om die wonderbaarlike in die alledaagse te vind en om ons dank te erken. Dankbaarheid verwek dankbaarheid.

Ons bedank mense wanneer hulle vir ons ’n guns doen of ’n diens lewer. Waarom sou ons iets minder doen vir die Een wat ons geskep het?

“Dit is die dag wat die Here gemaak het;

laat ons daaroor juig en bly wees.” – Psalm 118:24

Dankbaarheid is ons enigste gepaste reaksie vir God se oorvloedige genade en barmhartigheid in ons lewens. Kom ons wees doelgerig om dankbare harte te hê en te kweek.

Week 2 Uitdaging:

Fokus hierdie week op 1 Tessalonisense 5:16–18. Hoe kan jy altyd bly wees? Wat beteken dit om gedurig te bid? Is jy bereid om in alle omstandighede dankbaar te wees, selfs in swaarkry en teleurstelling? Besin oor wat God jou leer.

Week 2 Leesplan:

Week 2 Memoriseervers:

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse