Christus Vervul die Wet

Christus Vervul die Wet

Deur Crystal / 1 Desember 2020 / Ewige Verbond

Vandag se Skriflesing wat as die Bergrede bekend staan, kom uit Matteus 5. Jesus se openbare bediening begin nou en Hy berei sy dissipels voor op watter maniere hulle hul van die skrifgeleerdes, Fariseërs en heidene moes onderskei. In verse 1-12 fokus Jesus op die dissipels se karakter (die Saligsprekinge), hulle invloed in verse 13-16 (sout en lig), en hulle geregtigheid in verse 17-48 (regte verhouding met God en korrekte optrede).

Jesus wys dadelik daarop dat Hy nie gekom het om die Wet ongedaan te maak nie, maar om dit te vervul. Trouens, Hy herhaal dit twee keer in vers 17 om sy punt tuis te bring:

“Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete ongeldig te maak nie. Ek het nie gekom om hulle ongeldig te maak nie, maar om hulle hulle volle betekenis te laat kry.”  Matteus 5:17

Het dit jou al ooit opgeval wanneer jy ‘n boek lees (veral nie-fiksie), dat die skrywer klaarblyklik sy sleutelpunte telkens oor verskeie hoofstukke herhaal? Herhaling is ‘n literêre hulpmiddel om lesers daarop attent te maak dat iets belangriks binnekort gesê gaan word. Dis soos ‘n literêre flitsende pyltjie wat sê: “Let op! Hierdie is belangrik! Hou die merker gereed!”

Miskien het jy al ondervind dat ‘n besonder treffende annbiddingslied in jou kop bly maal en dan wonder jy waarom die lirieke so maklik is om te onthou. Herhaling in lirieke help selfs nie-musikale luisteraars om daaraan gewoond te raak sodat die lied makliker in ons geheues vasgelê kan word.

Met my agtergrond van bemarking en kommunikasie is ek maar alte bewus daarvan dat herhaling ‘n sleutel is ten opsigte van bewusmaking. ‘n Mens moet dieselfde boodskap sewe keer hoor of sien voordat ons dit kan onthou (en in ons besige, lawaaierige wêreld kan dit selfs meer kere wees). As jy ‘n boodskap oor iets wil oorbring wat jou gehoor benodig (‘n boek, jou onderneming, jou nuwe kursus, ‘n boekklub wat jy begin), moet jy beplan om daaroor te praat totdat jy self moeg is om daarvan te hoor – eers dan kan jy verwag dat jou gehoor UITEINDELIK begin aandag gee.

Jesus wou seker maak dat daar geen misverstand is wat hierdie punt betref nie: Hy was nie daar om die Wet af te skaf nie, maar om dit te vervul. Layman se Kommentaar op die Nuwe Testament wys daarop dat die woord wat met “vervul” vertaal word die volgende betekenisse kan hê: om te bereik, uit te voer, te voltooi, na te kom, te voldoen aan, klaar te maak, om te beëindig, te bekragtig, te bevestig, te vestig, te handhaaf of onderhou, of om die beoogde betekenis uit te bring. Jesus het in sy lering die bedoelde betekenis van die wet verder verduidelik toe Hy vir sy dissipels die dieper dinge, die grondliggende kwessies waaroor die Wet eintlik gehandel het, aangespreek het; die Fariseërs en ander godsdienstige leiers het dit egter misgekyk.

Jesus is die verbond-vervuller, nie ‘n belofte-verbreker nie. Hy is al Een wat ooit bedoel was om die beloftes wat God gemaak het, te volvoer, na te kom, te voldoen aan, klaar te maak, te bekragtig, te bevestig en te onderhou. Ons lees verder in hoofstuk 5 dat Jesus vir sy toehoorders gesê het (twee keer) dat Hy nie gekom het om die wet af te skaf nie, maar dat die hemel en aarde eerder sal vergaan voordat Hy die kleinste punktuasiestrepie van die Wet sal verwyder.

Jesus het nie net gekom om die Wet te vervul nie, maar om dit presies te doen soos wat God van die heel begin af bestem het. Ek en jy kan rus in die wete dat God sy beloftes volmaak nakom.

Crystal

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse