By Sy Voete
Ebos Aifuobhokhan
“In daardie tyd het Jesus uitgegaan na die berg toe om te bid en die hele nag deurgebring in gebed tot God.” – Lukas 6:12
Ek het Jesus lief en sy menswees terwyl Hy op die aarde was, maak my nog liewer vir Hom. Hy was volledig God en volledig mens. En dié feite maak my hart so bly en my Christelike wandel makliker. Jesus kon enige ander soort lewe gekies het om te lei. Sy lewe wys egter vir my hoe ek in innige gemeenskap met God kan leef en hoe ek soos Jesus kan wees; ‘n ware volgeling van God. Niks anders verskaf vir my soveel vreugde nie.
Jesus het voor sonde te staan gekom en Hy het nie geswig nie, daarom kan ek met sonde gekonfronteer word en nie swig nie. Daar was mense, selfs sy familie wat Hom misverstaan het, en Hy het hulle nie afgesny nie. In plaas daarvan, het Hy hulle liefgehad en alles wat Hy kon vir hulle gedoen. As ek volgens Jesus se voorbeeld leef, kan ek ook met moeilike mense oor die weg kom en hulle na verlossing wys. Jesus het ‘n dief en verraaier as dissipel gehad. Hy het geweet Judas sou Hom verraai. Maar Hy het steeds saam met hom geleef en gewandel. Hy het nie sy goddelikheid gebruik om Judas dood te maak nie, Hy het almal wat na aan Hom gekom het liefgehad. Diegene wat dit verdien het én dié wat dit nie verdien het nie. Om die waarheid te sê, sondaars was Jesus se vriende.
Jesus het ons gewys dat dit moontlik is om mens te wees, met die ergste gekonfronteer te word, en steeds te kies om ons lewens so te leef dat God daardeur verheerlik word.
In ons verse vandag ruim Jesus tyd in om te gaan bid. Hy het teen die berg op gegaan en heelnag met sy Vader gepraat. Ek wonder wat hy vir sy Vader gesê het. Hoe was hulle gesprek? Jesus is God, en tog het Hy steeds gebid. Toe Jesus klaar gebid het, het Hy sy dissipels gekies en een van die duidelikste preke oor hoe om vir God te leef, gelewer.
Jesus het hier op aarde oorleef deur in noue gemeenskap met die Vader te wees. Deur sy voorbeeld leer ons dat as ons in hierdie wêreld wil oorleef, ons ook moet bid en in noue gemeenskap met die Vader moet wees. Jesus was nie bo gebed verhewe nie, en ons is ook nie. Jesus het met die Vader gepraat voordat Hy sy dissipels gekies het, en wys daardeur vir ons dat ons met God moet praat voordat ons besluite neem. Hy het nie net voort gegaan en gemaak soos Hy wil nie. Hy het die Vader se soewereiniteit oor Hom erken.
Ek wens ek kon elke dag van my lewe so wees, en dit nie op my eie waag nie, maar tot die Vader bid vir leiding. Jesus het en ek behoort dit ook te doen. Ons almal wat onsself volgelinge van God noem, behoort Jesus se nederigheid in sy optrede teenoor die Vader na te volg.
Soos jy vandag se verse lees, vra God om ‘n begeerte in jou hart te laat posvat om soos Jesus te wees. Hy was nederig genoeg om te besef Hy het die Vader nodig en het uit sy pad gegaan om tyd in gebed deur te bring en daardeur sy behoefte aan die Vader te erken.
Mag ons altyd by God se voete bly, ongeag hoe lank ons al gelowiges mag wees. Mag ons nooit so “groot word” dat ons die probleme van die lewe aanpak sonder om Hom te raadpleeg nie.
Liefde,