Bou Op Deur Liefde
Ebos Aifuobhokhan
Die mense het kindertjies na Hom toe gebring dat Hy hulle die hande moet oplê en vir hulle moet bid. Sy dissipels het met hulle daaroor geraas. Maar Jesus het gesê: “Laat staan die kindertjies en moet hulle nie verhinder om na My toe te kom nie, want die koninkryk van die hemel is juis vir mense soos hulle.”
Weë van die Wêreld
Ons leef vandag in ‘n wêreld wat lyk asof dit vir ons voorskryf hoe ons ons kinders moet grootmaak. Die manier wat die wêreld sê die beste is, is nie die weg van God se Woord nie, maar meestal een wat uitloop op vernietiging. Soos die dissipels se optrede, staan ons wêreld ‘n moenie-inmeng-benadering voor of om streng beheer uit te oefen op alles wat hulle doen. Ons hoor dinge soos “Moet tog nie die kinders met ingewikkelde sake belas nie,“ of “laat hulle self besluit wie hulle wil word,“ of “ondersteun hulle in wat hulle ook al kies om te wees.“ Die wêreld dink nie ons kinders het Jesus nodig nie, derhalwe word hulle na alles behalwe God toe gelei.
Jesus se Liefdevolle Aanraking
Waarom die dissipels met die ouers geraas het, weet ons nie. Miskien het hulle gedink kinders is onbelangrik of ‘n vermorsing van tyd van Jesus se “ernstige“ bediening. Wat die rede ook al was, Jesus wou hê die kindertjies moes na Hom toe kom. Hy was nie te besig vir hulle nie. Hy het nie gedink hulle is onbelangrik nie. Nee! Hy het geweet hulle het Hom nodig. Hulle het die aanraking van hulle Verlosser nodig gehad. Hulle het sy invloed in hulle lewens nodig gehad. Jesus het geweet dat kinders die blywende teenwoordigheid en aanraking nodig het van die Een wat hulle beter as enigiemand anders ken. Hy het geweet wat die liefdevolle en versorgende hande van iemand wat jou liefhet vir ‘n persoon kan doen. Hy het geweet watter diepgaande indruk ‘n godvresende ouer, onderwyser, ouma, tannie op die lewe van ‘n kind kan laat.
Ons hemelse Vader het Jesus nie uit die hemel gewerp of in ‘n grot gehou om deur engele gevoed en versorg te word nie. Nee! Hy het Hom in ‘n huis geplaas waar liefdevolle hande Hom kon help vorm vir die lewe waarvoor Hy aarde toe gekom het. God het die belangrikheid van hande vol genade en liefde so goed geken dat Hy sy Seun in ‘n huis geplaas het.
Jou Liefdevolle Aanraking
Liewe mamma, ouma, tannie of juffrou, julle hande is bedoel om die volgende geslag te seën en op te voed om die lewe te lei waarvoor God hulle gemaak het. Jou hande is gemaak om diegene om jou op te bou deur hulle na Christus te wys. Spreuke 14:1 sê: “‘n Wyse vrou sorg vir haar huis; ‘n vrou sonder wysheid breek alles af.” Die hande is ‘n simbool van gesag, vermoë, krag en bekwaamheid. Laat ons hande opvoed, vertroos, liefde betoon, nie net teenoor ons kinders nie, maar ook teenoor andere om ons.
Bou Kinders Op
By Love God Greatly glo ons so sterk in die krag van liefdevolle hande dat ons Kinderjoernale geskep het om saam met die volwasse studies te gaan. Deur ‘n manier te voorsien waarop kinders God se Woord kan bestudeer, reik ons met liefdevolle hande na hulle uit. Ek woon in Nigerië. Baie jare gelede het ek twee kopieë van “Groei Deur Gebed: Kinderjoernaal” ontvang. Ek het hierdie boeke aan twee kinders in die kerk gegee, en dit is onbeskryflik watter oorweldigende seëning dit vir daardie lieflike meisies was.
Ek moedig elke vrou wat hierdie blogplasing lees aan om God te vra vir wysheid oor waar en hoe jou hande liefde kan bewys, nie net aan jou eie of bloedverwante se kinders nie, maar aan elke kind na wie toe die Here jou lei.
Soos wat die wêreld verander, het ons ‘n volgende geslag nodig wat God ken. Is jou hande beskikbaar vir God om die volgende geslag te vorm?
Dierbare Here, salf ons hande en maak hulle liefdevol, soos Christus s’n, om die volgende geslag vir U te beïnvloed. Amen.
God seën jou.
Week 3 Uitdaging:
Doen elke dag hierdie week ‘n doelbewuste daad van goedgunstigheid, hetsy binne jou gesin of in jou breër gemeenskap. Dit kan so eenvoudig wees soos om ‘n bemoedigende nota te skryf, ‘n buurman te help of ‘n gunsteling maaltyd vir jou gesin voor te berei. Dink na oor hoe hierdie liefdesdade jou verhoudings en welstand beïnvloed.
Week 3 Leesplan:
Week 3 Memoriseervers: