Beskerming Teen Ongeloof

Beskerming Teen Ongeloof

Deur Angela / 12 Oktober 2020 / Jesus, Ons Alles

Broers, julle moet toesien dat daar nooit by een van julle ‘n verkeerde gesindheid van ongeloof ontstaan en hy van die lewende God afvallig word nie.  Maar solank daar nog ‘n “vandag” is, moet julle mekaar elke dag aanspoor sodat niemand van julle deur die misleiding van die sonde verhard word nie. Ons behou deel aan Christus as ons end-uit volhard in die vertroue waarmee ons begin het.  – Hebreërs 3:12-14

As jy my Bybel sou oopmaak, sou jy kon sien wat ek by die verse van vandag geskryf het: “Ek bid dat my kinders se harte altyd sag sal wees teenoor God.” Ek het jare lank hierdie gebed vir my dogters gebid wanneer ek hulle snags in die bed gesit het, sowel as wanneer ek persoonlik vir elkeen van hulle gebid het.

Dit is nou die tyd dat ons hierdie gebed nie net vir ons eie kinders moet bid nie, maar vir almal se kinders, van ‘n dag oud tot honderd jaar oud. Dit is ‘n gebed wat gebid moet word vir elkeen van ons wat nog die seën van ‘n volgende dag het.

Dit is belangrik om die agtergrond van hierdie gedeelte te verstaan om te kan sien hoe dit vandag op ons van toepassing is. Die volk Israel het hulle land van slawerny in Egipte op wonderbaarlike wyse verlaat en na hul langverwagte beloofde land geloop. God het sy volk verlos en ongelooflike wonderwerke voor hulle oë gedoen. God het die Jordaanrivier vir Israel geskei sodat hulle op droë grond kon loop. Hy het hulle gered van die Egiptiese leër wat vinnig besig was om hulle in te haal om hulle dood te maak. God het voor hulle uitgegaan as ‘n wolk bedags en vuur in die nag. Sy manna het daagliks uit die lug geval om hulle te voed. God het in al hul behoeftes voorsien en tog…

“Israel het dit alles gesien en daarby baat gevind, maar die ervaring het hulle nie nader aan God gebring of hulle meer op Hom laat vertrou nie. Alles wat God vir hulle gedoen het, het hulle nogtans nie geestelik bevoordeel nie. In werklikheid het net die teenoorgestelde plaasgevind: hulle het hul harte teen God verhard! Hulle het God op die proef gestel en Hy het hulle nie in die steek gelaat nie, maar tog het hulle Hom gefaal.” – Warren Wiersbe

Ons kan in die versoeking kom om van die mislukking van die Israeliete te lees en te dink “Hoe op aarde sou hierdie mense so iets kon doen? Kyk na alles wat God vir hulle gedoen het? Hoe kon hulle twyfel dat Hy nie sou voortgaan om hulle te beskerm nie?”  En tog loop ons die gevaar om presies dieselfde te doen. God was nog altyd goed vir elkeen van ons. Hy het ook al wonderwerke in ons lewens gedoen en tog bly ons in die versoeking om te twyfel oor sy goedheid, sy liefde en sy voorsiening. Ek weet, ek doen dit.

Ek is ‘n hedendaagse Israeliet. God voorsien steeds in my behoeftes en beantwoord my gebede, maar nogtans bly ek in die versoeking om te vrees wanneer Hy my roep om die “Jordaanrivier” in my lewe oor te steek. Ek voel baie keer tevrede om in my “Egipte”, my land van slawerny, te bly, want dit is wat ek ken.

Ons is nie bedoel vir ‘n land van slawerny nie, maar vir ‘n land van vryheid.

Hoe kan ons daarteen waak om ons harte te verhard en net nog ‘n hardvogtige geslag van God se kinders te word, wat nie bereid is om oor te loop na Kanaän toe nie, uit vrees vir wat ons mag teëkom, terwyl ons God se beloftes en sy getrouheid deur die jare vergeet?

  1. Ons veg teen versoekings van ongeloof.
  2. Ons maak tyd vir gemeenskap met ander gelowiges.
  3. Ons bemoedig mekaar in ons geloof.
  4. Ons memoriseer God se beloftes en glo sy Woord.
  5. Ons bly bewus van die bedrieglikheid van sonde.
  6. Ons bly baie lief vir mekaar.

Vriendinne, dit is nou die tyd om aan God se beloftes vas te hou. Dit is nou die tyd om aan ‘n wêreld wat ons fyn dophou te wys dat ons nie vrees nie, maar eerder met vrymoedigheid na vore tree in die geloof, wetend dat ons God met ons is. Hy het in die verlede sy getrouheid getoon en Hy sal in die hede en die toekoms steeds getrou bly. Hy is met ons. Mag ons van die Israeliete leer en nie dieselfde foute as hulle maak nie. Mag ons ons harte bewaar van die sonde van ongeloof en moedig ons toekoms instap met die wete dat God aan ons kant is.

Hê God Groots Lief!

Week 2 Uitdaging:

Hebreërs 4:16 herinner ons daaraan dat ons God met vertroue kan nader, omdat Hy altyd wag om ons met genade op genade tegemoet te kom. Verbind jou daartoe om hierdie week elke dag vyf minute buite jou normale gebedstyd te spandeer om God se troon te nader soos jy ‘n koning of ‘n president sou nader. Stel jou versoeke met dieselfde ootmoed en verwagting aan Hom en erken dat Hy die enigste Een is wat werklik aan jou behoeftes kan voorsien. Skryf neer die maniere waarop God jou pleidooi beantwoord het.

Week 2 Leesplan:

Week 2 Memoriseervers:

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse