Bemoediging Wat Vir Ewig Duur
Grace Ann Hopkins
God se Liefde Deur Ouers
Ek het grootgeword met die gevoel dat God my liefhet omdat ek my ouers se liefde gevoel het. Ek het dalk nie mooi verstaan hoe teologie werk nie, maar ek het God se liefde diep in my hart gevoel as gevolg van my ma en pa se liefde vir my. My ouers se eerste bediening en prioriteit was nog altyd hulle gesin, en ek en my susters is die begunstigdes daarvan.
As gesin het ons elke dag saam ontbyt en aandete genuttig. As ons nie moes skool bywoon nie, sou ons middagete ook saamgeëet het. Hierdie maaltye was vol stories, dikwels met gelag, en altyd met gebed en aanmoediging. My ouers het hierdie tyd benut om ons elkeen afsonderlik aan te moedig maar die belangrikste soort aanmoediging wat hulle vir ons gegee het, het direk uit die Woord van God gekom. Ek onthou hoe my ma en pa albei die Bybel by die kombuistafel oopgemaak en die Skrif hardop vir ons gelees het. Ek het dit nie toe besef nie, maar hierdie oomblikke het my met die waarheid toegerus—die swaard van die Gees—en om my swaard vir die stryd te slyp (Ef. 6:17).
God se Woord is die Hoogste Aanmoediging
Ek het geleer die doeltreffendste manier om jou kinders aan te moedig is om die Woord van God oor hulle te spreek. Daar is niks kragtiger as om die Woord van God in sy volle rykdom in jou huis te laat bly nie. Maar voordat die Woord in jou huis kan bly, moet dit eers in jou hart bly.
Ek lees baie graag Hebreërs 10:19-23. Ons haal dikwels verse 24-25 aan en probeer dit onmiddellik op ons lewens toepas, maar vergeet dan hoe so ‘n toepassing moontlik gemaak word. Voordat ons die krag en bandwydte bymekaar kan probeer skraap om ander in Christus te aan te moedig, moet ons eers deur Christus aangemoedig word.
Deur Christus Aangemoedig
Ons moet daaraan herinner word dat ons deur Christus, die Woord van God self, die vrymoedigheid het om God se troonkamer binne te gaan. Dit is omdat Jesus se bloed diegene wat hulle geloof in Hom plaas, bedek. Ons moet deur Christus self herinner word dat Hy die Weg na God is en nie ons goeie werke nie. Ons sonde maak ons nie ongeskik nie, en ons goeie werke maak ons ook nie geskik nie, aangesien ons deur sy bloed verlos is.
Ons moet daaraan herinner word dat ons deur Christus self volle versekering het van sy bestaan, offerande en redding. Ons is volkome deur Hom gereinig en gewas. Dan, en slegs dan, sal ons ons kinders (of toekomstige kinders) kan aanmoedig met die waarheid wat hulle lewenskoers sal verander.
Jou volgende stap is eenvoudig. Lees die Woord. Laat dit in sy volle rykdom in jou bly. Gaan die troonkamer van die HERE binne. Word deur Hom liefgehê. Word deur Hom gereinig. Moedig dan jou kinders aan om dit ook te doen.
So dankbaar as wat ek is vir die ouers wat ek het, is dit nie hul woorde wat ek onthou wanneer ek bekommerd of bang is nie. Ek onthou die Woord van God wat vir my sê dat ek nie ‘n gees van vreesagtigheid ontvang het nie, maar van krag, liefde en selfbeheersing (2 Tim. 1:7). As ma word jy God se ambassadeur—een wat sy Woord oor die kosbare lewens wat aan jou toevertrou is, verklaar. God se Woord, en niemand anders s’n nie, moedig vir ewig aan (Jes. 40:8).