Beloofde Hoop

Die Uitdaging om te Wag

Hoe vaar jy daarmee om te wag? Ek moet erken ek hou glad nie daarvan om te wag nie! God is nog ver van klaar om my geduld en vertroue te leer. Ek is dankbaar vir sy geduld en genade!

Ons hedendaagse samelewing en kultuur help ons beslis ook nie om op hierdie gebied te ontwikkel nie. Ons leef in ‘n tyd waar daar verwag word dat alles onmiddellik moet gebeur. Deur middel van die internet het ons oombliklik toegang tot alle soorte inligting wêreldwyd. Ons het ‘aflewering die volgende dag’ wanneer ons aanlyn koop, ‘n deurry by ‘n restaurant, en kitsfoto’s op ons slimfone wat ons maklik kan dokter.

Geen wonder dan, dat dit so moeilik is om te wag nie. Om op die Here te wag, kan ‘n uitdaging en ‘n toets wees. Ons wag vir God om sy beloftes te vervul, om gebede te verhoor, vir genesing, verlossing, ‘n deurbraak of herstel. As dit alreeds so moeilik is om vir hierdie dinge te wag, wat nog te sê van 400 jaar!

Dit is waar God se volk aan die begin van die Nuwe Testament was. Hulle het die beloftes van die komende Messias wat deur die verbondhoudende God gemaak en dwarsdeur die Ou Testament verweef was, geken en geglo. Maar dit was al lank vandat die beloftes gemaak is. Wat dit nog moeiliker gemaak het, is dat God in hierdie wagtyd nie ‘n enkele woord gesê nie.

Hoop in die Wagtyd

Ek wonder, liewe vriendin, of jy jou vandag in ‘n soortgelyke situasie bevind? Wagtend dat God sy plan bekend sal maak, dat die versugting van jou hart beantwoord sal word, of dat sy beloftes aan jou vervul sal word. Wees daarvan verseker, dit kom dalk voor of God stil is, maar Hy is nooit afwesig nie. Hy is nou by jou in hierdie moeilike tyd en terwyl jy wag, vertrou, hoop, en bid.

Hy het jou nie aan jouself oorgelaat om genoeg krag bymekaar te skraap of self dinge uit te pluis nie. Hy het jou sy Woord en sy Gees gegee. Die Heilige Gees help jou om die vrug van geduld te ontwikkel om te wag en te glo dat Hy alles wat Hy in sy Woord sê, sal doen, terwyl sy Woord die anker van die waarheid van God se onveranderlike karakter voorsien.

Aan die einde van die Ou Testament het God deur die profeet Maleagi, die boodskapper, met sy volk gepraat. Net soos in die geval van die ander profetiese boeke wat ons bestudeer het, was God se volk ongelowig, ongehoorsaam en opstandig, en het hulle hul eie kop gevolg en God se waarheid weerstaan. ‘n God wat praat, vereis ‘n volk wat luister, maar hulle ore was bottoe en hulle harte kliphard.

Ten spyte van mense se tekortkominge sien ons ‘n God wat liefdevol, goedhartig, getrou, geduldig, vergewensgesind, barmhartig en regverdig is. Hy hou altyd sy verbondsbeloftes aan sy volk, selfs al verlaat hulle Hom.

Dit geld vandag nog. Dit is hoe ons God is! Ongeag wat ons gedoen het, Hy bly getrou. Hy is  onveranderlik, en al sy beloftes aan ons is ‘Ja en Amen’, vervul in Jesus.

Die Resultaat van Wag

Aan die einde van Maleagi se boodskap in die Ou Testament, sluit hy af deur ons voor te stel aan iemand van wie die evangelieskrywer Matteus ons verder sal vertel. Hy skryf van ‘n ander boodskapper van God, Johannes die Doper, van wie voorspel is dat hy die voorloper sou wees wat na Jesus, die beloofde Messias sou heenwys.

“’Ek gaan nou my boodskapper stuur, Hy sal die pad voor My uit regmaak, en dan sal die Here na wie julle soek, skielik na sy tempel toe kom. Ja, die Verbondsengel na wie julle met soveel vreugde uitsien, gaan nou kom, sê die Here die Almagtige. . Onverwags sal hy na sy tempel kom, die heer na wie julle soek, die boodskapper” Maleagi 3:1

Wat ‘n manier om die Ou Testament af te sluit! Al sou God nie meer deur die profete met sy volk praat nie, is God se verlossingsplan nog nie verby nie. Hoop was nog op pad. Johannes die Doper sou ‘n magtige profeet wees wat deur God gebruik sou word. Maar bowenal sou sy koms beteken dat die Verlosser binnekort sou kom.

Prys God, want Jesus het gekom! Hy het die vereistes van die Ou Verbond kom vervul. Hy het deur sy dood aan die kruis die straf vir die sonde betaal, en Hy het triomfantlik uit die dood opgestaan sodat ons die Nuwe Genadeverbond kan binnegaan en volkome vergifnis en die gawe van volle verlossing kan beleef.

Alhoewel sy volk vir ‘n skynbaar baie lang tyd moes wag, het God sy Woord gehou. Hy is getrou aan al sy beloftes om ‘n verlosser te stuur om sy volk te red. .

Daarom kan ons vandag vol moed wees. God is aan die werk, al kan ons dit nie sien nie en lyk dit of sy soewereine plan vir ons verborge is. Ons kan op sy beloftes vertrou en hoop en op die wete van sy getrouheid en standvastige liefde vir ons, sy mense, staatmaak.

Die beloftes hou nie op met Jesus se eerste koms nie. Ons weet uit die beloftes in sy Woord dat Jesus weer gaan kom. Ons lewe in die lig van die hoop op sy wederkoms. Hierdie versekering help ons om vas te staan en ons oë op Hom te hou terwyl ons wag.

Intussen bou ons ons lewens op sy Woord, wat ons toerus om vir Hom te leef en verander te word om soos Jesus te wees.

Volhard in die moeilike tye in die wete dat God met jou is.

Terwyl jy wag, word deur die beloftes in God se Woord bemoedig.

Bly vasstaan in die hoop, want God is betroubaar.

Staan vas, liewe vriendin,

 

 

 

 

 

Katie

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

Word in Kennis Gestel Wanneer Nuwe Blogs Verskyn

Mees Onlangse Blogs