Belofte van ‘n Nageslag

Belofte van ‘n Nageslag

Deur Ebos / 25 November 2020 / Ewige Verbond

Vir my is Abraham een van die grootste vaders van die geloof! Nie oor wat hy gedoen het nie, maar omdat hy geglo het dat God vir hom ‘n nageslag sou gee, soveel soos die sterre in die hemel, en dít terwyl hy nie ‘n kind gehad het nie. Hoe kon hy ‘n God glo wat hy nie vantevore geken het nie? Hoe kon hy glo dat God hom ‘n nageslag, soveel as die sterre in die hemel, sou gee, terwyl hy geen kind gehad het nie? Hoe?

Hoe glo jy God wanneer niks, absoluut niks rondom jou, vir jou ‘n aanduiding gee van wat

Hy belowe het nie? Hoe glo jy God vir duisende as jy nie eens tiene het nie?

Kom ons gaan kyk na Genesis 15:4:

“Maar die woord van die Here het tot Abram gekom: ‘Daardie een sal nie jou erfgenaam wees nie. Een wat jou eie nasaat is, hy sal jou erfgenaam wees.”

Daar is niks, absoluut niks, wat jy op jou eie kan doen om dít wat God vir jou belowe het, te laat gebeur nie. Jy kan Hom net glo, soos Abraham gedoen het en daagliks kies om in gehoorsaamheid aan Hom te lewe. Alles wat Hy nodig het om sy beloftes aan jou te vervul, is binne sy mag, want “niks is vir God onmoontlik nie.” (Lukas 1:37).

Net soos Abraham in Genesis 15:6, hoef jy Hom net te glo. Selfs wanneer jy dit nie sien nie, selfs wanneer niks rondom jou soos dit lyk nie, selfs wanneer mense jou spot oor jou geloof of jou vervolg, selfs wanneer jy voel dat jy God wil help, glo Hom. Wanneer jy glo, word God verheerlik! Jy eer Hom as jy jou vertroue in Hom plaas en op Hom, en Hom alleen wag.

“Abram het toe in die Here geglo, en die Here het dit goedgevind dat Abram so volgens die wil van die Here gehandel het.”

— Genesis 15:6

Die hele Bybel is ‘n ongelooflike vervulling van God se belofte van ‘n nageslag. Vandag is Abraham se nageslag talryk, ontelbaar. Hoe weet ons dit? Galasiërs 3:15-18 vertel ons dat hierdie verbond vervul was in Christus en dat almal wat in God glo, nakomelinge van Abraham is.

Dit is wonderbaar! God vervul Sy verbonde. Hy het meer as genoeg krag om dit te doen. Dit is nie jou werk om dit te vervul nie, dit is net jou werk om te glo. Soos die jaar na ‘n einde toe snel, weet ek dat jy dink aan onbeantwoorde gebede, dinge wat nog gedoen moet word. In plaas daarvan, glo eerder soos Abraham! Jy is geseënd wanneer jy glo. (Lukas 1:45).

Dierbare Here, dankie dat U so magtig is dat U doen wat U sê. Dankie vir u beloftes aan my. Ek glo, help my asseblief in my ongeloof. Hou asseblief daagliks my hand soos ek U vertrou vir die vervulling van alles wat U oor my lewe en my familie gesê het. In Jesus se naam, amen.

Ebos

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse