Watter sonde in jou lewe het jou daarvan weerhou om God se stem te hoor? Om heeltemal eerlik te wees, ek wou nie oor ‘n huidige sondestryd in my lewe skryf nie, maar terwyl ek hier sit en met God kommunikeer, het ek gevoel hoe Hy my aanspoor om oor die vrees vir mense te skryf.
Vandat ek ‘n klein dogtertjie was, het ek geworstel met die strewe na die goedkeuring van ander mense. Op laerskool het ek my gedra soos onderwysers wou hê, sodat ek as die perfekte student gesien sou word. Op hoërskool het ek aan groepsdruk toegegee omdat ek wou hê die gewilde kinders moet my as hul vriend aanvaar. Nou in my laat twintigs is dit aanloklik om myself aan ander mense se opinies te heg om hulle te laat voel ek is aan hulle kant, al is ek nie.
In die afgelope paar maande het God my daarvan oortuig dat ek eerder mense vrees as om Hom te vrees. Ek kan duidelik sien hoe my hart van God afgewyk het en ander gode aanbid het, in plaas van Hom (Deuteronomium 30:17). Ek glo soms het die vrees vir mense my daarvan weerhou om God se stem te hoor. My gedagtes kan so besig wees met wat ander van my dink dat ek God se waarhede oor my vergeet. Wat waar is, is dat ek God se dogter is (1 Johannes 3:1), gekoop met ‘n prys (1 Korintiërs 6:20), vergewe en vry van sonde (1 Johannes 1:9), wat oorvloedig saam met Hom lewe (Johannes 10:10). Vir my is dit van kardinale belang om myself aan hierdie waarhede te herinner wanneer ek deur sonde oortuig voel, sodat ek nie in skaamte sit nie.
Soek Bekering
Wat ná oortuiging van sonde kom, is bekering. In Deuteronomium 30 roep God die Israeliete om van waardelose afgode af te draai en op Hom te vertrou. ‘n Eenvoudige manier waarop ek oor bekering dink, is om van sonde af te draai en op God te vertrou. Ongelukkig het die Israeliete met bekering bly worstel. Alhoewel sommige na Hom teruggekeer het as hulle een ware God, het baie van hulle dit nie gedoen nie. Ek glo een rede waarom God vir ons die verhaal van die Israeliete gegee het, is ‘n waarskuwingsteken om anders te lewe as wat hulle geleef het.
Wat is jy vandag bereid om van te bekeer? Is daar ‘n sondestryd waarvan God jou oortuig dat jy aan Hom moet oorgee? Is daar iets waaroor iemand jou in die verlede vermaan het wat jy verontagsaam het? Weerspieël jou lewe Christus aan diegene rondom jou, of leef jy vir jouself? Wat God ook al op die oomblik op jou hart druk, leun daarin. Hy verwelkom jou met ope arms. As jy Jesus ken, is jy reeds vry van al jou vorige, huidige en toekomstige sondes, maar die skoonheid van bekering is om meer van God se liefdevolle genade te ervaar. Wanneer ons kies om in gehoorsaamheid aan sy opdragte te lewe, ervaar ons vryheid (Galasiërs 5:1).
Ervaar Herstel
Na bekering kom herstel. In Christus verander ons stand met God nie wanneer ons sondig nie. Ons is en sal altyd God se kinders wees wat die ewigheid saam met Hom sal deurbring as ons in Jesus vertrou en geglo het (Romeine 10:9-10). God is egter voortdurend besig om gelowiges gelykvormig te maak na die beeld van sy Seun wanneer ons, ons vlees doodmaak en lewe in die Gees (Romeine 8:13). Ons kry groter intimiteit met ons Hemelse Vader wanneer ons die dinge van hierdie wêreld uitstel en volgens sy Woord leef. Klink dit nie na iets wat jy wil hê nie?
Sedert ek oortuig is van die vrees vir mense het ek my van my sonde bekeer en na God gewend. Alhoewel die versoeking steeds werklik is, herinner God my voortdurend daaraan dat die lewe saam met Hom beter is as die goedkeuring van ander. Ek weet dat God se Gees daagliks in my hart werk om my na die beeld van Christus te verander. O, watter vreugde! Vriend, oorweeg hoe jy vandag bekering en herstel kan soek. Kies om anders te lewe as die Israeliete. Kies die oorvloedige lewe saam met jou Vader wat altyd gereed en gewillig is om jou by die huis te verwelkom.
Jayci
Week 1 Uitdaging:
Sit hierdie week tyd opsy om alleen deur te bring. Gebruik daardie tyd om God te loof vir wie Hy is, om areas van sonde te bely, Hom te vra om te werk in verskillende areas van jou lewe en om te bid vir diegene wat Hy op jou hart plaas.
Week 1 Leesplan:
Week 1 Memoriseervers: