Worstel Met God

Worstel Met God

Brittany Salmon

Ek kan onthou hoe ek in die Sondagskool gesit het toe ek die eerste keer die storie gehoor het van Jakob wat met God stoei. Ek was verward oor die idee van ‘n man wat met die Almagtige God stoei en ek was nog meer verward oor die doel van die storie. Waarom het God met Jakob gestoei? Waarom het Jakob nie opgehou nie? Waarom op aarde het God vir Jakob ‘n mank heup gegee? En die lys van vrae waarmee ek my onderwyser gepeper het, het aangehou en aangehou.

En tog, soos ek ouer geword het, het hierdie storie een geword waarna ek sou teruggaan en troos vind. Deur die jare, soos ek die gedeelte gelees en herlees het, sou verskillende dinge van die storie vir my uitstaan in verskeie seisoene. Om mee te begin, ek hou daarvan dat God afgekom het en met ‘n persoon gestoei het. Sy fisiese teenwoordigheid is ‘n rariteit dwarsdeur die Ou Testament en die feit dat Hy naby Jakob gekom het, met hom gestoei het en hom geseën het, is ‘n diepgaande weldaad.

Nog iets waarvan ek hou in hierdie storie, is dat God vir Jakob gevra het: “Wat is jou naam?” asof Hy nie geweet het nie. Maar natuurlik, God het geweet! Dit laat my dink aan hoe Jesus dikwels aan sy dissipels en die Fariseërs vrae gevra het, nie omdat Jesus nuuskierig was nie, maar omdat Hy wou hê dat hulle iets belangriks moes verstaan. God het Jakob sy naam gevra en toe het Hy vir hom ‘n nuwe naam gegee, nie omdat die Almagtige God nie geweet het met wie Hy stoei nie, maar omdat Hy Jakob gehelp het om sy identiteit as ‘n seun van God te verstaan!

(Soos ek gesê het, ek is mal oor hierdie storie.)

Maar daar was een seisoen in my lewe vol hartseer en verlies en hierdie Skrifgedeelte het ‘n diep impak op die trajek van my reis gehad. In ‘n toestand van teleurstelling en verwarring het ek myself bevind waar ek Genesis 32 vanuit  ‘n ander oogpunt gelees het – met insig waar ek kon insien en verstaan waarom ek sonder om op te gee, met die Here worstel. Ek was op ’n plek waar ek Jakob se desperaatheid verstaan toe hy uitgeroep het: “Ek sal jou net los as jy my seën.” (Genesis 32:26).

Ek onthou daardie aand nadat ek Genesis 32 gelees en gebid het, “God, ek weet dat U goed en heilig is en dat U eindelik tot my beswil en tot u eer is. Maar ek verstaan nie my huidige omstandighede nie. Ek kan nie my gedagtes om dit draai nie en ek worstel met die realiteite van lewe in ‘n gevalle wêreld. En so, Vader, sal ek aanhou worstel totdat U my seën. Dit hoef nie te lyk soos ek dink ‘n seën moet wees nie, maar ek laat U nie los voordat U my laat los nie.”

En, soos Jakob, het ek met God geworstel. Nie vir ‘n nag nie en nie op ‘n fisiese manier nie, maar vir ‘n seisoen sou ek die deure van die hemel afbreek en God vra om te genees wat in my hart gebreek was. Ek wou nie materiële seëninge hê nie; Ek wou die seën hê om verlos te word, versoen te word en heel gemaak te word.

Met verloop van tyd het God op wonderbaarlike maniere in my hart gewerk.

Maande het verbygegaan en eendag het ek wakker geword en besef dat ja, my lewe was in stukke, maar God het stadigaan weer iets moois aanmekaargesit. Jare later, selfs nou, alhoewel ek kan sien dat Hy my oorvloedig geseën het meer as waarvoor ek ooit kon hoop, loop ek steeds mank. Die wonde wat die lewe gebring het mag dalk genees wees, maar dit het ook hul merke gelaat.

Ek het met God geworstel en Hy het my geroep gehoor. Hy het nie vir my alles gegee waarvoor ek gevra het nie, maar Hy het die gebroke dele van my storie genees. Dwarsdeur my worsteling het ek gevind dat wat die Skrif oor die karakter van God sê, waar is: Hy is ‘n God wat eer gee in plaas van smart, vreugde in plaas van droefheid, blydskap in plaas van hartseer. (Jesaja 61:3).

Wanneer ek nou Genesis 32:22–28 lees, glimlag ek dikwels. Want in hierdie gedeelte sien ons ‘n man wat werklik met God gestoei het – fisies – en hy het die omstandighede geseënd, en  mank, agtergelaat.

En dieselfde is waar in my eie lewe.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Verwante Bybelstudie

KRY BLOG-UPDATES

Mees onlangse